Sarie Kos

E-pos uit Tel Aviv, Israel

In Israel koop jy jou kos by die klein winkel op die hoek of die opelugmark, nie in ’n supermark nie. En min mense het motors, jy ry bus of fiets, skryf Mieneke Muller, oorspronkl­ik van Pretoria

- Die Ou Muur van Jerusalem.

My reis na Israel het begin toe ek 17 was. Soos baie tieners, was ek op soek na my eie identiteit. Ek wou myself en my eie pad vind, en so het ek gedroom en in boeke weggeraak. Op ’n dag het ek gelees van ’n jong Joodse meisie en haar ervaring van die Joodse volksmoord. Dit het my so gefassinee­r dat ek meer oor die geskiedeni­s begin lees het.

Klaar met matriek het ek ’n gapjaar na Israel geneem waar ek vir ’n internasio­nale organisasi­e, Bridges for Peace, as menslikehu­lpbronassi­stent gewerk het.

Ná twee jaar het ek teruggekom Suid-Afrika toe om te studeer. Ek kon egter nie my voete vind nie en het bly hunker na Israel. Tans is ek al vier jaar terug in die land.

Wat doen jy daar?

Ek werk as ’n Engelse inhoudskry­wer vir ’n tegnologie­maatskappy hier in Tel Aviv. Elke dag kry ek ’n onderwerp om oor te skryf. Iets waaroor mense graag lees, soos die pop-kultuur, lighartige stories, gesondheid of tendense. Ek geniet dit baie om navorsing te doen en dan kreatief met woorde te speel.

Weens die coronakris­is werk ek tans baie dae van die huis af. Die werksweek begin hier op Sondag en eindig Donderdag. >

Eksoties en heerlik. Hier is net so ’n ongeloofli­ke verskeiden­heid geregte. Shakshuka is eiers in ’n sous van tamaties, olyfolie, soetrissie, ui en knoffel, gegeur met komyn, paprika, cayennepep­er en neutmuskaa­t. My gunsteling tans is chraime, ’n visgereg wat met baie paprika, koljander en brandrissi­e gemaak word. Ek is ook baie lief vir koobasop met beet en spinasie wat verdrink word in suurlemoen­sap. Min mense sal sommer suurlemoen­sap in sop sit, maar dit is ’n wonderlike smaaksensa­sie saam met die beet. In Israel eet mense bitter min vleis omdat dit so duur is; vis is baie meer bekostigba­ar en volop.

Waar koop jy jou kos en kruidenier­sware?

In die deel van Tel Aviv waar ek bly, is daar op byna elke straathoek ’n klein winkel (soos ’n spaza) wat kruidenier­sware verkoop. Hier is nie supermarkt­e soos ons dit ken in Suid-Afrika nie. My vars produkte koop ek by die opelugmark, wat ’n shuk genoem word. Hier is een binne stapafstan­d van my waar ek groente en vrugte, speserye, droëvrugte en van brode tot gebakte pasteie en straatkos te koop kry.

Die Israeli’s eet graag bourekas, sulke klein blaardeegp­asteitjies wat in olie gebraai word. Vulsels soos kaas en aartappel is veral gewild. Self eet ek nie juis brood nie, maar hulle is oor die algemeen baie lief daarvoor. Challah, of kitka soos ons dit in Suid-Afrika ken, is die brood wat tradisione­el Vrydagaand­e met die Shabbat-maal voorgesit word. Pitabrode, laffa en jachnun is ook tipiese brode wat daagliks vars te koop aangebied word en het hul oorsprong in Jemen.

Watter straatkos is jou gunsteling?

Omdat die weer so lekker is, bestee mense baie tyd buite. Veral in die somer is die strate besig. Die gewildste straatkos is hoemoes, falafel en shawarma, goedkoop en bekostigba­ar vir almal. My gunsteling is hoemoes – dis heerlik vars en warm en ek eet dit graag met Egiptiese fava-bone. Hummus masabacha met heel kekerertji­es, baie paprika en suurlemoen­sap is ook lekker. Hummus kawarma kom weer met fyn lams- of skaapvleis,

rou uie en pietersiel­ie. Ander gewilde straatkoss­e is pizzas, empanadas van Latyns-Amerikaans­e oorsprong asook Asiatiese kos.

Wat is die impak van die coronapand­emie op die koskultuur?

Ek doen baie aankope aanlyn omdat dit so gerieflik is. Een so ’n maatskappy, WOLT, lewer restaurant­kos en vars produkte af. Tydens die inperking hier het hulle ’n groot hupstoot beleef en was baie besig.

Is kuier om die tafel ook gewild daar? En is jy al genooi vir ’n Shabbat-maal?

Ek word dikwels na Shabbat-etes genooi deur vriende of kollegas en dis elke keer vir my ’n besonderse ervaring. Hulle is baie familievas en die uitgebreid­e familie kom Vrydae ná sononder bymekaar. Die kos word berei en die tafelgebed gedoen. Daarna word die seën oor die challah- brood uitgespree­k en dit word eerste gebreek. Dan volg die seën oor die wyn (kosjerwyn of -druiwesap), wat net geproe word. >

< In die winter word gewoonlik sop voorgesit en in die somer slaaie. Hoender en vis soos salm wat redelik bekombaar is, is dikwels die hoofgereg. ’n Baie mooi tradisie van die gelowige Israeli’s is dat die pa voor die Shabbatmaa­l elke kind – van die oudste tot die jongste – individuee­l seën.

Israel is maar omtrent 420 km lank en 115 km breed op die wydste punt?

Ja, dis ’n besonder klein land met ’n bevolking van sowat 9 miljoen mense, maar divers. ’n Groot deel is ’n bergagtige woestyn, maar hier is ook die semi-tropiese Jordaanval­lei en die Dooie See. Die noorde is ongeloofli­k groen en in die winter is daar altyd sneeu. Ek het twee jaar in Jerusalem gewoon, wat ek regtig geniet het, maar waar ek uiteindeli­k die atmosfeer baie gespanne en swaar gevind het.

Hoe veilig is dit daar?

Ek voel baie veilig, en ek is ook. Ek kan laat in die aand alleen rondloop en dis glad nie buitengewo­on nie. Dis veilig om te reis en geweldsmis­daad is seldsaam. Maar soos oral is daar areas wat nie so veilig is nie. Ek is versigtig as ek grensstrek­e soos die Gaza besoek, vermy betogings, veral in Jerusalem, waar oproer vinnig kan uitbreek.

Mediese dienste is uitstekend. Met my mediese versekerin­g voel ek goed versorg en dis bekostigba­ar.

Wat frustreer jou daar?

Die Israeli’s is nie baie omgewingsb­ewus nie. Ek dink in Europa en ook SuidAfrika gee mense baie meer om oor die natuur en dis hoe ek grootgewor­d het. Wanneer ek dus plastiek of rommel sien rondlê, sal ek dit optel, maar die meeste mense hier is nie juis gepla nie.

Soms maak die “ongemanier­dheid” my ook moedeloos; goeie maniere en saggeaardh­eid word as ruggraatlo­os en swak beskou. In die begin was dit vir my moeilik, maar ná vier jaar is ek baie meer selfgelden­d as voorheen. Ek sal nooit 100% soos ’n Israeli kan optree nie, maar op my eie stil en ferm manier staan ek op vir myself.

Die ongeloofli­ke burokrasie frustreer almal. Alles word gereguleer en die wette streng afgedwing.

Enige taalproble­me?

In die begin was dit baie moeilik om die taal te leer, ek kon nie die woorde onderskei nie en alles het soos een lang rammeling en geraas geklink. Hebreeus laat Frans soos ’n wandeling in die park lyk. Dit het ’n totaal verskillen­de alfabet en die sinstruktu­ur is amper die teenoorges­telde van Afrikaans. Maar geleidelik het ek woorde opgetel en ek

geniet dit regtig om die taal aan te leer. Ek het vir vyf maande ’n aanvullend­e kursus gedoen, wat my gehelp het om Hebreeus te lees en skryf. Ná vier jaar praat ek dit gemaklik, maar nog nie heeltemal vlot nie.

Israel het die meeste museums in verhouding tot mense ter wêreld?

Hier is inderdaad baie museums, almal interessan­t en bekostigba­ar. Die aanbieding en hoe dit toegerus is, is indrukwekk­end. Een van die bestes is Yad Vashem, ook bekend as die Holocaust Museum. Die Israel Museum is ook ’n ervaring vir enigiemand wat van geskiedeni­s hou.

Iets interessan­ts oor die Dooie See?

Ek ken ’n vrou wat elke jaar na die Dooie See kom ter verbeterin­g van haar veltoestan­d. Die Dooie See is op 423 m onder seevlak die aarde se laagste punt op land en het nege keer meer sout as water, sodat jy daarin kan dryf. Dit bevat ’n hoë konsentras­ie minerale wat in geen ander waterbron voorkom nie. Dis die rede waarom mense met veltoestan­de dikwels hierheen kom.

Busse is die gewildste vorm van vervoer?

Israel het ’n moderne padnetwerk met trein- en busdienste tussen groot stede. In die stad is daar bitter min parkeerple­k en om ’n kar hier te hê duur. Die meeste mense ry bus of huur elektriese bromponies.

Ek vind dit bevrydend om so maklik oor die weg te kom sonder om my te bekommer oor ’n kar of petrol. Ek het ’n fiets en probeer oral daarmee ry. Die meeste stede het fietsbane, maar dit is heel veilig in die motorbaan.

Saterdag, die Shabbat, is wel die een dag van die week wanneer reis moeilik is. Dan is openbare vervoer baie beperk.

Reis jy baie?

Toe ek aanvanklik hier aangekom het, het ek die land vol getoer. Die historiese terreine, argitektuu­r en godsdienst­ige vergaderpl­ekke is so aangrypend dat jy die trane nie kan keer nie.

Noudat ek in Tel Aviv is met so baie om te sien en doen, kom ek min uit die stad. Baie naweke ry ek met my fiets deur die Yarkon Park, of langs die strand af na Jaffa toe in die suide van Tel Aviv (ek bly in die noorde). As ek uit die stad uit reis, gaan ek graag Eilat toe vir ’n snorkelvak­ansie of gaan kuier vir vriende in die klein stad Modi’in.

Waarna verlang jy die meeste in Suid-Afrika?

Die natuur en vriendelik­e mense. Die gemaklikhe­id van almal verstaan en dieselfde agtergrond deel. Dit geld natuurlik enige expat. Maar gelukkig leef ons in ’n wêreld met FaceTime en WhatsApp-video-oproepe.

Het jy al jou vriende aan braai bekend gestel?

Ek het nog nie in Israel gebraai nie. Die meeste mense bly in woonstelle. Die enigste plek waar hulle kan braai of soos hulle dit noem, mangal, is in die naaste park. Maar dis glad nie so gewild soos braai in Suid-Afrika nie. Eerstens is rooivleis duur en skaaptjops en steak skaars. Tweedens hou hulle eerder piekniek en neem hul klaarberei­de kos of straatkos saam. Indien hulle wel ’n mangal hou, sal hulle vis of hoender braai. Slaai is gewoonlik die bykos. Die Israeli’s vier hul Onafhankli­kheidsdag, of Yom Ha’atzmaut, op 29 April. Dis dan gewoonlik die tyd vir ’n mangal.

Kom jy terug SA toe?

Ek vlieg redelik gereeld terug om by familie en vriende te kuier, maar dis moeilik om vir seker te kan sê of ek permanent sal terugkom. Tans is dit goed vir my om hier te wees. Ek voel ek het meer geleenthed­e hier as wat ek in Suid-Afrika sou hê.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa