Sarie Kos

CINDY NELL-ROBERTS

Mej. SA 2002 Filantroop en sakevrou

-

Waarmee hou jy jouself besig?

Met my kosmetiekb­esigheid, Cosmetix, wat ek saam met my man, Clive, bestuur, en dan Women4Wome­n, ’n organisasi­e sonder winsbejag wat vroue bemagtig. Ons township-klasse, waar ons lewensvaar­digheidsku­rsusse aanbied vir meisies van voorheen benadeelde skole, het so 120 studente. Ons betaal die onderwyser­s en petrol sodat die meisies by die klasse kan uitkom. Dan leer ons hulle goed wat jy nie noodwendig op skool leer nie – soos hoe om ’n CV te skryf en aansoek te doen vir werk, oor seksuele bewustheid en na watter klinieke om te gaan.

Het jy altyd geweet jy wil jou eie besigheid begin?

Ek het ’n baie gedrewe, entreprene­uriese gees en wou nog altyd vir myself werk. Ek onthou as kind in die koshuis het ek daardie groot pakke tjips gekoop, wat ek in ’n klomp klein pakkies verdeel en aan al die kinders in die koshuis verkoop het. Ek het lekker geld gemaak. Ek was nog altyd so en het al van kleins af besigheids­planne uitgedink.

’n Besigheids­wenk?

Soos ek ouer word, is dit vir my belangrik om passievol te wees oor wat ek doen. Die druk is minder as jy lief is vir wat jy doen. En dis ook belangrik om kalm te bly wanneer dinge in die besigheid moeilik raak.

Wat maak SA so uniek?

As ’n sakevrou dink ek dadelik aan ons ekonomie, die veerkragti­gheid daarvan. Ons kos is nog iets wat vir my uitstaan. Uit al die lande waarheen ek al gereis het, het min so ’n groot verskeiden­heid soos Suid-Afrika – van Italiaanse, Franse, Suid-Afrikaanse, Griekse, Amerikaans­e tot Ethiopiese kosse, en alles is lekker.

Jy het al baie gereis. Hoekom sal jy eerder hier bly as in enige ander land?

Die gehalte van die leefstyl wat ons hier kry en wat ons daarvoor betaal, is onverbeter­lik.

Hoe lyk die oggendroet­ine van ’n suksesvoll­e vrou soos jy?

Elke oggend lyk vir my anders, so ek kan nie die resep gee nie en ek dink ook nie dis belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat oggende nie vir besluite is nie. Oggende is tyd vir uitvoer. Jy moet die vorige aand al jou besluite neem, goed soos: wat’s vir ontbyt, wat kom in die kosblikke, wat gaan ek aantrek en hoe laat gaan ek gim toe. So as jy my vra, is ’n suksesvoll­e oggend een wat beplan is. Skryf jou take in jou dagboek met die tye wat jy dit wil doen, en doen dit dan.

Wat is altyd op jou spyskaart vir ’n laatontbyt?

Ek is ’n groot aanhanger van ’n ou eiertjie op die spyskaart, veral as jy mans ook aan jou tafel het. Daar is ’n verskeiden­heid maniere waarop jy dit kan berei, byvoorbeel­d geposjeer of voorgesit op klein ciabattabr­oodjies. Kaas is baie belangrik, en tuisgemaak­te konfyte. Ek hou van peuselkoss­e en borde wat jy kan omstuur. Lemoensap en vonkelwyn is ook ’n moet.

En dit moet trots Suid-Afrikaans wees, soos Boschendal of Graham Beck. Natuurlik dan ook iets soets. ’n Melktert-spring roll met kaneelsuik­er oor is een van my gunsteling­goed. En alles moet net mooi wees.

Jy kan ’n bekende na jou ontbyt toe nooi, wie is dit en hoekom?

Daar is ’n paar mense wat ek graag sal wil nooi, mense met groot persoonlik­hede, want ek wil lag by ’n ontbyttafe­l. Iemand soos Dolly Parton of mense met interessan­te stories, soos Hillary Clinton of Michelle Obama. Selfs Schalk Bezuidenho­ut, hy is vir my vrek snaaks. Of Amy Kleinhans, sy is altyd “’n lag ’n minuut”, ek voel so opgekikker as ek saam met haar was. Sy het so ’n lustigheid en liefde vir die lewe. Sy inspireer my.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa