Soetslaapkos
Eet sleg, slaap sleg. Volgens Amerikaanse navorsing eet diegene met die gesondste slaappatrone ook die grootste verskeidenheid kos. Dís die eerste stap. En tweedens moet jy jou bord laai met proteïenkosse wat ryk is aan die aminosuur triptofaan, wat die slaaphormoon melatonien stimuleer – kos soos suiwel, neute, sade, hoender en kalkoen. Kombineer dit met rys, pasta of aartappels (stysel) en jou brein kry ’n serotonien-skop, wat jou sommer lekker laat slaap. Serotonien word immers die goedvoel-hormoon genoem. En hier is ’n paar bestanddele wat ons in resepte gebruik om jou te help insluimer.
Slaapvriendelike voedingstowwe
Okkerneute is ’n goeie bron van triptofaan. Die neut bevat boonop sy eie bron van melatonien, wat jou vinniger aan die slaap sal sus.
Alle suiwel kan jou slaperig maak, nie net melk nie. Kalsium (in onder meer kaas en jogurt) help die liggaam om die triptofaan in die suiwel te gebruik om slaap-sevriend, melatonien, te vervaardig. Kalsium laat ook jou stywe spiere ontspan.
Vis (soos tuna en salm) bevat, afgesien van triptofaan, ook baie vitamien B6, wat nodig is om melatonien te vervaardig.
Wit rys het ’n hoë glukemiese indeks (jou bloedsuikervlakke styg dus vinnig). Dit maak jou vaak – dalk omdat hoë-GIkosse die vlakke van triptofaan en serotonien stimuleer, toon Australiese navorsers. Jasmynrys doen veral die ding, volgens ’n Amerikaanse studie.
Kekerertjies is nog ’n goeie bron van triptofaan. Ook foliensuur, wat slaap reguleer, vitamien B6 en magnesium. >