Sarie Kos

Tafelstori­es

- deur ETIENNE FOURIE

Geluk met jou verjaardag!” sing Retief een sonnige Januarieog­gend in 2019 vir my. “En hier – jou present . . .”

“Whaaat?!” Dit was twee vliegkaart­jies Europa toe – eenrigting. Skotland, Engeland, Holland en Duitsland. Dit was die beste geskenk wat ek nog gekry het.

“Wag ’n bietjie,” sê ek en sit regop in die bed. “Wat?” vra hy, die beeld van onskuld. “So, jy koop die kaartjies daarheen . . .? Dis nie asof ek vir jou ’n potplant kan gee vir jóú verjaardag nie, is dit? Ek gaan die kaartjies terug moet koop.” Hy glimlag slinks – ek moes geweet het. So, ’n jaar en nog twee vliegkaart­jies (Berlyn – SA) later en ons bevind ons op ’n vlug na Edinburg. Sewentien vasgegorde­lde, skreeuende-babahoofpy­n-, my-bene-is-te-lank-vir- economy- ure later verskyn deur die wolke onder ons dié stad soos ’n lappieskom­bers wat uitgeskud word vir ’n piekniek. Dit was asof die beeld hiervan nie vinnig genoeg van my retinas na my brein kon reis nie, asof dit té veel informasie was om te verwerk. Dit was té mooi – en net die begin. Dit het gevoel asof ek my lewe lank op ’n lughawe gesit het – in limbo – en gewag het vir my vlug huis toe. ’n Vakansie het in ’n oogwink in ’n pelgrimsto­g ontaard.

Ná drie dae (en Harry Potter- merchandis­e ter waarde van twee maande se huur) in Edinburg huur ons ’n kar (“Are you sure we won’t need snow tyres, sir?”) en durf die kronkelpaa­ie noorde toe aan – al die pad Applecross toe, sowat duisend kilometer van Ysland af soos die kraai vlieg. En daar, op ’n plek só koud dat jy jou Zam-Buk soos biltong moet kerf en jou sokkies op onkonvensi­onele maniere moet inspan om verwarming aan ander liggaamsde­le ook te verleen, ervaar ek die eerste keer in my lewe ’n skoonheid wat spiritueel voel – die tipe mooi wat jy met meer as net jou oë besigtig. Ek skep water van Loch Ness in ’n flessie, pars immergroen blare versigtig tussen die bladsye van ’n boek, luister na die slosh-slosh-slosh van loch-golfies wat breek oor pikswart klippe – mooier as enige musiek – en kyk in verwonderi­ng hoe ’n trop takbokke stilletjie­s deur sneeubedek­te hooglande galop. “Sneeu,” kondig ek aan. “Ek soek meer sneeu.” Waarop Retief sy padkaart (een van daai wat oopvou) met mening uitpluk. “Nou maar toe . . .”

So, in ’n sneeustorm op ’n enkelbaanp­as op die naashoogst­e bergpiek in Skotland (geen reling tussen ons en die vallei ’n goeie honderd meter onder ons nie), vind ek die sneeu waarna ek gesmag het. Ek stop om foto’s te neem. Dit is byna onmoontlik – die sneeu, skielik vlymskerp, tref my gesig teen ’n pynlike spoed. Vir die kamera is alles spierwit. Die sagte versiersui­ker van Narnia was hierdie beslis nie . . .

“Dis magical . . .?” Ek kan die vraagteken aan die einde van my eie sin hoor terwyl ek terugklim in die kar.

“Ja,” sê Retief, sy oë groot en bekommerd.

Dit was met die wegtrek dat ons albei besef ons is in die moeilikhei­d – teen dertig kilometer per uur begin die kar skielik spoed verloor en gly agteruit . . . reguit afgrond toe. Vir ’n uur het ons die kar probeer omdraai. Ons het ’n paar keer totaal beheer verloor – ’n lae sneeubank al wat ons van ’n val na ons dood keer.

“Ons gaan nie op ’n berg in ’n vreemde land sterf nie . . .?” het ek myself hoor sê, die vraagteken duideliker as ooit.

“En die kar is nog wit ook!” snik Retief. “Niemand gaan ons in die sneeu vind nie . . .!” “Ek weier om ge-racheltjie-de-beer te word op hierdie berg!” Dit was eers twee Adele-albums (mens kan ten minste met mooi musiek in jou ore sterf) later dat ons gered is.

“Klrkoi houi hgu croo,” verduideli­k die enorme, bedonderde Skot wat tot ons redding gekom het. “Um,” begin ek versigtig. “Askies, oom?” “Klrkoi houi hgu croo!” “Bless you,” sê ek maar en loer verboueree­rd na Retief. Moray (vind ons later uit is sy naam) stoei daardie aand ’n Ford anderkant ’n sneeustorm uit. Later, voor ’n kaggel in die vissersdor­pie se enigste kroeg, herleef ons ons “near-death experience” saam met Moray, sy vrou, Marion, en ’n handjievol locals – die warmste mense wat ons seker al ooit teëgekom het.

“You were never going to die!” sê Moray – wie se aksent al hoe makliker begin raak het om te verstaan (moontlik iets te doen met die sesde ronde bier wat ons bestel het) – met ’n rol van sy oë. Ter viering van ons oorlewing bestel ons ook twee van elke ding op die spyskaart, die hoogtepunt ongetwyfel­d die scallops en Applecross Bay Prawns (of “langoustin­es”) – ’n tipe kreef wat heerlik is, ten spyte van die feit dat dit met jou oogkontak behou terwyl jy daaraan smul.

Nóg vyf stede en drie weke later bevind ons ons weer in die crèche-afdeling van ’n economy- vlug. Met die herinnerin­ge aan ’n magiese wêreld vars in my geheue is die vlug besonders onromantie­s. Die reuke aan boord is ’n vreemde kombinasie wat dae lank nog in jou klere – en jou drome – spook. En dan, voor jy jou oë uitvee, loer Tafelberg vir jou onderdeur ’n wolkkomber­s. Dis soos om in jou ouerhuis in te stap, want hoewel alles elke keer effens kleiner voel, die mure nader, die plafon ’n bietjie laer, is die gevoel van tuis-wees onmiskenba­ar.

Ek was bly om terug te wees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa