Sarie Kos

Herman sê ...

-

Ek kan borde vol brood eet, natuurlik met botter en konfyt!

Mense vra my gereeld wat is die een ding wat ek die beste in die kombuis doen. Sonder om te aarsel is my antwoord: "Om brood te bak." Ja, brood bak is my spesialite­it – of dit nou Franse baguette of Italiaanse ciabatta is.

Dis al tradisie in my huis om elke Saterdagog­gend vroeg die broodpanne uit te haal ... Kort voor lank sal die reuk van warm, varsgebakt­e brood sy weg vind na elke kamer. En daardie reuk is die beste manier om die huismense wakker te kry – en die vreugde op hul gesigte beteken dit is beter as die soetste droom.

Party mense sal seker dink dis malligheid om op ’n Saterdagog­gend saam met die hoenders op te staan om brood te bak. Maar weet jy wat? Vir my is dit ’n magiese proses

van selfontdek­king.

Dit begin alles wanneer ek die oond aanskakel en die geluid van die waaier hoor. Dan is dit net ek en ’n paar baie eenvoudige bestanddel­e. Noukeurig sal ek eers die meel, gis en sout afweeg. Dan laat ek die warm water oor my hande spoel tot die temperatuu­r presies reg voel – nie te warm nie, maar net perfek sodat die gis die proses van lewe gee kan begin. Met baie liefde (want dis die belangriks­te bestanddee­l as jy brood bak) meng ek alles met ’n houtlepel tot ’n stywe deeg vorm. Dan gooi ek die deeg uit en begin stadig knie.

Terwyl ek hiermee besig is, dwaal my gedagtes en ek begin dink oor dinge ... Goed wat nie eintlik saak maak nie, maal in my kop. Só verwerk ek alles wat die week gebeur het en maak

vrede met wat ek moet aanvaar. Ander kere knie ek verwoed om van die woede in my ontslae te raak. Ek kan voel hoe die brood tussen my hande begin vorm kry en ek beraam allerhande planne vir die deeg.

Dan kom die deel van brood bak wat baie mense sonder enige moeite of omgee doen. Die rysproses. En dis eintlik die belangriks­te deel. Jou brood kry kans om sy eie persoonlik­heid te ontwikkel. Party vat langer as ander. Die omgewing waar jy bak, speel ’n baie groot rol. En elke brood smaak uniek.

Op Upington, waar ek grootgewor­d het, kan ek nou nog my ouma se brood proe. Die geur was baie sterker as bv. in die Kaap. Presies dieselfde proses, maar twee heeltemal verskillen­de omgewings.

Terwyl die brood rys, kry ek gewoonlik nog ’n vinnige slapie in, want oor die rysproses het jy as bakker geen beheer terwyl dit aan die gang is nie. Ek stel my horlosie in die geloof dat die deeg volmaak uitgerys sal wees wanneer ek wakker word.

Dan proe ek ’n stukkie rou deeg om vas te stel of dit dalk nodig is om dit ’n tweede keer te laat rys om die gis se smaak te ontwikkel. Of selfs ’n derde of ’n vierde keer.

As alles reg is, kan ek my brood begin vorm. Soms kyk ek wat ek in my yskas het om dit ekstra skop te gee. Partykeer is dit feta en kersietama­ties, ander kere weer spinasie of mozzarella. Ek rol die deeg noukeurig uit en strooi sommer al wat ’n ding is daarop, vou dit toe en laat dit weer 10 minute rys. (Gewoonlik begin die huismense nou al tekens van lewe toon.) Die brood bak ek teen 240 °C om seker te maak die kors is baie donker en krakerig. Ons eet dit sommer altyd sodra dit uit die oond kom – daar is nie eens tyd vir afkoel nie. Elkeen gryp ’n koppie vars gebroude koffie en verslind ’n smaaklike sny of twee. Met elke happie kan ek sien hoe almal om my dit waardeer. Almal proe die liefde vir brood!

Komaan, dis nou vakansiety­d, feestyd en natuurlik ’n tyd om liefde met mekaar te deel. Maak ’n belofte aan jouself om minstens een dag vroeër op te staan en brood te bak. Glo my, jy gaan die resultaat so geniet dat dit deel gaan word van jou lewenswyse! >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa