Koolhidraat-koma
Selfs ek, ’n kranige nie-bakker, het in die eerste twee maande van die inperking een piesangbrood, ’n kruis tussen ’n Paasbolletjie en ’n Ierse sodabrood, twee melkkoeke (die liefdeskind van melktert en malvapoeding), twee pragtige brode wat soos suurdeeg lyk maar nie is nie, en ’n massiewe potbrood gebak. Dis ’n bysaak dat twee van hierdie baksels uit pakkies kom en dat my spoggerig-genoeg-vir-Instagram-“suurdeeg”-resep bemark word as “maklik genoeg vir ’n sesjarige om te maak”. Om bloot so baie te bak grens reeds vir my aan ’n gedragsteurnis.
Met alles wat in ons wêreld aangaan – of stilstaan – hoef jy nie ’n geriefseter te wees om na trooskos te hunker nie. Grendelfrustrasie kan jou dryf om jou kale vir koolhidrate te verruil. Plus, een mens se trooskos is ’n ander se gemorskos – en andersom. Studies in die VSA en Brittanje toon dat bevrore pizza en pasta van winkelrakke af vlieg, terwyl daar onder ander ’n groter bewustheid is van die herkoms en voedingswaarde van voedsel. Persoonlik was ek nog nooit so aangetrokke tot ’n koolhidraat soos nou nie. Maar ek weet dié koolhidraat-koma moet tot ’n einde kom, want daar’s groter kwessies op die spel as my gluteus maximus.