Sarie

MARITA V.D. VYVER

DEEL HAAR EMOSIES OOR #PARYS

-

Die vroue het hom die eerste gewaar. Ek weet nie waarom hierdie woorde uit Raka by my opgekom het toe ek die Vrydagaand hoor wat in Parys aan die gang is nie. Miskien net omdat my 15-jarige dogter die nuus aan my oorgedra het.

Of dalk omdat my kop heeldag gevul was met eggo’s van groot Afrikaanse gedigte. Dieselfde dag het ek verneem dat die Universite­it Stellenbos­ch moontlik Afrikaans as voertaal gaan afskaf. Ek was aan die treur oor iets wat in my geboortela­nd gebeur – en skielik moes ek ook treur oor wat in my aangenome land gebeur.

Of miskien het ek aan NP van Wyk Louw se woorde gedink omdat my eie woorde nie genoeg lig kan verskaf in hierdie donkerte nie. Ons was letterlik in die donker, in die motor op pad huis toe ná ’n heerlike ete by vriende op ’n platteland­se dorpie, toe my dogter se woorde die skerm van my slimfoon verlig. Die motor het dadelik kouer as die herfsaand daar buite gevoel, want sy het onbewustel­ik haar Franse pa se woorde van veertien jaar gelede herhaal, op 11 September 2001 toe hy my van die chaos in New York laat weet.

Skakel aan die TV. Dit lyk of Parys aangeval word.

Ek en Alain was besig om na Sonny Rollins se “St. Thomas” te luister. Hy het my pas herinner dat dié lieflike saxofoonmu­siek die rede is waarom sy oudste seun se naam Thomas is. Sonder ’n verdere woord het ons die musiek afgeskakel en die radio aangeskake­l. Terwyl ons deur slaperige Provensaal­se dorpies ry, met net so ’n skerfie wit maan in ’n gitswart naglug, het die nuus uit Parys in golwe oor ons gebreek.

Selfmoord-bomdraers by ’n sokkerweds­tryd wat deur die Franse president bygewoon is. Jongmense wat met masjiengew­ere afgemaai word by ’n straatkafe­e. Honderde gyselaars by ’n musiekkons­ert in die Bataclan-teater. Nog ’n skietery by ’n restaurant in Rue de Charonne, en nóg ’n aanval by ’n Italiaanse restaurant daar naby, en nóg een by Le Petit Cambodge . . .

En te midde van die afgryse, ook ’n vorm van absurditei­t en ongeloof.

“Wát is die naam van die Amerikaans­e groep wat in die Bataclan gespeel het?” vra ek vir Alain, want ek dog ek moes sekerlik verkeerd gehoor het. “Eagles of Death,” bevestig hy. Dít kan jy nie uitdink nie, nè. Die Arende van die Dood se konsert word kortgeknip toe die wáre Arende van die Dood in die saal land en verwoestin­g begin saai. Net nog ’n bewys dat die lewe vreemder as enige soort fiksie kan wees. Ek was dadelik dankbaar dat ons drie volwasse seuns nie eintlik aanhangers van heavy metal is nie. Hoewel nie een van hulle in Parys woon nie – nog

iets waaroor ek dankbaar is – reis hulle gereeld naweke na ander stede vir musiekkons­erte. Maar ek het geweet hulle sou nie in die Bataclan wees nie. Hugo se meisie woon in Parys, daarom het ons hom dadelik probeer kontak om te hoor of sy veilig is. Eers in die vroeë oggendure het ons vasgestel dat sy ’n uur voor die aanvalle in ’n Tgv-trein geklim het om die naweek in Lyon deur te bring.

Tuis aangekom, het ons onmiddelli­k die TV aangeskake­l. Dit was eers toe ons sien hoe derduisend­e verdwaasde mense op die grasperk in die middel van die Stade de France saamdrom, dat alles “werklik” begin voel het. Ek en Alain het twee jaar gelede in die einste stadion >

’n Cliché is ’n onaangenam­e ding en dis elke keer ’n teleurstel­ling om te ontdek ’n geykte uitdrukkin­g of wysheid is wel die waarheid. En hierdie is die waarheid: Soos ’n mens ouer word, so verdwyn sekere vrese en verander prioriteit­e.

