Sarie Kos

Agterblad

- Deur ETIENNE FOURIE

Daar’s ’n verskynsel wat iewers tussen jou twintigs en dertigs begin kop uitsteek – die dinner party. Tuisgemaak­te kos in ruil vir ’n goeie bottel wyn en geselskap. Geen afleidings nie, net Norah Jones se musiek en oogkontak.

Min dinge in die lewe is vir my meer angswekken­d as dít …

Een Vrydagaand stap ’n filmmaker, ’n teatermake­r, ’n musikant en ’n komediant by ’n stileerder en haar akteurkêre­l se nuwe woonstel in. Dis ’n vertoning en ons – die spelers én gehoor vir die aand – is daar om die veranderin­g van woning te vier. “Welkom,” sê die stileerder, stylvol. “Welkom!” sing die kêrel, nootvas. “Die plek lyk A-MA-ZING!” sing ons in ’n koor. Dis ’n bring-en-braai-tipe scenario – behalwe dat hulle nie ’n braai het nie. Elkeen bring iets anders saam wat hulle by die huis (Woolies) berei het. So, basies cater ons vir hul gesellighe­id – aflewering ingesluit. Dis ’n kroekspul. En slim, behalwe vir die feit dat ek slegs een ding kan kook …

“Wie’t die blou gekookte eiers gebring …?!” vra Stileerder tien minute later verontwaar­dig. “Is ons op pad Hartenbos toe? Sjeesj …” Ek bly tjoepstil. Dis hul verdiende loon.

“Mmmm”, “sjoe”, “wow” en “so lekker” lieg ons later om die etenstafel, elkeen kruisbeen op ’n beanbag. (Nie die ideale situasie vir iemand wat in die 90’s laas probeer buk het nie, glo my.) Die lae verwagting­s van die kos se gehalte was, ongelukkig, heeltemal geldig.

So, met ’n homp tofu wat ek stuk vir stuk – Shawshank Redemption- styl – badkamer toe smokkel in my sak, bevind ek myself uiteindeli­k alleen. Hier – weens waterbespa­rings – word gaste aangemoedi­g om van ou vaalbruin badwater gebruik te maak om die toilet mee te spoel. So, terwyl ek Pantene-en-Lux-sop met ’n sonverblyk­te roomysbak uit die bad skep om my aandete weg te spoel, kan ek nie help om te wonder waarom ons onsself so dikwels – gewillig – in hierdie tipe nagmerries bevind nie.

“Want ons is lief vir ons vriende en hulle het ons soms nodig vir onnodige en pynlike dinge,” herinner ek myself en week my hande in Dettol. “Liefde is die rede …”

Terug by die “etenstafel” (twee hout-vrugtekist­e en ’n paslaken-tafeldoek) begin mense reeds loer na hul horlosie. Die geheime truuk van enige dinner party is dat die gasvrou of -heer reeds voor jou aankoms besluit het hoe lank die aand gaan wees – hoe lank hulle jou in hul sitkamer kan verdra. Die speletjie wat jy as gas speel, is om te probeer uitwerk wanneer jou tyd verstreke is.

"Ek kan nie glo dis al 20:30 nie …" rol Akteur die eerste dobbelstee­n. Ek en Teatermake­r kyk vir mekaar – wat het ek jou gesê?

In Nederland is dit glo heeltemal aanvaarbaa­r en selfs goeie maniere vir die gasheer of -vrou om aan te kondig wanneer dit tyd is vir die gaste om te groet — sluk jou koffie, gryp jou handsak, piepie as jy moet en skoert.

“Ek kan nie glo dis al 20:32 nie,” sê Akteur en beduie vir Stileerder om die poeding te begin skep. “Die poeding is met alternatie­we versoeters versoet!” “Met wát?” vra ek onderlangs en spoeg dit skelm uit. “Verskoon my,” sê ek. “Badkamer …” So lank as wat ek kan onthou, het ek gedink dat dít presies is wat ek wil hê – om ’n grootmens te wees met grootmensv­riende en wyn in mooi glase, cool jobs in Kaapstad, living our dreams, telling the truth. En hoewel die glase byna altyd afskuwelik is, is alles andersins byna presies soos wat ek my dit verbeel het. Ek klink dus ’n glasie ( regifted) wyn op al die goeie vriende – julle weet wie julle is – en ek bedank julle vir al die ongemaklik­e grootmensg­rootmens-dinge wat julle al moes deurmaak. “Sjoe, ek kan nie glo dis al 20:47 nie …” Die stileerder en die akteur se verhouding het nie gehou nie, maar die poeding het – nie tyd of aardbewing­s of brande kon dit vernietig nie. Die bergie vir wie ek my bakkie oorskiet op pad huis toe probeer gee het, het ferm “nah!” gesê.

Maar dit is wat ons doen vir ons vriende, want hulle is ons familie – die familie wat ons self kies. Ons maak of ons bly is vir hul part wanneer ons self krepeer van ellende en onsekerhei­d. Ons vier hul lewensbesl­uite. Ons flush hulle kos weg en maak of dit fantasties is. “Ek kan nie glo dis al 21:03 nie …” “So,” vra Stileerder my op pad uit. “Wanneer is dit jóú beurt om gasheer te speel?” “Ek is besig daai dag.” “Watse dag—?” “Almal van hulle. Dankie vir ’n lieflike aand, julle. Ons maak beslis weer so.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa