Stokkie-koekies
Dis nou hoogmode om koek op stokkies ( cake pops) voor te sit. Vat kortpad met koek uit ’n boks. GENOEG VIR 40
• 1 x 650 g-boks Ina Paarman
sjokolade-bokskoek
• 250 ml sonneblomolie
• 250 ml koffie
• 3 eiers
•1x cake pop- vorm
• 40 houtstokkies (enige lengte) • 1 x 100 g–plak witsjokolade,
gesmelt
• strooiversiersel ( hundreds and
thousands)
• versierselblomme
Verhit oond tot 180 °C. Maak bokskoek-mengsel aan volgens aanwysings op boks met olie, koffie en eiers. Spuit koekvorm goed met kleefwerende kossproei. Skep die holtes in onderste deel van koekvorm vol beslag en plaas tweede helfte van vorm bo-op – bak een of twee as ’n toets om te kyk hoe vol jy holtes moet maak. Bak 12-15 minute of tot gaar. Laat effens afkoel en haal uit vorm.
Druk stokkies in koekballetjies terwyl dit nog warm is. Laat afkoel. Herhaal met oorblywende beslag. Steek koekstokkies in stuk polistireen wat in yskas pas. Drup witsjokolade oor koekballetjies, sprinkel strooiversiersel oor en plaas blommetjies bo-op. Laat stol in yskas. Plak ronde polistireenwiele (kyk by stokperdjiewinkels) bo-op mekaar vas sodat dit soos ’n tweelaagkoek lyk – verf dit oranje as jy wil. Steek stokkiekoekies orals in en sit voor.