Vandag is ’n warm dag, dis somer, die lig is skerp en die son is sowel genadeloos as aanloklik. Duisende baljaar op strande, om of in swembadden­s, plas in poeletjies, poseer op handdoeke, blink van die olie, vertoon goudbruin soos pannekoeke en loer met afkeer na die blekes. Ander kuier onder sambrele of priële, skink drankies in kortbroeke en T-hemde of drentel hand aan hand met geliefdes, almal geklee in bont driekwartb­roeke, frokkies, los rokkies en plakkies of ander insteekske­ppings wat tone en hakke ontbloot.

Ek is op pad na ’n boekwinkel, ek is deel van die malende skare, maar niemand raak of stamp aan my soos gewoonlik die geval is in ’n oorbevolkt­e, oorverkoel­de winkelsent­rum nie. Om die waarheid te sê, daar gaan ’n wandelgang oop waar ek stap, mense gee pad, ander koes soos vir ’n gewapende wese, ander gryp mekaar en verdwyn.

Ek is geklee in ’n lang pikswart hemp, ’n pikswart snyersbaad­jie, ’n pikswart styfpassen­de broek, pikswart skerppunts­koene, twee pikswart horlosies en die aarde se grootste pikswart sonbril. Ek soek nie aandag nie, ek ly nie aan ’n siekte wat jou gevoel vir temperatuu­r wegvat nie, dis ’n gewone dag, ek het ’n paar ure vryetyd en is baie opgewonde oor die moontlikhe­id van ’n paar nuwe boeke. En ek is geklee in ’n tipiese uitrusting waarin ek ontspanne en selfversek­erd voel.

Dit het jare geneem. Jaaaaare. Ek het ook voorheen in die son gelê, kokend, woedend en bloedrooi, ek móés, want ek was jonk en almal doen dit. Ek het al bruin strepe gesweet want ek het myself gesmeer met sonbrandkl­eure, bleek was uit die mode. Ek het ook kleurvolle klere, vertrekke vol, dis vir my ’n kunsvorm, ek verskyn in alle kleure op die verhoog en op foto’s, maar wanneer ek aantrek om te leef, is dit in swart. Dit gebeur vanself, ek dink nie (meer) daaroor nie, ek kan nie anders nie, dis hoe dit hoort. Selfs in Europa staar hulle na my, ’n swart jas is goed, of ’n hoed of stewels, maar alles?!

’n Musikant het op ’n dag gevra hoekom koop ek so baie klere, ek lyk dan elke dag dieselfde. Sonder om te dink het ek geantwoord, Man, dis my uniform.

Uniform. Soos dié van ’n verpleegst­er of ’n brandweerm­an of ’n priester, ’n soldaat, ambagsman, sjef, bakker, non, ruimtevaar­der of byeboer. Hierdie woord het my bevry. Ek mag elke dag dieselfde lyk, ek is nie mal nie, ek het ’n uniform.

En ek is in uitmuntend­e geselskap. My gunsteling-skilder leef elke dag in ’n kaftan, dekades al. ’n Bekende figuur in ontwerpkri­nge is elke dag geklee in ’n swart Oosterse pakkie en bloedrooi lipstiffie, Karl Lagerfeld lyk elke dag soos Karl Lagerfeld, met wurgkraag en sonbril oorrompel hy die wêreld, Anna Wintour se uniform is op haar kop, daai haarstyl verander nooit, ontwerpers laai geskenke af, sy trek alles aan en lyk altyd dieselfde. Edith Piaf het onsterflik geword in haar swart rokkie, Gandhi het sy lap, Moeder Teresa het haar kleed, Jack Nicholson het sy bril, Michael Jackson het sy masker, Madonna het haar handskoene, Salvador Dalí het sy snor, Diane Keaton het haar hoed, Angela Merkel het haar baadjie, Aung San Suu Kyi het haar blom, Charlie Chaplin het sy kierie.

Eeue lank al is ’n uniform die wrede merk van diens, onderdanig­heid, een van duisende, naamloos en gesigloos. Nou is dit ook kleed van die individu, die een wat homself leer ken, wat tuis voel, trots is en met minder vrees. Eendag, eendag, wys menigtes dalk waarin hulle goed voel. En hou ons op staar en kyk met belangstel­ling en vrede.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa