Kies jou kos mooi
HERMAN LENSING MICHAEL LE GRANGE
Kort nadat ons hokgeslaan is, doen ’n video die ronde met ’n Britse dogtertjie wat vreeslik huil omdat haar geliefde kitskosrestaurante gesluit is. Krokodiltrane rol oor Nando’s en KFC, sy snik dramaties omdat sy nie meer McDonald’s kan eet nie, en vra met ’n bewerige stemmetjie: “En Chinees?” Ook nie, kom die antwoord. Sy sluk die trane terug en met ’n laaste straaltjie van hoop in haar oë vra sy: “En aflewerings?” Haar ma se “ook nie” ontketen wat ek gedink het die kind se grootste wanhoop moes wees, totdat haar ma Die Ergste Nuus breek: “Layla, ek is so jammer. Jy gaan Mamma se kos moet eet.” Die kind huil so hard, sy hoor nie eens toe die laaste spyker in die kis van haar kitskosdieet geslaan word nie: “Pizza Hut is ook toe.”
Ek het eers gelag, toe tref dit my hoe erg dit is dat ’n kind van ongeveer vier so vertroud is met kitskos, en haar ma se eie kos so haat. Maar Layla se internet-oomblik is vinnig verswelg deur ’n tsoenami van piesangbrode, gevolg deur vlae suurdeegbrode – ’n deugsame baksel wat wêreldwyd koorsagtige kultusstatus aangeneem het – met ekstra bonuspunte as dit gemaak is met ’n suurdeegkiem wat jy self in die lewe gebring het. Suurdeegkieme word soos die nuutste troeteldiergier – elke kiem kry tot ’n eie naam. Op sosiale media word gespekuleer oor moontlike oorsake vir die afsterwe van ’n suurdeegkiem (siestog, te veel of te min gevoer?), raad word uitgeruil, moed ingepraat, en so rys suurdeeg tot die prestasiesimbool van heilsame selfvoorsiening – #winning!
Miljoene Suid-Afrikaners ly reeds honger en ’n wêreldwye kosnood dreig. Die restaurantbedryf is op sy knieë en ons kosketting om voedsel van grond tot mond te kry gaan vorentoe wankel en selfs plek-plek ingee. Groot en klein sakeondernemings gaan toemaak. Die besluite wat ons in die komende maande neem, nie net in terme van eie inname en gesondheid nie, maar wie ons kies om te ondersteun deur hul produkte te koop, sal bepaal watter besighede oorleef. Ondersteun jy die boerdery wat weekliks vars, organiese produkte aflaai, of kies jy om ingevoerde bevrore maaltye te koop? Almal hoop natuurlik dat hul gunstelingrestaurante, -slagterye, -bakkerye en -produsente die pandemie oorleef, maar hoe belê ons die rande wat ons wel spandeer? Met elke sent wat ons uitgee, kleur ons die verbruikerslandskap van môre in. Met soveel wat buite ons beheer is, is dit ook goed om te besef dat ons nie net magtelose toeskouers is nie. Dis tyd om te belê in ’n voedsel- en ’n landbousektor met ’n volhoubare toekoms.
Keuses, keuses
Covid-19 skep nie net nuwe tendense nie, dit blaas ook tendense aan wat reeds voor die pandemie kop uitgesteek het en nou meer relevant raak.
Aanlyn koop en aflewer is die kommersiële suksesverhaal van hierdie pandemie. Besighede en kopers wat vroeër traag was om die aanlyn mark te betree, het bitter vinnig hierdie oorlewingsaar aangegryp. Verbruikers besef hoe gerieflik aanlyn inkopies is en sal selfs wanneer na normaliteit teruggekeer word, daarmee volhou. Ek sal altyd my tamaties self wil kies, maar is dit regtig nodig om die skoonmaakmiddels, hondekos en suiker self te gaan koop? Ek moet bieg, ek sal selfs die tamaties laat aflewer, want plaasmarkte en tuisnywerhede spring nou ook op die afleweringswa.
