WAT SÊ DIE BOER?
Dit lyk asof die wêreld nie genoeg kan kry van bloubessies nie. Ryk aan antioksidante met min kilojoules is hulle ware superbessies, en volgens Netwerk24 verantwoordelik vir die snelgroeiendste landboubedryf in Suid-Afrika. Ons het gesels met Igor Pinto, wat buite Rawsonville op die plaas Cabriere met bloubessies boer
1 Hoekom het jy met bloubessies begin boer?
My pa is Portugees. Hy en sy suster het ’n lap grond van twee hektaar in Portugal gehad waarop hulle met bloubessies geboer het. In die Julie-skoolvakansies is ons soontoe wanneer dit oestyd was. Dis ’n arbeidsintensiewe proses, so ons het gehelp pluk. In 2017, 2018 rond lees ek ’n artikel oor bloubessies in Landbouweekblad. TopFruit [’n maatskappy wat vrugtekultivars ontwikkel] het ’n seminaar op Groblersdal aangebied en ek besluit toe ek gaan ry en kyk waaroor dit gaan. Dis toe dat ek besef het bloubessies gaan goed doen in Suid-Afrika. Ek het na ’n plaas begin soek, hierdie een op Rawsonville gekry, dit gekoop en nou is ons hier. Ons het in Januarie 2019 met die proses begin. Hier is eers met tafeldruiwe geboer, maar die water en grond, als, was reg vir bloubessies. En boonop is Rawsonville ’n baie mooi dorp, dis ’n klein juweel in die Boland. Tans is ons besig om ons tweede plaas van twintig hektaar op die Worcester-Ceres-pad uit te ontwikkel. Als hier gaan in potte geplant word.
2 Hoe verskil plant in potte van plant direk in die grond?
Bloubessies kan óf in die grond óf in ’n houer met substraat [groeimedium] geplant word. Jy plant net in potte as die grond nie geskik is vir die bloubessieplant nie. Die plante soek sanderige grond en baie water wat vinnig moet kan dreineer. Die grond moet ook ’n hoë suurgehalte hê. Die insetkoste van plant in potte is wel hoër, maar die produksie vinniger. Volgens TopFruit hou die plant net agt jaar in ’n pot, maar tot twaalf jaar in die grond. Die medium wat ons gebruik, wit veengrond (white peat), word van Nederland af ingevoer.
3 Bye speel glo ’n groot rol in ’n bloubessie boerdery?
Bye bestuif die bessies. In ’n stadium het ons amper dertig byekorwe binne ons nette gehad. Belangrik is dat die nette hoog genoeg is. Ons s’n is so 4,8 meter hoog, wat goed is. Die eerste ouens in die bedryf se nette was dikwels te laag, wat veroorsaak het dat die bye in die nette vasvlieg en doodgaan. Nou kom meet byeboere eers jou nette om seker te maak dis reg.
4 Wat is jou gunstelingdeel van die boerdery?
Ek hou van hoe die plante groei. Ek probeer elke twee weke afkom van Witbank en dan sien jy die verandering dadelik raak. Dis vir my beautiful.
5 Grootste voordeel van die bedryf . . .
Werkskepping, iets wat die regering nie altyd raaksien nie. Al die mense wat nou hier werk, sou hierdie seisoen [pluktyd piek in November] by die huis gesit het. Die meeste van ons arbeiders kom nou van die sitrusplase af en die tafeldruiwe word eers einde November geoes. Die bloubessiebedryf vul daardie gaping waarin seisoenale werkers andersins nie ’n inkomste sou verdien nie.
6 Hoeveel plukkers gebruik julle?
Dit hang af, maar partykeer is dit tot 120 mense ’n dag.
7 Wat het jy gedoen voor jy met die boerdery begin het?
Ek is in die steenkoolbedryf, hierdie is nou vir my iets heeltemal anders.
8 Nog toekomsplanne buiten die tweede plaas wat julle ontwikkel?
Ons wil graag jenewer probeer maak in 2021. Ons het reeds aansoek gedoen vir die lisensie, nou wag ons net daarvoor sodat ons met die proses kan begin. Ons gaan dit hier op die plaas stook met die afvalbessies. Blykbaar nie so ’n moeilike proses nie!