Proe die Karoo
As jy bang is vir eet, bly weg. Want as Suzanne Venter van Montagu inskep, skep sy groot!
Stap jy die plek binne, kan jy jou perde se sagte gerunnik, die reuk van hul hooiasem verbeel. Eenkant lê ’n blink gepoetste saal en teen die mure is stiebeuels en ’n stang. Die vloer is van growwe plaveisel.
Die Stal, heet dit, want in 1849 se dae het dit perde gehuisves. Deesdae is dit ’n restaurant op die plaas Kruis, naby Montagu, waar drie belangrike paaie toeka ontmoet het. Toe Suzanne Venter in 2003 besluit om die eetplek op die gesinsplaas oop te maak, is dit gerestoureer en ’n stoep aangebou.
Op die einste koel stoep, omsoom deur bougainvillea en wingerdrank, kan jy met ’n glas yskoue wyn teen die Klein-Karoo se bytende son skuil. “Uiteet op ’n plaas was vyftien jaar gelede nog ’n vreemde ding. Dis suksesvol, want die plaaslike mense is goed,” vertel Suzanne in haar aanvallige bry-stem.
Binnekant, omring deur familieportrette uit verskillende eras, is ook ’n geraamde sertifikaat. Volgens die verbleikte ink in 1916 toegeken aan Agnus Sophia Barbara Botha deur die Departement van Openbare Onderwys.
Suzanne se grootouma, daai, en dit was vir ’n kookkursus. Ouma Ernestine de Wet sou later ook ’n koskwalifikasie in Kaapstad verwerf. Nes ma Corniel
daarna. En uiteindelik Suzanne self, in voedseldiensbestuur aan Bolandkollege op Stellenbosch. “Dis in die gene. My pa, Pierre, was net so lief vir kosmaak. My ma en pa het graag saamgekook en ek moes dan my hande uit die potte hou. Die Karoo-mense is mos lief vir kos, wyn, die hele toetie. Een reël: Jy mag nie in ’n ander man se kospot krap nie.
“Og, dit was ’n groot gekuier in daardie kombuis. Die musiek was aan en ons het om die kombuistafel gedans. Vrydagaand het die familie om die kombuistafel vergader, met altyd plek vir nog een.”
Die Venters spits hulle hoofsaaklik toe op droëvrugte vir die uitvoerbedryf, die plaas synde die eerste in Montagu wat sitrus aangeplant het.
Suzanne het ná haar studies twee jaar in Skotland gewerk. Eers as leerlingsjef in die Crieff Hydro-hotel in die gelyknamige dorpie, later as hoofsjef: ontbyt. Daarna sjef in The Domerestaurant in Georgestraat, Edinburgh. Sy onthou veral die vars salm. En die haggis met kapokaartappels en ertjies op tradisionele troues, ’n gereg van skaaphart, -lewer en -longe in skaapmaag gaargemaak. “Ek was mal oor Skotland. Net, dis warm voor die stoof, maar andersins te koud en ek het huis toe gekom.
“My pa het gesê ek moet uit sy sak klim en my eie ding doen. Ek trek Kaap toe, slaap twee aande by my suster Nelia (nou Bester). Toe probeer iemand my kar steel en ek gaan huis toe, terug onder my pa se vlerk.”
Pieter, haar broer, bly in die oorspronklike Kaaps-Hollandse plaashuis, wat uit 1859 dateer. Toe haar pa in 2002 sterf, laat bou haar ma ’n huis binne stapafstand daarvandaan. Suzanne het ook haar eie plek: Haar motorhuis was Montagu se eerste skooltjie, haar huis destyds die skoolhoof s’n.
“Daar is nie ’n TV of radio nie, my selfoon die enigste tegnologie. Dis my keuse, ek is saans moeg van die gejaag. Ek onthaal een of twee keer per week, kook graag konfyt en lê van die kontrei se vrugte in. Ek doen ook pottebakkery. My huis is op die mooiste plek op Montagu, rondom my is net berge.
“Ek is lief vir die omgewing, dis maar waar ek grootgeraak het. Ek hou nie van die druk en geraas van vandag se lewe nie. Hier is dit net rustig, dis fantasties om saans by die huis te kom en net te chill. Die restaurant is besig, ons fokus hoofsaaklik op die plaaslike gemeenskap. Dit knaag nou met die droogte, die boere kry swaar, maar ons is vol hoop.” >
Sy kook nie boerekos nie, die vroue moet maar self pampoenkoekies by die huis maak, sê sy. Maar baie kos, dís vir seker. “Die boere wil een gereg hê, nie drie nie. Die geheim is om hulle genoeg te gee, dis een van die redes waarom hulle terugkom.
“Braai is my gunsteling-manier van kosmaak. As ek kon, het ek als gebraai, tot die slaai! Ons eet nou nie juis slaai hier nie. Ek maak graag vingerhappies vir restaurant-geleenthede en troues, maar ordentlike vingergoeters. Sosaties, gebraaide skaapstertjies wat ek warm voorsit, die vuur word daar voor die gaste aangesteek. Wors is ook my ding. En ja, knoffel. Daarsonder kan ek nie kook nie.”
Karoo-lamsblad met stowevrugte en amandels
Suzanne maak bekende geure, maar op nuwe, anderste maniere. Rafelvleis ( pulled) is mos hoogmode, en sy bring dit terug Karoo toe met roosterkoek pleks van eksotiese platbrode. Sit dit voor met gestoofde droëvrugte uit Montagu en jou gaste gaan jou tafel nooit verlaat nie! genoeg vir 8
2 uie, grofgesny 30 ml koljandersade 15 ml komynsaad 60 ml olyfolie 4 knoffelhuisies 1 hand vol pietersielie gerasperde skil van 1 suurlemoen 15 ml kitskoffie 10 ml sout 1 lemoen, in kwarte gesny (met skil aan) 1 ui, in kwarte gesny 1,5 kg lamsblad, op die been
STOWEVRUGTE 1 kg droë nektariens 2 heel ster-anyspeule 1 x 750 ml-bottel Muskadel
VIR VOORSIT 250 ml goeiegehalte-mayonnaise 3 knoffelhuisies, fyngerasper 100 g gevlokte amandels, gerooster in warm pan tot bruin 8 roosterkoeke
Verhit oond tot 220 °C. Plaas al die bestanddele behalwe die lemoen, uikwarte en lamsblad in voedselverwerker. Verpulp by hoë spoed tot glad. Pak lemoen en uikwarte in oondbraaibak en plaas lamsblad met vetkant na bo bo-op. Skep verpulpte mengsel oor lamsblad en maak seker dis heeltemal bedek. Maak pan toe en plaas in oond vir 30 minute. Verlaag temperatuur tot 130 °C en oondbraai lam nog 4-5 uur of tot dit murgsag is en van die been wegtrek. Terwyl lam oondbraai, stowe die vrugte: Week nektariens en ster-anys 1 uur in Muskadel. Gooi in pot en stowe stadig oor lae hitte tot vrugte sag is. Soos Suzanne sê: Dis ’n gevoelsaak!
SIT SÓ VOOR: Meng mayonnaise en knoffel. Plaas warm lamsblad op opdienbord en trek in rafels uitmekaar met ’n vurk. Gooi potsous oor. Sprinkel amandels oor. Skep gestoofde droëvrugte in bak. Sit lam en vrugte voor met knoffelmayonnaise en warm roosterkoek.
Roosterkoek op dIe vuur.
“Haar kos is nuut, vars ... anders, maar steeds bekend. Jy proe die Karoo, en
span die kroon”
HERMAN