DIS IN JOU KOP
Skokonthulling – ons “proe” nie met ons tong nie! Of liewer, nie nét met ons tong nie. Die smaakproses begin met reuk, gevolg deur molekulêre seine wat vanaf die smaakknoppies via die nasale lugwegopening hoog in die keel na die brein gevoer word. Smaakseine word deur spesifieke areas in die brein geïdentifiseer, wat vir die “aha, dit smaak só”-oomblik sorg.
Hier is ’n eenvoudige toets: Plaas ’n knippie suiker of Bovril enige plek op jou tong. Moenie asemhaal nie en druk die nasale lugweë bo in jou keel toe. Die tong registreer tekstuur en gewig op sy oppervlak, maar tot jy lug inasem, proe jy niks nie. Bloot die aroma van lekker kos is genoeg om jou mond te laat water. Waar die brein aromas via die neusgate as afkomstig van die neus registreer, registreer dit aromas deur die keel as afkomstig van die mond. “Proe” bestaan grootliks uit aromas wat na breinreseptore beweeg, en daarom is reuk so onontbeerlik deel van smaak.
En dit bevestig uiteindelik my vermoede! Jy móét wyn sluk om behoorlik te kan proe. Dit verklaar die slurpende, lugsuigaksie wat gesoute wynproewers maak as hulle nie wil sluk nie – hulle probeer soveel moontlik geurseine by die breinreseptore kry.
Van sigaretrook tot verkoue, medikasie of ’n gebreekte neus kan jou smaaksintuig aantas.