Sarie

MY SEUN IS GAY

- Mamma, Noord-kaap

Ouers, wees steeds lief vir jul kind as hy/sy gay of lesbies is. Ons seunskind is ’n gay jong man, en ek, sy pa, suster en broer het hom lief en koester hom. Toe hy jonger was, het hy met my hieroor gepraat. Ons het saam gehuil en mekaar vertroos.

Ek het Duitse masels gehad in die vroeë stadium van my swangerska­p met hom. Die ginekoloog het gesê die kleinding se hartjie klop baie sterk, maar hy het nie die moontlikhe­id van ’n gebrek uitgesluit nie.

Hy was ons laatlam, byna tien jaar jonger as sy suster, en ek was nie bereid om die lewetjie te aborteer nie. Ek en my man het gebid dat die baba gesond moet wees, maar besluit dat hy al ons liefde gaan kry, wat ook al die uitkoms.

Ons swartkopse­untjie met sy mooi donker kraalogies is sonder gebreke gebore. Hy is ’n seun om op trots te wees. Sy lewensmaat van sewe jaar is vir ons soos nog ’n seun.

Vir diegene wat vinger wys en agteraf praat, sê ek: Moenie, julle rig meer skade aan as iets anders.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa