IN DIE BEGIN WAS DAAR ...
Mense. Die suidpunt van Afrika was nie onbewoon toe Jan in 1652 sy gestewelde toon in Tafelbaai se sand kom steek het nie. En mense moet per definisie eet, dus was daar kos. Ek kan maar net wonder of Harry, hoof van die Strandlopers, die Hollanders gewys het hoe om perlemoen en alikreukel in ’n stuk bamboes oor die kole gaar te maak? En was dit ’n Hollander, met hul kennis en liefde vir gerookte, gesoute en gepiekelde vis soos haring, wat die blink idee gehad het om ’n snoek te rook?
Die Afrika-son het seker vir die grootste omwentelinge in die nedersetters se kookstyl gesorg: die moontlikheid om feitlik oral ’n vuurtjie te maak en as kitskombuis in te span. Volgens Jan Braai is die geskiedenis van braai, die oorsprong van vuur en die beheerde gebruik daarvan nou verbind met mekaar, en ook met Suid-Afrika. As die tuiste van die Khoi-San, wat algemeen as die oudste mense op aarde beskou word, kan ons aanvaar dat hierdie uitmuntende jagters ook die eerste braaiers was. Of soos Jan dit stel: “Wetenskaplik gesproke is Suid-Afrikaners nie net die beste braaiers in die wêreld nie, maar braai het ook hier ontstaan.”
Ons like maar net van braai. En, wees eerlik, ons kyk neer op die Amerikaners se barbeque en ’n Australiese barbie. Afrika het ’n magdom inheemse koskulture, maar daar is een gereg wat reg oor die kontinent in een of ander vorm geniet word: gebraaide vleis met ’n sagte stysel en sous. Noem dit shisa nyama, of sommer net pap en vleis met ’n smoortjie, dis ’n groot wortel van ons kollektiewe koskultuur.
Wanneer almal hulle ná ’n suksesvolle jagtog knuppeldik geëet het, het Khoi-San-jagters repe vleis opgehang om uit te droog. Met die beskikbaarheid van geur- en preserveermiddels soos salpeter, koljander, naeltjies en asyn aan die Kaap, het die Hollanders hierdie oeroue gebruik ontwikkel tot ons geliefde biltong. Seker die een kosskat wat vir Suid-Afrikaners reg oor die aardbol simbolies is van “huis” – ’n happie heimwee en versterking in ’n pakkie.