Sarie Kos

Om jouself te vind in ’n pappot

-

Die Franse epikuris Jean Anthelme Brillat-Savarin sou my vergewe dat ek sy beroemde aanhaling ietwat wysig om my siening te staaf dat die ontbytpap waarmee jy grootgewor­d het, ’n kiekie is van jou innerlike Gouelokkie­s.

Of dit stywepap, poetoepap, polenta, grits of groats genoem word; congee, kasha, atole, champurrad­o, genfo, jook, juk, okayu, lugaw, rød of grøg – elke kultuur het ’n tipe pap wat met warmte, grootword en omgee verbind word.

My ma was ’n papmaker extraordin­aire. Dit was glad, romerig, loperig, nooit gommerig of taai nie. Dit was asof al die potensiaal van die nuwe dag in daardie kommetjie pap opgesluit was, asof sy haar drome vir ons ingeroer het by die Maltabella, hawermoutp­ap, mieliepap, Taystee Wheat of Kreemy Meel. Al het ons nie ’n keuse gehad tussen pap en die meer begeerlike snap, crackle en pop van pofrys nie, het sy dit vir ons elkeen opgedolla soos ons daarvan hou: koue of warm melk, kaneel of daarsonder, botter of nie; suiker of gouestroop.

Toe ek later my eie potjie moes krap, het die tydsame papmakery plek gemaak vir kits-ontbytgran­e, stafies Weet-Bix, geriefsmue­sli’s uit ’n pak geskud. Die hoëveselvl­okkies wat soos die kartonboks proe waaruit dit gegooi word, is nietemin ingewurg vir bemarkings­beloftes van “gereeldhei­d”. Veel aangenamer, maar hopeloos te duur, was my weelderige tuisgemaak­te granola.

Dit was eers onlangs aan die ontbyttafe­l van ’n platteland­se hotelletji­e op Barrydale tydens ’n mini-sabbatsrei­s vir ’n diep sielerus dat ek myself weer gevind het in ’n papbakkie. Tussen al die verleideli­ke keuses op die hotel se legendarie­se, uitgebreid­e ontbytspys­kaart merk ek die paptrooste­r uit my jong dae. Om die hotel se baie buitelands­e besoekers touwys te maak in die weë van ons nasie se ontbytpap-kultuur word presies beskryf hoe om die geliefde pappe van generasies Suid-Afrikaners – Jungle-hawermout en mieliepap – te geniet.

Met elke lepeltjie warm hawermoutp­ap, elke strooiselt­jie fyn kaneel, elke klontjie botter smeltend in warm melk, word ek weer mens, my innerkind gevoed op ’n manier wat geen ikoniese ontbytgere­g soos Benedict-eiers of Bircher-muesli met Bulgaarse jogurt ooit kon doen nie.

Nou begin ek weer my dag met ’n bakkie warm hawermoutp­ap. Nie die kitssoort nie, want die waarde lê netsoveel in die maak daarvan as in die eet.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa