NUR HEITZ gesels per e-pos uit Sydney
Nur Heitz is in 2001 Australië toe. As Kaapse Maleier en Moslem was die aanpassing aanvanklik moeilik, maar stelselmatig het sy deur kos vriende gemaak en haar voete gevind
Hoekom Australië?
Ek is in 1996 Londen toe om Europa as rugsakreisiger te beleef. Ná twee jaar daar het ek my aanstaande man, ’n Duitser, ontmoet en ons is kort daarna getroud. Ons het aan ’n baba begin dink en skielik het ek besef Londen is nie die plek waar ek my kind wil grootmaak nie. Toe ek swanger word, was ek vasbeslote om terug te keer Suid-Afrika toe waar my familie is, maar my man was daarteen gekant en ons het begin kyk na emigrasie-opsies. Kanada het wonderlik gelyk, maar die proses was lank. Australië was minder ingewikkeld, met ’n klimaat baie soos Kaapstad s’n. Teen ons kind se eerste verjaardag het ons die groen lig van Australië gekry. Toe ons in Junie 2001 daar aankom, was ek oorweldig deur hartseer en het gewonder hoe ek my seun as ’n Maleier-man in hierdie land gaan grootmaak.
Jy het jou kind grootgemaak om sy wortels te ken?
Ons het in ’n woonstel in Sydney ingetrek en ek het begin werk as onderwyseres by ’n Montessoriskool waarheen ek my seun, Zafir, kon saamvat. Dit was vir my moeilik om vriende te maak aangesien ’n persoon van kleur nogal ongewoon was in ons omgewing. Mense het ons as gemengde egpaar aangestaar. >
< Die feit dat ek Moslem is en nie drink nie, het ook nie gehelp nie. Toe my man baie vir werk begin reis het, was ek lang tye alleen en die eerste jaar of twee het ek baie geïsoleer gevoel. Totdat my familie my van ’n Kaapse Maleier-gemeenskap omtrent ’n uur en ’n half weg vertel het. Ou vriende van my ma het reeds jare daar gewoon en ek het soontoe gery. Gou is ek bekend gestel aan ’n hele nuwe wêreld in Sydney – dit was byna soos om Woodstock, die Bo-Kaap, Soutrivier en Wynberg, als in een, te beleef. Dit was heerlik om kerrie saam met ander Kaapse Maleiers te eet, om met my hande te kan eet en lag en gesels oor dinge wat ons almal ken, my kind aan die kultuur bekend te stel. Die gemeenskap het deel van my familie geword en eensklaps het die wêreld sommer anders gelyk. Ek kon halaalvleis kry, selfs masala!
Gou het ek die maak van roti’s tot koesisters en samoesas baasgeraak. Ek het ’n liefde vir kook ontdek toe dit nie meer daaroor gegaan het om kos op die tafel te sit nie, maar om ’n heerlike Kaaps-Maleise ete voor te sit.
Intussen het ons ’n dogter, Nuhaa, ryker geraak en ons seun het die Duitse Internasionale Skool begin bywoon, waar ek makliker vriende gemaak het. Ek het oggendtees begin hou waar ek my kulturele erfenis kon deel. Kaaps-Maleise cuisine het my ontvlugting geword en ek het ook my kinders begin touwys maak sodat hulle alles oor hul erfenis kon weet wanneer ons in Kaapstad kuier. My kinders is nou 20 en 16 en hoewel hulle ’n sterk Australiese verbintenis het, identifiseer hulle as Kaapse Maleiers.
Jy het ’n keer of wat van beroep verander?
Met Nuhaa op pad het ek my eie klein Montessori-skool by die huis begin. Toe Zafir moes skool toe gaan,
Uitspanplek langs die Queensland-kus. het dinge weer verander omdat die Duitse skool ’n uur se ry van ons af was. Ek het die skooltjie gesluit en begin koeke en kolwyntjies bak. Al was dit ’n passie, het ek myself geleer en daar was gereeld flops. Maar voor ek my kon kry, was ek toegegooi onder die bestellings en moes alle ure werk om alles gedoen te kry.
Intussen het ek my verder in die onderwys bekwaam. Teen die tyd dat Nuhaa ook na die Duitse skool toe is, het ek ook daar ingeval. Dit was perfek, want ons kon almal saam soontoe en terug ry.
"EK HET N LIEFDE VIR KOOK ONTDEK TOE DIT NIE TAFEL TE SIT NIE. MAAR OM N HEERLIKE KAAPS-MALEISE ETE VOOR TE SIT"
Ek het steeds met die koekbesigheid voortgegaan, maar meer op tradisionele koekies begin fokus. Om meer selfvertroue te kry het ek ’n patisserie-kursus gedoen.
Op ’n stadium het ek besef die bakkery is ’n kreatiewe uitlaatklep wat ’n inkomste verskaf, maar dat skoolhou my passie is. Oor die jare het ek agtergekom ’n gewone skool bied nie altyd vir alle kinders wat hulle nodig het nie. Ek het bietjie wyer gelees en so spelterapie ontdek. Toe doen ek ’n driejaarkursus, wat my internskap ingesluit het. Deesdae werk ek saam met ’n ongelooflike organisasie as spelterapeut vir kinders van drie tot twaalf jaar. Ek het nou die voorreg om met inboorlingkinders in afgeleë gebiede te werk.
Australiëis...
Soveel meer as koalas en kangaroes. Die Aussies is buitelugmense en huise word gebou om dié leefstyl te akkommodeer. Hul liefde vir wyn is uitsonderlik en hul passie vir kos word gesien in die ongelooflike restaurante met kos van omtrent elke land waaraan jy kan dink.
Die “sausage sizzle” is soortgelyk aan ons boereworsrol, behalwe dat hulle die wors op ’n sny brood plak. >
< En geen kinderpartytjie is sonder “fairy bread” nie – ’n sny brood met botter wat in kleurstrooisel gedoop en in kwarte gesny word.
Die strande is natuurlik wêreldbekend – van strande met gratis braaiplek en piekniektafels, speelparkies en skoon geriewe tot meer ongerepte branderryen gewilde toeristestrande.
Strandkafees en -restaurante is heeljaar besig, met mense wat eet, drink en fiks bly. Dié gesonde leefstyl is aansteeklik en jy kan nie help om buite te wil wees nie. Ook gesinne oefen en bly graag saam fiks.
Wat mis jy die meeste van Suid-afrika?
Ek mis my familie, kultuur en hoe jy vrugte koop by die smous met sy glimlag en rympie wat jou laat lag. In Australië het ons wonderlike ervarings, maar om dit saam met familie te doen is net anders . . . om met ou vriende oor ’n koppie koffie en koesister te gesels, asof julle mekaar gister nog gesien het. Vertel meer van jul beginjare in Australië.
Die moeilikste was om ’n persoon van kleur in die noorde Sydney te wees, maar dit het die afgelope twintig jaar baie verander. My kinders het nietemin gesukkel om Aussie-vriende te maak omdat hulle nie sausage sizzle en Vegemite (’n weergawe van Marmite) eet nie. Hulle kon nie vleis eet wanneer
hulle ’n partytjie bywoon nie, aangesien dit nie halaal is nie. Dit was vir hulle moeilik en hulle het dikwels nie gegaan nie omdat hulle geforseer is om iets te eet wat hulle nie mag nie. Later het dit makliker geword om bloot te sê jy eet nie vleis nie, dit was asof mense dit meer respekteer het.
Noudat hulle groot is, het hulle nuwe uitdagings, soos om nie te drink wanneer hulle uitgaan nie, maar ek het hulle geleer as iemand nie hul standpunt respekteer nie, is hulle nie ware vriende nie en om weg te stap indien nodig.
En die Australiese aksent?
Die Aussies het ’n interessante manier om woorde af te kap. Byvoorbeeld vir “this afternoon” sal hulle “this arvo” sê, “breakfast” word “brekkie”. Ek onthou, toe ek nog nuut in Australië was, sou ’n buurman sê: “Hi, how you goin’?” Ek sou dan verward antwoord: “Um, I’m okay, not going anywhere”, en hy sou lag. Totdat ek eendag gevra het: “Why do you keep asking me how I’m going? I’m not going anywhere.” Hy het kliphard uitgebars van die lag en geantwoord dis hoe die Aussies sê: “Hello, how are you.”
Dan is daar ook die “ute”, die afkorting vir “utilities vehicle”, wat ons gewoon ken as ’n bakkie! Ná twintig jaar hoor ek steeds woorde wat my laat lag.
Die koalabeer is een van die mees bedreigde spesies op die planeet . . .
"EK MIS MY FAMILIE, KULTUUR EN HOE JY VRUGTE KOOP BY DIE SMOUS MET SY GLIMLAG EN RYMPIE WAT JOU LAAT LAG"
Dis loshande die oulikste dier wat ek al gesien het. Ongelukkig het bevolkingsaanwas gelei tot ’n groter behoefte aan huisvesting. Mense soek grond met die beste uitsigte, wat ontbossing en die inkrimping van hul habitat beteken. Voorvalle waar hulle doodgery en deur honde aangeval word, word ook aangemeld. Koolstof in die atmosfeer verminder die voedingswaarde van die bloekomblare wat hulle eet, terwyl droogtes en veldbrande ook ’n dodelike impak het.
Wat is die verskil tussen ’n SA braai en ’n ‘barbie’?
’n Barbie is vir die meeste Aussies ’n manier van lewe en hulle sal hul ontbyt op die barbie gaarmaak en buite eet. Dieselfde met aandete.
Vir my is ’n braai om sosiaal te wees, die maak van die slaai, die marineer van die vleis, die regte broodjies vir die boerewors, nie net ’n sny brood nie, of om iewers heen te ry vir die dag saam met familie en vriende. Dis maar baie dieselfde, dit voel net baie anders saam met mede-Suid-Afrikaners.
Wat is die invloed van die inboorlinge en Asiërs op die Australiese kookkuns?
Die Asiatiese bevolking het geure na Australië gebring wat die toets van die tyd deurstaan het. Dink maar aan sitroengras, steurgarnaalpatee, poedings van klewerige rys en swart bone tot borriehoender met ’n geurige sambal. Terwyl ek hier skryf, water my mond by die gedagte aan tamaryn- en lemmetjieblare, of brandrissie en vars klapper. Al hierdie bestanddele is maklik om in supermarkte te kry, en as jy nie self kook nie, kan jy sommer die pad afstap na die naaste Oosterse restaurant. Ongelukkig het die bestanddele van die inboorlinge nie eintlik ’n plek in die Australiese kookkuns nie. Hulle leef meestal van wat voorkom in hul omgewing – enigiets van plant- of dieroorsprong tot larwes en insekte. Ek het wel al ’n paar ongelooflike sjefs ontmoet wat hierdie bestanddele in hul geregte gebruik, en die geleentheid gehad om wattelsaad- en koekies-envingerlemmetjie-gelato saam met een van my kollegas in die patisseriebedryf te ontdek.
Noem een somergereg wat jy in byna elke Australiese huis sal kry.
Somer vir die Aussies beteken soel aande en kuier om die swembad, en seekos is een van die groot gunstelinge. Jy gaan nogal sukkel om ’n onthaaltafel te kry sonder ’n bord met gemengde seekos en ’n slaai, gevolg deur eksotiese vrugte en dalk pavlova, wat gewoonlik gekoop en versier word.
Anzac-koekies is gewild in Australië. Hoekom?
Dié koekies (Anzac staan vir Australian and New Zealand Army Corp) is een van my gunstelinge, met die teksture en geure ’n absolute troos saam met ’n warm koppie tee. Die koekies, wat hul oorsprong in die Eerste Wêreldoorlog gehad het en gemaak is van bestanddele wat nie maklik bederf nie, het aanvanklik as “soldatekoekies” bekend gestaan. Dis steeds deel van die Anzac-vieringe op 25 April en kan gekoop word in spesiale blikke en verpakking in die aanloop tot die dag.
Het jy al kangaroevleis gaargemaak?
Hoewel dit hier ’n fynproewergereg is, het ek dit nog nooit self gaargemaak nie. Ek het wel al in restaurante gesien hoe dit berei word. Die beste manier is om dit te marineer of speserye oor te gooi en dit oornag buite die yskas te laat rus. Seël dit dan in ’n warm pan, gooi ’n bietjie water by en maak die vleis gaar in sy eie sappe.
Die vleis kan in roerbraaigeregte gebruik word, in dun repies gesny word vir slaai of geniet word as steak met bykos. Met net 2% vet is kangaroevleis glo ’n uitstekende bron van proteïen.
Ek kon dit egter nog nie oor my hart kry om ’n dier wat al in my tuin was, gaar te maak nie!
WOON JY OORSEE?
Vertel ons daarvan! Stuur e-pos na
pieter.hugo@sarie.com.