Sprokies was nog altyd deel van my lewe. Dit laat my weer kind word en terugdink aan wat belangrik was ( en steeds is). Om te droom sonder perke, die geloof dat byna niks op aarde jou skade kan aandoen nie
Herman Lensing, SARIE kosredakteur
Op planeet Melkskommelweg het hulle graag partytjie gehou. Daar was nie ’n verjaardag waar daar nie ’n GROOT makietie was nie, die hele land is dan vir die fees genooi. Kallie Kaneel en Maria Soufflé was die hoofkokkedore wat partytjies gereël het en hul hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Hulle het saam uitnodigings en ander mooi dinge gemaak, speletjies beplan en natuurlik gebak en gebrou aan die eetgoed.
Maar op een mooi dag breek die grootste dilemma denkbaar aan: Die Goue Kers wat al vir duisende jare op elke verjaardagkoek pronk, was skoonveld! Daar was geen ander keuse nie: Kallie Kaneel en Maria Soufflé moes sélf in die pad val en na die Goue Kers gaan soek, tot in die verste uithoeke van die land.
Die twee se eerste stop was die ysparadys, waar hulle verwelkom is deur ’n skitterende eenhoring. Koelpienk roomys en klapperys op silwer skinkborde het in die son geglinster. Dit was ’n bibber-bederf van ’n reënboog lekkernye, maar daar was nêrens ’n spoor van die Goue Kers nie en hulle moes maar verder gaan soek.
Hul reis het hulle geneem deur woude met grillerige diere soos kokkerotte en vlermuise.
Die bosse het gewemel van spinnekoppe wat sjokolade eet en slange wat deur modder seil, maar daar was g’n teken van die Goue Kers nie.
Uit pure desperaatheid het Kallie Kaneel en
Maria Soufflé gaan aanklop by Juffrou Rosa se dansskool om te hoor of sy nie dalk weet waar die Goue Kers kon wees nie. Maar sy was ’n bietjie van lotjie getik en kon hulle nie help nie. Sy wou net heeltyd dans en lag. Sy’t vir hulle pienk roomys en veerligte skuimpies gevoer terwyl sy hardop gelag en al in die rondte gedans het. Kallie Kaneel het nie hiervoor kans gesien nie en besluit toe om vir Maria Soufflé daar te los. Hy sou maar verder op sy eie gaan soek na die Goue Kers.
Hy het geweet as hy dié raaisel wou oplos, sou net een iemand hom kon help: Wyse Uil wat in die geheime bos woon.
Hy het al sy moed bymekaargeskraap en Wyse Uil probeer opspoor. Maar hy was ’n moeilike uil, want hy het in die dag geslaap en in die nag gejag. Hy was ’n suikertand en wanneer jy hom in die dag wou pla, moes jy vir hom ’n lekkerny saambring. Kallie Kaneel het hom bederf met sjokoladespringmielies, sjokolade-muise en meringue-akkers. Wyse Uil het alles klaar geëet en gesê: “Hoe-hoe, hoe-hoe … jou Goue Kers wag aan die einde van die reënboog, daar waar die Roomysrivier by Stokkielekkerberg uitloop.”
Kallie was verheug oor dié nuus, maar ook ’n bietjie bang. Want die berg was ver, baie ver, aan die ander kant van Melkskommelweg. Maar hy het geen ander keuse gehad as om die reis aan te pak nie. Hy het lank gestap en ver gestap. Deur woude, bosse, riviere en oor berge tot hy uiteindelik by Stokkielekkerberg uitgekom het.
Hier was almal gelukkig: hulle het saam geverf, geëet en gespeel tot die son sak. Maar steeds was daar g’n teken van die Goue Kers nie.
Kallie Kaneel het gesoek en gesoek na die punt van die reënboog. Hy het later moed opgegee en wou nie verder soek nie. En toe, net voor die son sak, het Kallie opgekyk en skielik was daar reg voor hom ’n helderkleurige reënboog met ’n groot goue pot aan die punt. Hy het opgespring en gaan kyk: sowaar, binne-in die pot het Melkskommelweg se Goue Kers gebrand!
Kallie Kaneel is terug huis toe sonder die kers, want hy het geweet dit sal veiliger wees daar aan die punt van die reënboog. Hy sou dit net op die dag van die partytjie gaan haal en op die koek sit. Daarna sou hy dit weer gaan bêre.
Tot vandag toe word die Goue Kers vir elke partytjie in Melkskommelweg bewaar aan die einde van die reënboog. Jy moet gaan kyk, net voor die son sak, want dan kan jy hom sien brand in sy goue pot.
Die vyf partytjies in dié afdeling is gehou op die vyf avontuurlike plekke waar Kallie en Maria (en later net Kallie) na
Kies self waar op wil hou – en geniet