Skuimpie-akkers
My ma het altyd vir ons skuimpies gemaak, die grênd woord meringue pas nie daarby nie! GENOEG VIR 12
• 4 eierwitte
• 320 g (380 ml) strooisuiker
• 20 ml witasyn
• 15 ml mielieblom
• 300 g donkersjokolade, gesmelt • 12 klein ronde vanieljekoekies
Verhit oond tot 140 °C. Plaas eierwitte in skoon mengbak en klits by hoë spoed tot sagte punte vorm, sowat 2-3 minute. Terwyl menger aan is, gooi strooisuiker lepel vir lepel by. Hou aan klits vir nog 5-8 minute tot blink en styf. Voeg asyn en mielieblom by. Meng deur. Voer bakplaat uit met bakpapier en spuit goed met kleefwerende kossproei.
Skep meringue in spuitsak met ’n skerprandtuit van 1,5 cm. Spuit rosette van 2 cm in deursnee en sowat 2 cm hoog. Bak vir 45-50 minute of tot buitekant bros en binnekant nog malvalekkeragtig is. Pak akkers op afkoelrakkie bo-op bakplaat en skep sjokolade oor tot heeltemal bedek. Laat stol. Plak met ekstra sjokolade op vanieljekoekies vas. Versier akkers met blaarkoekies (volg resep vir uilkoekies en maak blaarvorms).