Sarie

Om aan te raak

- DEUR CHRISTINE BARKHUIZEN LE ROUX

Mariaangoo­i die skouersak oor haar arm. Dis handbagasi­e, maar die swaarste goed het sy daarin gepak. Boeke en bottels Amarula as geskenke.

Iets waamee sy haar moet versoen, is dat sy nie meer sommer so maklik ’n 23 kg-tas teen steil trappies kan uitdra nie. Dis agt jaar gelede dat sy in die Lae Lande was. Toe was sy 46. Hoe is dit dat 46 so ver weg klink van vandag se in-dievyftigs? Wanneer sy soggens die slaap uit haar oë vryf en haar tande voor die spieël borsel, sien sy ’n troebel beeld van die vrou van vroeër.

Op die somerkursu­s oor Kuns, Voorkoms en Ekspressie waarvoor sy haar impulsief ingeskryf het, het sy haar aan die dosent sit en verwonder. Die spierwit kop, die blou oë onder die onopsigtel­ike wenkbroue. Die stem.

Dat hy haar raakgesien het, het haar nie verbaas nie; sy was die enigste persoon bo dertig in die lesingsaal. Maar wat haar voete onder haar uitgeslaan het, of byna, was sy uitnodigin­g om later saam met hom koffie te gaan drink.

Waar sy vandaan kom, het hy toe al geweet uit die CV wat hulle moes indien vir die kursus. Op die bankie voor die restaurant Graaf Floris het hy daardie aanknoping­spunt gebruik om reguit deur te skiet na dinge waaroor sy nie na buite gepraat het nie.

Wat het haar na Utrecht gebring? Waarom wou sy juis hierdie kursus kom volg? Filmkunde was nie juis die ding waarin, hmm – nie dat hy dit so uitgespel het nie, maar nou ja – middeljari­ge vroue geïnteress­eerd was nie. Hoe hy dit bewoord het, kon sy nie later onthou nie, maar wel dat sy nie aanstoot geneem het nie.

Die kelnerin het die spyskaart voor hulle kom neersit. Iets om te drink?

“Koffie,” het sy geantwoord, “met warm melk,” wetende dat dit ’n vreemde versoek was in Nederland. Hy, Paulus, het rooibostee gevra, ’n produk uit haar eie land.

Die hande op die houttafelt­jie is skraal, witterig, die manier waarop hy praat, maak hulle lewend en vol uitdrukkin­g. Sy naels is kort. “Bresson,” sy stem is ingetoë, “is die beste filmmaker ooit – anders as ander regisseurs gaan hy van die standpunt uit dat ’n mens nooit die werklikhei­d kan namaak nie.”

Sy hoor hom praat, haar aandag by sy gevoelige hande. Hy buk oor, tik op die tafel.

“Jy sien, wat Bresson doen, is om die ‘ leuen’ so klein as moontlik te maak. Hy wou houterige karakters hê, mense deur wie die ware storie ervaar kon word, sonder om te probeer om

die werklikhei­d te kopieer.”

“En dit bring jou by die idee dat ’n mens se gelaat, jou uitdrukkin­g, nie noodwendig wys wat binnekant aangaan nie, as ek jou reg verstaan?”

“Ek het jou dopgehou deur die lesings.” Hy sprei sy wit hande oop en buig hulle dan na binne in ’n gebaar van insluiting. “Jy het my herinner aan een van die aktrises in Bresson se films. Dat jy soveel wegsteek, en daardeur so baie verraai. En ja, jy is reg, gevoel is nie net iets wat na buite weerspieël word nie.”

Die warmte styg in haar nek op. Nog nooit het iemand so meteens in haar binnekant ingeklim nie. Ook nie die psigiater wat sy gaan sien het ná haar egskeiding het reggekry wat hierdie professor Paulus Schoonhove­n nou doen nie. En die vreemdste van alles is dat sy gemaklik voel by hom hier op die houtbankie aan die onderkant van die Vismarkt. “Nog ’n koffie?” Sy keer: “Nee, dankie. Ek wil nog na die orreluitvo­ering in die Dom gaan luister. Maar dit was gaaf van jou om my vir koffie te nooi. En jou lesings was baie interessan­t. Jy het my baie gegee om oor te dink.”

Haar verblyf in Utrecht is byna verby. Sy moet terug na haar eie land, ’n nuwe begin maak. Die geld wat in die skikking met die egskeiding aan haar toegesê is, was net-net genoeg om ’n huis te koop. Sy sou ’n inkomste genereer uit haar eie blyplek met die maak van juwele van spesiale klip en kristalle.

Terug in Suid-afrika het haar ondernemin­g gebloei. In drie stranddorp­ies het sy klein winkeltjie­s oopgemaak. Uit dié verdienste kon sy betaal vir hierdie vliegtuigk­aartjie soveel jare later.

“Ons kan bel,” het hy ná hul laaste koffiedrin­k by Graaf Floris gesê, “ek wil kontak behou met jou. Asseblief?”

Sy het nee gesê. Sy was ver van gereed om voortduren­d kontak met hom te hê. In haar binnekant het vir die eerste keer rowe begin vorm wat mettertyd vanself moes losraak en afval.

Nou en dan het daar ’n e-pos gekom en dan het sy versigtig gereageer. Hy het Skype voorgestel, maar sy wou nie. Tog het haar hart geroer by die wete dat hy steeds dink aan die stukkie tussentyd in die Lae Lande. ’n Keer of wat het hy genoem dat hy na haar land van son kom, maar ook dit het sy afgeweer.

“Eendag, wanneer ek gereed is, kom ek weer,” het sy hom laat weet. En af en toe gewonder of hy nog kontak met die blonde vrou het waarmee hy te doen gehad het daardie jaar toe hulle op die houtbankie gepraat het oor hóé mense eintlik sien. Maar sy het nie gevra nie.

Haar man – eksman – het haar dikwels daarvan beskuldig dat sy ’n volstruis is wat haar kop in die grond steek, wat nie wil sien wat so duidelik soos daglig is nie. Sy het sy woorde met ’n skok onthou toe die oogarts twee maande vantevore sy uitspraak so onomwonde oor die breedte van sy lessenaar vir haar gegee het. Vir dae daarna het sy in ’n depressiew­e toestand in die bed gelê. Sy het die doktersbes­oek uitgestel, maande lank, jare eintlik, uit vrees. Haarself probeer oortuig dat die swart kolle wat sy al meer en meer begin sien maar die gevolg was van haar ure lange gebuk sit oor die juwele.

Ses maande, was sy uitspraak. Ses maande se al hoe minder sig voordat sy glad nie meer sou kon sien nie.

Sy ruk wakker toe die vliegtuig die aanloopbaa­n tref. Sy tas na haar handsak, haal die spieëltjie uit. In die lig wat deur die ovaal venstertji­e val, sien sy die dowwerige afskynsel van die vrou van agt jaar terug . . .

Sy word deur die res van die passasiers in ’n drukgang na die bagasie-band gedwing; die angs druk haar keel toe, sy wil terugdraai, terug na waar sy saans in haar veilige omgewing haar hande oor die gladde stene kan laat gly.

Sy stoot haar trollie met die bagasie voor haar uit. Laat sy net eers in die trein kom, maar so gou as wat sy kan, gaan sy haar kaartjie vir die terugreis laat verander, al kos dit ook wat. Sy kan nie hier bly nie, sy is nie meer die mens van agt jaar gelede nie. Niks wat sy dink of voel, sal sy kan oordra nie; haar sig raak by die dag swakker. Sy sal hom dadelik bel as sy in Utrecht aankom.

“Ek het jou kom haal.” Sy herken die stem wat sy in al die jare nooit gehoor het nie dadelik. Hy neem die trollie, haak met sy ander arm by haar in. “Het jy dan gedink ek sal jou so laat sukkel?”

Maar ek is byna blind! wil sy sê, ek het jou tog laat weet. My koms was te impulsief, ek moet teruggaan!

Langs die pad is die bome ’n ruising van wasige groen. Hy sit die Mp3-speler aan. “Danzi se Horingkons­ert,” sê hy. “Hoor jy die verlange in daardie rondeau?”

“Ek kan nie bly nie,” praat sy toe die musiek ophou. “Jy het gepraat van gelaat en ekspressie – van wat jy in my oë kon sien, maar binnekort sal daar niks van oor wees nie.”

“Sjjjt, wag nou eers, voor ek jou by jou vriendin gaan aflaai, gaan ons na die plek waar ons daardie eerste middag gesit het,” sê hy toe hy die Maliebaan inry.

Hulle loop deur die keisteenst­raatjies, hy vat haar arm, loop met haar saam oor die bruggie by die Vismarkt, gaan staan by een van die houtbankie­s voor Graaf Floris.

“Hulle neem nie bespreking­s vir die terras nie,” sê hy teen haar oor, “maar ek het die hoofkelner omgekoop.”

Die weemoed in haar is byna te veel om te verduur. Sy is hier. Eindelik. En môre of oormôre, so gou as wat sy daardie peperduur kaartjie-omruiling kan doen, gaan sy terug. Sy moet.

Die kelnerin sit die koffie voor hulle neer. Sy kry ’n bekertjie warm melk wat hy vir haar bestel het. Agt jaar later onthou hy dit nog. In die pierings van die koppies lê langwerpig­e koekies wat sy weet spekulaas moet wees.

Sy sien dit nie, maar voel sy hand wat hare vat. Hy draai haar palm na bo, stuur dit onder die tafelblad in, lei haar vingertopp­e teen die grein, die slootjies in die hout: “Lees met jou hand – voel met jou vingers – só het ek dit uitgekrap met ’n klein messie. M A R I A A N.

“Sodat jy hier kan bly.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa