Sarie Kos

DIE AFRIKAANSE TAFEL

-

Die vraag, waar kom jou liefde vir kosmaak vandaan, is een wat dikwels oor my pad kom. Om dit akkuraat te beantwoord moet ek seker begin by die begin.

Ek het grootgewor­d op Upington in die Kalahari. My vakansies het meestal gewissel tussen die see by Hartenbos, winters op die plaas in Namibië en die tuisbly-tye wanneer my ma se kombuis my uitspanple­k was. Deel van my kinderjare was tipiese SuidAfrika­anse kos: mosbolletj­ies, bredies, lamsrib oor die kole, soetmoster­d (soms met kondensmel­k gemaak!), trifles wat net netjies lyk totdat iemand skep, en samesyn.

Wat my bybly uit daardie dae, is die tye wat die Engelse familie kom kuier het. Hulle was grênd mense wat T-hemde met slagspreuk­e gedra het en jeans vol gate. Nou dra ek dit self, maar toe was dit vreemd! Wanneer hulle ná die kuier gegroet het, was die laaste woorde altyd dieselfde: Sjoe, maar ons het lekker geëet! Julle doen dit maar net anders.

Ek kon nooit verstaan wat “anders” beteken nie. Want hoe kan jy nie ’n Sondagtafe­l met 10 kg braaiaarta­ppels, 20 kg bredie, 30 kg rys en 40 kg pampoenpof­fers hê nie! (Goed, ek weet ek oordryf, maar as kind het die bakke kos op my ma se tafel soos berge kos gelyk.) Dis wanneer ons dan in die stad kom kuier het wat my pa in die kar sou skinder oor die Engelse familie wat darem maar net anders kook. Ek het saamgestem.

Nou, jare later, kry ek weer met hierdie verskynsel te doen: Engelse lesers wat my kontak en sê hulle geniet SARIE KOS so baie. “The food is so warming, inviting and different to what we know, so Afrikaans.”

En meteens besef ek hoekom my Engelse familie met sulke groot glimlagte by ons huis weggery het – hulle het welkom gevoel aan ons tafel. Hulle het met hul “andersheid” deel gevoel van ’n gemeenskap waar nie ek of my nefies met woorde kon kommunikee­r nie, maar ons kon met kos saam om die tafel sit en in gebroke Afrikaans en Engels saam kuier en die goeie in die lewe geniet.

Dus, om die vraag te beantwoord: My liefde vir kosmaak kom van daardie glimlagte van mense as hulle vertrek het van my grootwordh­uis. Ek wil daardie glimlagte op almal se gesig sien wat oor my pad kom. Want niks is mos so lekker soos om te kan kook in Afrikaans nie.

Ns. Vanaf hierdie uitgawe kook ons ook in Engels met ’n vertaalde weergawe van SARIE KOS, naamlik SARIE FOOD. Maar soos die Engels op my tuisdorp destyds, sal dié weergawe steeds Afrikaans voel!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa