Tafelstories
"Nee dankie,” laat weet my pa sy drie kinders op die agtersitplek. “Dis die antwoord as iemand vir julle kos aanbied. Dis ’n toets. Jul oupa se grootste vrees is vet kleinkinders. Dít en die dood.”
“Maar sê nou ons is honger?” vra die middelsussie (wat ’n groeifase beleef).
“Dan bid jy stilletjies, my kind.” sê my
deur ma en begin ’n laaste ronde handsakProvitas uitdeel.
Dit was ’n lang rit vir drie kinders in krapperige kerkklere, maar so honger soos wat ons was ná kerk, die Sondagskool-oom (wat op skei staan) se passievolle preek oor egbreuk, die reis Langkloof toe met ’n Best of Shania- CD en Nagmaalbrood vir ontbyt, só honger was Ouma en Oupa vir geselskap. En as nuus hul brood was, was skindernuus ongetwyfeld hul koningskos …
“Ek is bekommerd,” kondig Oupa uiteindelik by die etenstafel aan. “Daai Marinda-kind …” My ouers vries – vurke halfpad op pad mond toe – en deel ’n bekommerde kyk: Dis presies waarvoor hulle bang was. Ons niggie Marinda se voorhuwelikse swangerskap was steeds aan my oupa onbekend – ’n familiekomplot om die ouman (en Marinda!) uit die graf te hou. “Die kind se klere span iets vreesliks die laaste ruk …”
“Nog vleis vir Ouma se groot seun?” maak Ouma van my ’n medepligtige. Alle oë is skielik op my – my pa s’n rek dreigend vir my oor ’n uitstalling van knoffelbrood en veldblomme. Ek skud my kop: “Nee dankie.” My ma blaas ooglopend af van verligting.
As kind – in ’n tyd vóór sosiale media of Whatsappgroepe – was die etenstafel die tyd en plek waar al die skinderstories, sondes, verwyte, skuldgevoelens, jaloesie, woede oor geleende tupperware wat nooit terugbesorg is nie, vergelykings tussen kleinkinders se vermoëns om balle te vang en ander onnodige, onaangename kwessies bespreek is. Die kos gaan in en die stories kom uit: Terapie vir mense wat nie terapie kan bekostig nie.
Familie-etes was gelykstaande aan weke van opgehoopte sosiale media, alles in een sitting.
“Eet glo iets vreesliks deesdae, dié Marinda …” hou Oupa vol, toenemend agterdogtig. Die tafel deel ’n uitdrukking: “Ek weet niks,” sê ek voorbehoedelik. “Wees eerlik,” ploeg Oupa voort. “Is’ie kind op die pa—?”
“Patats, iemand?” keer Ouma (nie haar eerste rodeo nie) en verander die onderwerp teen die spoed van lig. “My skoonsuster—” “Die oujongnooi—” voeg Oupa by. “… het mos so vreeslik water op die knieë.” “Nooit die regte man gevind nie—” “Nooit.” “Oë te naby aan mekaar—” “Alewig in kompetisie met my bakvernuf.”
“Haar koeke is droog, Anna. Kurkdroog!”
“Ja, ek weet! En die vrou gaan staan toe mos wraggies die ander dag en neem haar koek af en stuur vir my ’n kiekie daarvan! Watse sielsiek narsis doen só iets? En die ding lyk sommer droog, Attie. Jy kan dit sién!”
“Maar daai Marinda-kind …” begin Oupa weer – ’n haai wat bloed geruik het. “Nog altyd meer wild as waaksaam, sy …” Dan, met ’n kyk in sy oë wat hy gewoonlik gereserveer het vir stories oor die dood en die mol wat sy radyse vreet, kyk hy vir elkeen van ons. “Daai kind is swanger.”
“Ek weet niks,” sê ek, wat eintlik maar waar was, want op nege jaar was ek steeds oortuig ’n engelekoor sing babas in mammas se mae in.
“Nog boontjies, iemand?” vra Ouma. My sussie begin onderlangs in ’n fluisterstem bid. Twee uur, ’n gebakte kalkoen, twee braaihoenders, gerookte fisant, iets wat soos spitpou lyk, die somtotaal van Oupa se groentetuin en ’n bak tweeliter-reënboogroomys later, en die storm kom uiteindelik tot bedaring (met ’n laaste “erf niks by my nie!”).
Wanneer Ouma ’n bak tameletjie omstuur (ietsie taais om die monde stil te hou), is dit uiteindelik tyd vir groet – die skinder waarvoor daar nie tyd was nie, sal moet oorstaan tot ’n volgende keer. “Iets vir die pad?” vra Ouma, ’n tupperware gereed. “Nee dankie, Ouma!” sing ons drie kinders in ’n flou koor. “Ek weet niks …” voeg ek maar veiligheidshalwe by en maak of ek slaap. Shania Twain sê sy voel soos ’n vrou en ek, wel, ek wonder watse tipe grootmens ek gaan wees.
Twintig jaar later, as iemand vir my nog ’n skeppie kos aanbied, dan sê ek liewer “nee dankie", want vir oorgewigkinders óf die dood het ek nie nóú krag of eetlus nie.
“You have successfully logged off.”