Fopvleis is groot nuus, veral onder vleiseters wat vleislose alternatiewe soek wat steeds soos die oorspronklike lyk en proe, soos wiener schnitzel, hamburgers, worsies en maalvleis wat plantaardig is, met dalk eierwit of melkwei. Die tendens impliseer nie dat groot getalle mense oornag vegetariërs of veganiste gaan word nie, maar dat vleiseters meer gereeld vleislose alternatiewe gaan kies. Omdat dit gesonder is vir mens, dier en die natuur.
Gourmet-straatkos klink dalk riskant, maar as dit verantwoordelik gedoen word, soos byvoorbeeld in ’n kostrok, bied dit ’n blink middeweg tussen uiteet en kitskos. Uitstekende gehalte kos kan relatief vinnig aangeskaf en op ’n veilige afstand van ander geniet word.
’n Sjef-ervaring tuis klink of dit net die superrykes beskore is, maar indien jy ’n spesiale geleentheid met ’n groep van agt tot twintig gaste wil vier, is dit dalk die gewenste opsie. Veral terwyl restaurante steeds onderworpe is aan maatreëls om afstand tussen gaste en tafels te verseker. ’n Intieme viering in ’n omgewing waar jy en jou mense gemaklik voel, met sjef-gehalte spyseniering.
Danksy die vindingrykheid van vele plaaslike sjefs is daar reeds verskeie sjefgedrewe afleweringsdienste wat die kundigheid en gehalte van ’n restaurant-ervaring by jou j voordeur aflewer. Dit is heerlik, gerieflik en van bejaardes tot swanger vroue, siek mense of gesinne met klein kindertjies kan kies om in die toekoms steeds hierdie tipe aflewerings te geniet, eerder as na ’n restaurant toe gaan. Dié tendens sal dalk die pandemie oorleef.
Kook van nuuts af is niks nuut nie. Dis hoe ons oumas dit gedoen het, maar die laaste paar dekades het werkende mense bloot nie die tyd om hul eie kos te kweek, verwerk en kook nie. So tussen al die bekommernisse deur het ons die afgelope paar maande ook meer tyd tot ons beskikking, en sien baie van ons kans vir resepte met ’n hoër moeilikheidsgraad en langer bereidingstyd. Benewens die kranige broodbakkery, is tuisgemaakte pasta, kaas, jogurt en biltong groot giere. En pynappelbier, natuurlik . . .
Sit die plaas terug in plaaslik. Daar’s niks soos ’n paar leë supermarkrakke om jou deeglik bewus te maak van die oorsprong van jou voedsel nie. Ek gesels onlangs met ’n opkomende sitrusboer, en hoewel hy as skoolkind reeds begin vrugte smous het, het hy nooit besef hoeveel werk dit vereis om voedsel te verbou nie. Tot hy self begin boer het. Al hoe meer boerderye verkoop direk aan die publiek en lewer ook af. Van vleis tot kaas, groente, vrugte en gebak, direk van die plaas na jou kombuis – dis nou twee groot vlieë met een klap.
Onlangs luister ek na die radio. Hulle sê mense wat alleen woon moet ’n ondersteuningsplan hê indien hulle die virus kry. Ek stuur ’n boodskap aan my neef wat alleen woon en bied aan om sop af te laai, sou hy siek raak. Nee dankie, sy vrieskas is vol sop, laat weet hy. Maar as ek siek raak, sal hy sy tuisgemaakte KFC-hoender kom aflaai. Hy oefen al ’n jaar om KFC se elf geheime kruie-en-speserymengsel, bros krummelkors en sappige, sagte hoender te vervolmaak. Ek skimp al sedert die begin om hierdie eksperiment te proe.
“Die dinge wat ’n mens moet verduur om tuisgemaakte KFC te kry!” antwoord ek.
Ek het ook maar ’n Layla in my.
Gourmet-straatkos klink dalk riskant, maar as dit verantwoordelik gedoen word, soos byvoorbeeld in ’n kostrok, bied dit ’n blink middeweg tussen
uiteet en kitskos