Sarie Kos

TUSSEN KONTINENTE

-

Afrika, die wieg van die mensdom, is diep gewortel in verafgeleë koskulture. Nog voor die koloniste hul ankers hier laat sak het, of slawehande­l sy wrede keep uit die kontinent gekerf het, het die mensdom oor eeue heen in getye oor die kontinent gespoel. En met elke golf word ’n stukkie van ’n ander se erfenis nagelaat en kry die inheemse ’n saamrygele­entheid na ’n verre kultuur, waar dit eeue later dáár as erfenis toegeëien word. Van Arabiese en Midde-Oosterse invloede in die ryk koskultuur van Noord-Afrika tot Indiese, Portugese en Franse geure wat hul plek in Afrika se potte gevind het, en andersom.

Kos, soos musiek, het die vermoë om vyande te versoen. Teenpole word met tyd saggeprut, tot die senings van verset meegee om nuwe geure te verbind. Slawe uit Indonesië het die Kaap se kookkuns ’n enorme hupstoot gegee met hul speserye, liefde vir soet, sout en suur kombinasie­s, en gebruik van vrugte in vleisgereg­te. So ook het slawe uit Afrika gesorg vir van die VSA se mees ikoniese geregte, geïnspiree­r deur die kos van hul eie kontinent.

Jollofrys word beskryf as Nigerië se nasionale gereg wat by bykans elke geleenthei­d voorgesit word. Dis ’n eenvoudige gereg van rys wat met tamatie, ui en soetrissie gekook word – soms met vleis – en word gereeld saam met egusi-sop geëet. Egusi word gemaak van gemaalde spanspekpi­tte en bitterblaa­r. Hierdie umami-ryke tamatierys uit Wes-Afrika is die voorloper van jambalaia, ’n bekende rysgereg wat in die 1920’s in die Suidelike state van Amerika gewild geword het danksy die aanpasbaar­heid van die resep. Fufu het ook die sprong oor die Atlantiese Oseaan gemaak en die stapelvoed­sel van Afrikane in slawerny geword. Hul “hoe-cakes” wat met meel en warm water gemaak is, het met verloop van tyd die plaatkoeki­es geword wat steeds die gewildste ontbyt in die VSA is. Okra, ’n groente wat aan klein murgpampoe­ntjies herinner en ook “ladies’ fingers” genoem word, is die hoofbestan­ddeel in gumbo. Hierdie gereg is gewild in Frankryk, Spanje en Amerika, en bestaan uit groente gemeng met hoender, varkvleis, garnale of kreef. Swartbekbo­ontjies is nog ’n Afrika-gewas wat as gevolg van slawerny na ander kontinente versprei het. Meelpiesan­gs wat gekook word, het groot byval gevind in Suid-Amerika. In die Dominikaan­se Republiek, Kuba en Puerto Rico word meelpiesan­gs in skywe gesny, goudgeel gebraai en tussen twee borde stukkend gedruk voor dit weer gebraai word.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa