Soet potbrood
BAK MET OORNAGGIS
(bl. 22) Waar ek vandaan kom, is dié brood gereeld gemaak, sommer met winkeldeeg. Ek vat die Noord-Kaapse inspirasie en sit ’n
tikkie finesse by.
genoeg vir 1 brood
GISMENGSEL – 24 UUR VOOR BAK 140 g (250 ml) koekmeel 250 ml water 1 x 10 g-sakkie kitsgis 5 ml vanieljegeursel Meng alles en laat oornag in yskas fermenteer (minstens 8 uur).
BROOD 500 g (890 ml) koekmeel 1 x 10 g-sakkie kitsgis 10 g sout 100 g (125 ml) suiker 300 ml louwarm water 200 g (250 ml) ligte bruinsuiker 250 ml room Plaas oornag-gismengsel in bak van elektriese menger met deeghaak saam met koekmeel, gis, sout en suiker. Skakel menger aan op medium-spoed en gooi water geleidelik by tot sagte, kniebare deeg vorm. Verhoog spoed en knie 10-15 minute of tot deeg glad en elasties is. Plaas in skoon bak wat goed gesmeer is met olie – die bak moet 3 keer groter as die deegbal wees. Maak toe met kleefplastiek en laat op warm plek fermenteer tot dubbel die volume. Herhaal proses nog twee keer. Ná die derde rysproses, keer deeg uit op meelbestrooide werkvlak en verdeel in 24 stukke. Rol in netjiese ronde balle. Spuit 30 cm-patroonpan (Bundt-pan met volume van 2 liter) goed met kleefwerende kossproei. Rol elke deegbal in bruinsuiker en pak balletjies stewig op mekaar tot pan gevul is. Gooi room oor en laat fermenteer op warm plek tot dubbel die volume. Verhit oond tot 180 °C. Bak brood 40-45 minute of tot gaar. Laat effens afkoel en keer uit op opdienbord – daar is karamelsous onderin die pan wat bo-oor brood sal uitloop. Sit louwarm voor.