Sarie Kos

Tafelstori­es

- deur ETIENNE FOURIE

Ons wroeg van nature met ons identiteit – selfs wanneer ons nog te jonk of naïef is om te weet wat om dit te noem. In ’n platteland­se vakuum stel jy, voor jy besef, sekere vereistes aan jouself, ’n checklist – om te probeer keer dat jy die één vis in die dam is wat in die “verkeerde” rigting swem. En as daar nou één ding is wat jou “reg” kon klap in die dam waar ek grootgewor­d het, is dit sport. Soos die dag toe tydens saal aangekondi­g is dat sport voortaan verpligten­d sal wees. Terwyl die meeste ander kinders die nuus vier, het ek en my twee beste vriende, Rossouw (’n swaar, maar sagte model) en Leonard (’n Hyundai i10 – sonder power steering), benoude kyke gedeel.

“Martin Steyn se wens het waar geword – ’n verskoning om my te tekkel en boonop beloon te word!” piep Leonard. “Ek hoop ons mediese fonds is op datum.” “Ek blameer my ouers,” sê ek. “Balvaardig­heid is geneties.” “My ma gaan dink dis hilarious,” sê Rossouw, na aan trane. Die Maandag daag almal met twee tasse op – een vir boeke en een vir sportklere. Die begin van die einde. Rossouw lees Mein Kampf (met ’n To Kill a Mockingbir­d-omslag) en haal dit op gepaste tye aan. Niemand het ’n idee waarvan hy praat nie.

Van al die bose opsies is tennis ons beste hoop, besluit ons. Rossouw en Leonard het selfs hul eie raket gehad. (Hóékom sal ek seker nooit weet nie.) Die ander siele (ek, onder andere) leen ’n houtspaan by die skool – plat houtlemme met splinters om die rand. In die hande van ’n ongediagno­seerde jeugmisdad­iger nie meer sporttoeru­sting nie, maar ’n dodelike wapen.

“Hardloop, Langes!” spoeg daai kind wie se ma altyd so pannekoeke bak en klap sy spaan ritmies teen sy hand. Leonard begin hardop bid. Rossouw se taktiek: om die vyand te verras, op hul tone te hou. Hy skiet dus elke nou en dan skielik in die teenoorges­telde rigting, mid-stap, of maak asof hy deur ’n by gejaag word. “The only preventati­ve measure one can take is to live irregularl­y,” sou hy sê, Mein Kampf in sy gatsak opgerol.

Dinge vererger aansienlik toe daar eendag oor die luidspreke­r aangekondi­g word dat daar ’n interne rugbywedst­ryd sou plaasvind – die A-span teen die “oefenspan”.

“Wie’s die oefenspan?” vra Leonard in ’n agterdogti­ge stemmetjie. Ons het nie die moed om hom te antwoord nie.

In ’n laaste desperate poging het ek, Rossouw en Leonard elkeen ’n nota van ons ouers gereed: “verkoue”, “kopseer” en “kinkhoes”. Al drie notas in dieselfde glitter pen (Rossouw s’n).

“So, Kinkhoes,” vra juffrou Fox, sy wat elke jaar op haar verjaardag ’n mandjie vol lekkerruik-produkte by haar kollegas kry maar nooit die skimp vang nie. “Julle gereed vir Saterdag?”

“As die bors saamspeel,” antwoord ek en hoes vir effek.

’n Laagtepunt van “Bloedbad-Saterdag” (soos in later jare daarna verwys is) was toe my pa my uit die lynstaan kom ruk omdat ek met my hande in my sakke gestaan het. “Wat dóén jy?” wou hy weet.

“Ek staan,” het ek geantwoord. “In ’n lyn. Wat meer wil julle van my hê?”

Behalwe dat die “oefenspan” die bal soos die plaag vermy het, was daar die een of twee helde wat pale toe wou kamikaze – klein Bertus Pretorius is agter op meneer Steyn se bakkie hospitaal toe gejaag; ons het hom nooit weer gesien nie. Al mense wat dit geniet het, was die volwassene­s: Daar was pannekoek stalletjie­s ,’ n biertent (’n koelboks tussen twee busse onder ’n afdak) en die junior koor het hoogtepunt­e van “ABBA: An Extravagan­za Spectacula­r!” langs die paviljoen gesing. Rossouw het ná die eerste skrum die ref

beskuldig dat hy te hard met hom praat en hom met ’n glitter pen-nota van sy “ma” bedien.

“Kyk, nè,” sê sy pa later tydens ’n impromptu post-game round-up langs die pannekoek stalletjie .“E kis no unie een vir rugby kyk nie, maar wat ook al daai was . . . is nie rugby nie.”

“Het Pa dan nie gesien hoe skop ek daai bal nie?” vra Rossouw, afgehaal.

“Jy’t dit wéggeskop, Rossouw! Daar’s ’n verskil.”

“Ek het amper ’n doel gemaak!” kondig Leonard trots aan en beduie iets soos om ’n basketbal deur ’n net te druk. “Hilarious,” lag Rossouw se ma.

“En jy, Etienne?” vra die oom en gee my ’n ondersoeke­nde kyk. “Ek het net mense getekkel, Oom.” En ek hét – André Moolman loop glo tot vandag toe met ’n seer skouer. “Mooi aggressie aan jou!” sê Rossouw se pa, duidelik beïndruk. “Dankie, Oom. My ma sê dis ‘onderligge­nd’.”

Op pad huis toe kyk ek hoe die huise in ons buurt verbyflits en ek wonder in watter tipe huis ek eendag gaan woon.

“Onthou jy daai tragedie van ’n wedstryd in graad ses?” vra Rossouw my byna twintig jaar later oor ’n koppie koffie. “Natuurlik,” antwoord ek. “Daai letsels lê diep.”

“Jis, ons was so awkward.”

“Jip,” sê ek, nie seker hoekom ek steeds ongemaklik is nie. Die enigste verskil is miskien dat ek ten minste nou (soms) betaal word om die dinge te doen waarvan ek nie hou nie.

Ek kan net hoop die visse wat vandag, iewers in ’n vakuum, voel dat hulle in die “verkeerde” rigting swem, uiteindeli­k sal besef dat hulle dalk net in die verkeerde dam opgeëindig het. Die alternatie­f is te hartseer vir woorde – daar is geen groter tragedie as sagte kinders wat harde grootmense word nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa