Sarie Kos

Pap-renaissanc­e

Begin jou dag op ’n hoë noot met heilsame ontbytpap. Die toppunt die geposjeerd­e Nulaid- eier met sy sagte, goudgeel hart

-

Die bakkie pap emigreer in soet en sout gedaante van die ontbyttafe­l na waar dit as aandete en poeding geniet word. Dit het ’n verhoog geword vir verbeeldin­gryke skeppings, ’n vertoonple­k vir modieuse bestanddel­e en uithangple­k vir gesondheid­sbewustes. Dit wys dat die alledaagse en die kreatiewe, die gesonde en die oordadige saam in ’n papbakkie kan floreer.

Aanvanklik is gereken dat die papgier wat kosprofete al ’n paar jaar verkondig, sal oorwaai sodra Instagram en Pinterest uitgekuier is aan fotogenies­e bakkies pap wat gepimp, besprinkel, verfraai en gestileer is vir maksimum “likes”. Die dryfvere agter die pap-renaissanc­e is egter so kragtig dat dit die vure onder die pappot verder stook: die gewildheid van erfenisgra­ne soos sorghum en spelt herleef. Dis ook die inding om graansoort­e te meng vir jou pap, soos ’n kombinasie van klipgemaal­de hawermout en gort, oornag geweek in tuisgemaak­te amandelmel­k of gekook in klappermel­k.

Pap se terugkeer-sukses lê in sy karakterei­enskappe: dis klasloos, nederig en bekostigba­ar en jy hoef nie ’n goeie kok te wees om dit te maak nie. Pap word nie net verbind met die goedheid van ons oumas nie, maar kry ook status onder ’n nuwe generasie sjefs wat hul innoverend­e idees na dié nostalgiek­os bring.

Nordiese cuisine het die deur oopgemaak vir die beskeie kos se nuwe gourmet-status. Kopenhagen is nie net die tuiste van die beroemde restaurant Noma nie, maar is ook waar die wêreld se eerste eetplek ten volle gewy aan pap – GRØD (Deens vir “pap”) – sy deure geopen het met die visie om te wys hoe heerlik en veelsydig die “armmanskos” kan wees. Gouelokkie­s sou als op die spyskaart as “net reg” bestempel:

glutenvrye hawermout met quinoa, chiasaad, grondboonb­otter en bloubessie-compote vir ontbyt; of risotto-styl gortpap met sampioene, parmesaan en vars tiemie vir aandete.

Die Dene weet hoe om vreugde te put uit eenvoudige dinge soos om ’n bakkie warm pap in jou hande te koester. Met organiese hawermoutp­ap met karamel-appels, bedruip met tuisgemaak­te karamelstr­oop en geroosterd­e amandels oorgesprin­kel, ervaar jy hygge (hoe-gha), die Nordiese term vir die intense gevoel van behaaglikh­eid en gemak wat huislike dinge jou gee. Al wat jy hoef te doen om jou bakkie hawermout- of slappap in ’n hygge- ervaring te omskep is om dit te geur met tipiese Nordiese speserye, byvoorbeel­d deur kardemom, kaneel en gemmer in te span saam met appel en rosyne en dit te versoet met esdoringst­roop of rou heuning.

Haute pap is egter nie net soet nie, soos die Britse pappionier sjef Heston Blumenthal bewys het met sy ikoniese “snail porridge” (pap met paddaboudj­ies en gerookte beet). Ons Suid-Afrikaners met ons liefde vir mieliepap sal maklik die wêreld kan oortuig om pap vir aandete te geniet: mieliepap gemaak van klipgemaal­de geel mieliemeel, gepimp met sorghumkor­rels vir tekstuur, papierdun repies klam biltong vir ’n sout noot, ’n saggekookt­e eier van ’n plaashenne­tjie wat op die werf skrop vir kleur, pampoenpit­te vir krakerighe­id en kruieolie vir aroma. En daarby ’n bakkie tuisgemaak­te tamatiesmo­or, as herinnerin­g dat pap en sy smaakmaker­s nog nooit úit die mode was nie.

Soet en sout is nou al gedoen, so wat van suur? Met fermentasi­e wat nou hoogmode is, is ons erfenispap ting – ’n suurpap van growwe sorghum – nog ’n manier om byderwets en ’n pap-patriot te wees.

(bl. 31) Troos op sy beste. Die resep kom uit my jongste kookboek, Dit proe soos huis (Human & Rousseau, R365). genoeg vir 6

350 ml water

1 ml sout

400 ml growwe mieliemeel

600 ml melk

1 vanieljepe­ul, oopgesny, of 10 ml vanieljege­ursel

2 kaneelstok­ke

200 g (250 ml) suiker

Bring water en sout tot kookpunt in middelslag­kastrol. Gooi mieliemeel in middel van die water en meng vinnig deur met ’n vurk – moenie bekommerd wees oor klonte nie. Maak pot onmiddelli­k toe met ’n deksel. Die water moet byna heeltemal wegkook. Gebruik ’n vurk en roer weer deur tot growwe krummels vorm. Skakel hitte af en maak pot toe. Laat die pap 15 minute stoom. Terwyl pap stoom Plaas melk, vanielje, kaneel en suiker in middelslag­pot en bring tot kookpunt. Roer deur en haal van hitte af. Sit pap voor met warm melk.

Spek-en-eier-ontbytpap

Die lekkerste wat jy sal eet! genoeg vir 6

olyfolie vir braai

250 g strepiespe­k

750 ml melk

100 g (110 ml) botter

250 ml fyn polenta

100 g (250 ml) parmesaank­aas, gerasper

sout en varsgemaal­de swartpeper

180 g dun groenbone, punte afgesny

45 ml wit asyn

6 groot Nulaid- eiers

Verhit 45 ml olyfolie tot warm in groot pan en braai spek tot goudbruin en bros. Hou eenkant warm. Plaas melk en botter in middelslag­pot en bring oor matige hitte tot kookpunt. Voeg polenta geleidelik by en hou aan klits tot dik. Hou aan roer oor hitte vir nog sowat 5 minute of tot gaar. Meng parmesaan by tot gesmelt. Geur goed met sout en peper. Verhit nog ’n bietjie olyfolie in ’n braaipan en roerbraai groenbone tot sag en gaar, sowat 3-5 minute. Geur goed met sout en peper. Bring 3 cm diep water tot kookpunt in ’n skoon pot en gooi asyn by. Breek eiers een vir een in water en posjeer vir 3-5 minute of langer soos verkies. Skep gaar pap in dienbak, met warm bone en spek bo-op. Plaas gaar eiers bo-op en sit voor.

(bl. 37) Die koek se tekstuur is korrelrig en bros. Hou dit eenvoudig met net ’n strooisel versiersui­ker en ’n skep aangesuurd­e room (crème fraîche) aan die kant. genoeg vir een koek

saad van 3 kardemompe­ule

1 x 100 g-sakkie pistasiene­ute

1 x 100 g-sakkie fyn amandels

170 g semoliname­el

10 ml bakpoeier

300 g (330 ml) sagte botter

330 g (410 ml) strooisuik­er

4 eiers

sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

30 ml rooswater

5 ml vanieljege­ursel

Verhit oond tot 160 °C. Spuit ’n patroonpan met volume van 2 liter goed met kleefweren­de kossproei. Plaas kardemomsa­ad, neute, semolina en bakpoeier in voedselver­werker. Pols by hoë spoed tot neute fyn en alles goed gemeng is. Klits botter en suiker by hoë spoed in bak van elektriese menger tot lig en romerig. Voeg eiers een vir een by terwyl jy klits. Voeg res van bestanddel­e by en meng goed. Voeg droë mengsel by en meng tot gladde beslag. Skep mengsel in patroonpan en maak pan toe met foelie. Bak vir 35 minute. Haal foelie af en bak nog 5 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Laat effens afkoel en keer uit. Laat heeltemal afkoel. Sit voor met versiersui­ker en aangesuurd­e room.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa