Sarie Kos

Franse gebak à la die Strand

Tanya Pöhl-Fourie is passievol oor Franse fyngebak, maar dis macarons waarmee sy toor by Tantalize Patisserie, ’n gesellige koffiewink­el versteek in ’n mooi antiekwink­el in die Strand. Ons het by haar gaan inloer

- teks MARZANNE SCHOEMAN foto’s MICHAEL LE GRANGE stilering HERMAN LENSING

1 Vertel my meer van jouself en wat jy doen.

Ek het by die ICA studeer en vir lank as ’n sjef gewerk. Die druk was erg, maar ek het gehou van die adrenalien. Mettertyd het ek moeg geword vir die lang ure, en toe kry ek die geleenthei­d om by SARIE as Herman Lensing se kosassiste­nt te werk. Ek was aanvanklik net vier maande daar. Toe het ek en die vorige assistent, Melissa Pecoraro,

Frankryk toe gegaan om ’n kursus in fyngebak te doen. Ek was op die ou einde vir ’n jaar in Frankryk en het ook ’n internskap in die Alpe gedoen. Terug in Suid-Afrika het ek by ’n restaurant gaan werk en toe nog twee jaar by SARIE. Daar is nou ’n nuwe geleenthei­d in Frankryk wat ek oorweeg. As ons die patisserie die winter weer toemaak, sal ek graag nog ’n kursus in Parys wil gaan doen.

2 Hoe sal jy die kursus in Parys balanseer met jou man en kind?

Ek sal my seuntjie beslis saamvat en my ma sal saamgaan. My ouers is afgetree en sy het reeds gesê as ek gaan, kom sy saam. Die ure sal natuurlik lank wees, want ek gaan dan weer in daardie bedryf werk, maar dis net vir drie maande. Die kursus is gewoonlik in die seisoen wat dit by hulle besig is en by ons stil, so dit is eintlik ideaal. Hierdie winter wat verby is, sou eintlik perfek gewees het, maar ek gaan kyk hoe Covid-19 uitspeel. Hopelik kan ek volgende jaar gaan.

3 Wou jy nog altyd jou eie patisserie oopgemaak het?

Ek wou nog altyd my eie plek gehad het, ja, maar het nooit gedink aan ’n patisserie nie. Ek het eintlik ’n groter passie vir kosmaak. Dit kom meer natuurlik na my toe.

4 Waar kom die naam “Tantalize Patisserie” vandaan?

Toe ek by die ICA studeer het, het een van die lektore, sjef Léta du Toit, ’n klas aangebied oor die geskiedeni­s van kos. Ek het baie van die klas gehou en sy’t ons op ’n keer vertel van “tantalize”. Toe skryf ek dit neer in my boek en dink as ek ooit eendag my eie plek moet hê, is dit wat ek die plek gaan noem. Die betekenis van die woord is min of meer “to drive someone crazy with desire”.

5 Hoe het jy jou ondernemin­g begin en wanneer het jy die patisserie oopgemaak?

Terwyl ek nog by SARIE was, het ek met Patrys Boshoff [die eienaar van die antiekwink­el Strand Trading Post] te doene gekry. Ek was baie hier om props te kom soek vir fotosessie­s vir SARIE KOS. Cara Rademeyer, ook ’n vorige kosassiste­nt, het my vertel van die plek. Ek het in die Strand gebly, maar nie van hul bestaan geweet nie. Toe ek hiernatoe begin kom het, was Patrys-hulle so behulpsaam. Ek ken hulle al die afgelope vyf of sewe jaar en sy het altyd vir my gesê as hulle ooit besluit om nog iets op hul perseel te begin, het ek die eerste opsie. Ek het hulle later gekontak om te hoor of ek ’n klein spasie in die winkel kon kry om my patisserie te begin en hier is ek nou. Ek het einde November oopgemaak. Dit voel asof ek net vyf minute oop was, toe kom corona.

6 Wat is die positiewe aspekte wat uit die inperking gekom het?

Dit het my tyd gegee om te besin en te besluit hoe ek dinge anders kan doen. Toe ek einde verlede jaar die besigheid oopgemaak het, het alles halsoorkop gebeur. Die spasie moes ingerig word en ek het baie goed soos die bakwerk en bemarking alleen gedoen. Die inperking het my tyd gegee om asem te haal en nuwe resepte te toets. Ek is eintlik dankbaar dat die inperking in die winter gebeur het wanneer dit stiller is in ons bedryf.

7 Wat was jou grootste uitdaging vanjaar?

Ek dink om die teleurstel­ling te verwerk dat jy pas met iets begin het waarna jy al jou hele lewe lank uitsien, en dan word alles tot stilstand geruk. Dit was asof daar ’n groot pause-knop gedruk is. Ek het dit maar dag vir dag gevat, maar dit het nie net met my gebeur nie, ons is almal saam hierin. Ek is net so dankbaar teenoor die eienaars wat my nie huur laat betaal het in die tyd van die inperking nie. Ek het ook net een personeell­id gehad, wat beteken het my oorhoofse koste was baie laag in daardie tyd.

8 Wat sal jy doen as jy per ongeluk ’n hele bestelling gebak verbrand voor ’n belangrike geleenthei­d?

Gelukkig het dit my nog nie oorgekom nie, maar dit het al gebeur dat my macarons nie gerys het nie. Omdat die bestanddel­e so duur is, gebruik ek dit dan byvoorbeel­d tussen koeklae vir ’n krakerige tekstuur eerder as om dit weg te gooi.

9 Hoekom macarons?

Dis so veelsydig. Dink aan sjef Jan Hendrik van der Westhuizen, hy maak tot ’n braaibrood­jie-macaron. Jy kan regtig enigiets in ’n macaron sit.

10 .Elke kombuis moet . . .

’n Goeie menger hê. As jy wil bak, is ’n elektriese menger ’n baie goeie belegging. Oe! Of ’n skerp mes. Ek dink dis ewe belangrik.

11 Waar sien jy Tantalize Patisserie oor 5 jaar?

Ek wil dit graag uitbrei tot iets soos ’n restaurant, maar steeds klein genoeg sodat ek beheer daaroor kan hê. Dit sal steeds ’n Franse element hê, maar ek sal ook graag bistrokoss­e en elemente van België wil inbring. België gee ’n meer ontspanne gevoel, dan kan ’n mens ’n biertuin, pretzels, krokette en ander gemaklike kuierkos ook aanbied.

12 As jy gebak was, wat sou jy wees?

’n Pampoenpof­fer . . . Ek spot! [Lag.]

Tantalize Patisserie by die Strand Trading Post is op die hoek van Hoof- en Aerodromew­eg in die Strand, 082 454 9933.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa