Quinne sê sy kô huis toe
Ná tien jaar in Amerika is die aktrise Quinne Brown-huffman méér as gereed om met haar gesin terug te keer na Suid-afrika. Die lewenslesse wat sy daar geleer het, wil sy gebruik om ’n verskil in haar ‘hartsplek’ te kom maak
‘Ekkom terug Suid-afrika toe wanneer die tyd reg is, want dis my hartland.” Só het sy in November 2008 gesê. Nóú is die tyd reg vir Quinne Brown-huffman, wat ons in 2000 as die vrolike kelnerin Connie van der Lecq in die Sabc2-sepie 7de Laan leer ken het.
Sy het destyds voor haar vertrek na Amerika aan SARIE ( Januarie 2005) erken: “Ek sal nooit permanent oorsee kan gaan woon nie. ’n Mens sal natuurlik die kans om oorsee te gaan werk en woon aangryp. Maar ek wil terugkeer na my land. Die kleure, mense, pap, vleis en musiek: David Kramer, Miriam Makeba, Hugh Masekela, Vusi Mahlasela, Gloria Bosman. Musiek is soos ’n stuk van ’n land se siel wat jy saamdra.”
En as die verlange knaag in Amerika (waar sy sedert 2006 woon), gryp sy ook na die klanke van Lize Beekman, Laurika Rauch, Koos du Plessis en Chris Chameleon.
Vier jaar lank was hulle in haar lieflingstad, San Francisco. Daarna het sy en haar man, Ryan, wat sonenergie verkoop en bier brou, na San Diego, Kalifornië getrek, waar hulle nou woon. Maar dit het nooit regtig soos “huis” gevoel nie. “Ons het wonderlike vriende gemaak, want jy kry orals lojale mense. Dit was ’n geskenk om ’n ander land en sy mense te leer ken. Ek bly die ewige reisiger en het aanvanklik die vryheid gehad om myself te herskep. Maar soos die jare aanbeweeg het, wou ek reconnect met my kern. Jy bly maar altyd hunker na dié land wie se hartklop jy verstaan. Afrika,” sê Quinne filosofies.
In ’n Skype-onderhoud vertel sy dat sy gehoop het om vroeg 2016 al terug te wees. “Maar destyds, met die visum-rompslomp, het dit nege maande geduur om van Suid-afrika na Amerika te kom. En jy kan nie glo hoe moeilik dit is om alles te reël vir die verhuising na Suid-afrika nie. Maar as alles goed gaan, is ons vir seker teen Kersfees 2016 terug,” sê sy laatnag. Hulle gaan in Johannesburg woon, waar Ryan waarskynlik heeltyds bier gaan brou. En sy hoop om hier in die “groter prentjie” ’n verskil te maak.
Sy het reeds dié droom nagejaag in Kalifornië en as ’n doula gekwalifiseer. ’n Doula ondersteun vroue tydens die geboorteproses en help die nuwe ma ook ná die bevalling, maar is nie ’n vroedvrou nie. “Nadat ek ’n doula gehad het vir albei die geboortes van ons kinders, het ek besef dit is my roeping.” Sy het in Januarie 2012 by Doulas of Northern America (DONA), ’n internasionale organisasie in San Diego, aanlyn opleiding gekry en praktiese ondervinding opgedoen. In haar eerste jaar het sy nege ma’s tydens swangerskap bygestaan. In haar tweede jaar is sy as doula gesertifiseer. “Ek hou daarvan om vroue in nood te help, want met elke geboorte besef ek opnuut die wonder van léwe. Om te kraam is ’n metafoor vir die lewe. Dit is vrek harde werk en seer, maar as jy dit eers regkry, het jy ’n rykdom kennis waaruit jy kan put. Jy leer ook elke baringsproses verskil; daar is nie iets soos reg of verkeerd nie. Dit is ’n soort innerlike reis om jou eie antwoorde te vind.
“Ek het nou, ná al die jare in die vreemde, baie stories om te vertel. Jy leer jouself goed ken, leer om besluite op jou eie te neem. Jy ontwikkel wonderlik buite jou gemaksone.
< Hopelik kry ek die geleentheid om weer toneel te speel – in ’n sepie, op die verhoog of in ’n fliek. Dalk skryf ek ’n draaiboek.”
Sy begeer om weer deel te wees van “die dinamika van ’n komplekse SuidAfrika”. Ja, in San Diego het hulle wonderlike vriende, en haar skoonma, Terrie, wat naby hulle woon, is ’n ongelooflike ouma . . .
“Maar weet jy, hier voel die wêreld soms so klein. Baie mense is net gemoeid met hul groot motors, pragtige huise, lekker leefstyl … Dit is asof hulle nie nodig het om intense vrae te vra nie. En dít is soms net plain boring. Ek was eintlik so lank weg uit Suid-afrika dat ek nie eens meer verstaan wat daar gebeur nie. Maar nou wil ek my deel dáár doen.”
Sy erken dat jy oorsee maar altyd voel soos die een wat “inloer” by die kamer. “Jy bly die randeier. Jy het geen ‘konteks’ nie. Niemand ken jou geskiedenis nie.” As sy vertel van haar dae in 7de Laan, kan sy netsowel met dowes praat. Baie mense weet nie eens van Afrikaans se bestaan nie. Niemand begryp hoe trots sy is op haar ma, skakel-ghoeroe Salome Brown Gooding en mede-eienaar van ’n suksesvolle gastehuis by Franschhoek, of dat haar oorlede pa, Gerhard, op sy dag ’n gerekende restaurateur in Johannesburg was nie. As sy oor haar studies in omgewingsbestuur by die Universiteit van Johannesburg praat, begryp die gemiddelde Amerikaner min daarvan. “Jy pas gewoon nooit in nie.”
En hoewel sy steeds, soos in haar jeug, mal is oor reis en altyd nuwe dinge wil ontdek, is sy nou eerstens ma van twee kleuters: Charlotte Quinta (4½) en Lara Quinta (2). En sy reken die tyd is reg vir haar en haar Amerikaner, Ryan Huffman, om hul kinders ook naby háár mense en hartsplek groot te maak. Sy is dol op haar sus, Esther Engelbrecht van Johannesburg, self ma van twee seuntjies, en broer, Richard, redakteur van ’n reistydskrif, wat in die Kaap woon. “My beste maatjie, Kim Cloete, sakevrou, aktrise en Tv-aanbieder, is – jippieee – ook gereeld in Johannesburg.”
As ma, meen sy, sal dit sinvol wees om naby haar eie mense te wees . . . Een van haar grootste dilemmas die afgelope vyf jaar was: “Wie is ek noudat ek ’n ma is? Ouerskap is een van die moeilikste goed. Jy evalueer jouself voortdurend. Dis ’n helse verantwoordelikheid. Veral sonder ’n sterk ondersteuningstelsel wat kan dien as klankbord.
“Ek is eintlik maar die ewige kind, maar my kinders het my gedwing om ‘groot’ te word. En ek het besef as jy ’n suksesvolle grootmens wil wees, moet jy grense stel. Vir jou kinders én jouself. Dit laat mense veilig voel.”
Sy is mal oor hul dogtertjies, maar ná haar eersteling se geboorte was haar lewe so vol sleur en roetine dat die daaglikse vreugde haar bly ontwyk het. “My oudste het een keer in die motor vir my gesê as ons teruggaan Suid-afrika toe, sal ek weer gelukkig wees. Dis nie goed dat kinders ’n ma so hartseer sien nie. Ek het boonop ná albei geboortes erg postnatale depressie gehad, wat elke keer ’n paar maande geduur het. Gelukkig het ek ’n wonderlike man en skoonma . . . Ek het
Quinne
ook ’n sielkundige besoek.”
Quinne het boonop ’n paar maande lank Skype-terapie met ’n lewensafrigter in Johannesburg gehad. “Dit het baie gehelp dat ek weer die kind in my kon ontdek. Nou sal ek soms sommer lekker dans op ’n mooi kinderliedjie van Carike Keuzenkamp saam met die kinders terwyl ek in die kombuis werk. Ek praat altyd Afrikaans met my kinders.
“Eintlik moes ek ná my swangerskappe maar net weer in voeling kom met die ware Quinne. Ek het opnuut besef kuns is my terapie – toneelspeel, dans, verf, sing of teken.”
Die lewensafrigter het haar ook geleer om na haar eie “storie” te luister. “Ons verwerk ons lewens mos deur emosies en stories. En dikwels maak ons nie genoeg tyd vir ons eie ‘stories’ nie.” Sy moes ook leer hoe om “objektiewe gesprekke” met haarself te hê in tye van nood. “Dít help dat jy beter besluite neem. Ek het danksy dié aanlyn terapie baie waardevolle lewensvaardighede geleer.”
Sy het duidelik ’n ver pad gestap sedert haar sorgelose “kelnerin”-dae in 7de Laan.
“Ryan is my grootste vriend en sielsgenoot,” vertel sy. Ná hul huwelik in Februarie 2006 het sy aanhou werk. Daar was sommer vier trou-seremonies – in een het sy soos ’n Xhosa-bruid aangetrek en Ryan soos ’n Amerikaanse Indiaan, vanweë ’n verlangse bloedverwant aan sy kant.
In 2007 het sy in Suid-afrika kom speel in die gewilde fliek Ouma se slim kind. Sy het die rol vertolk van Klaradyn, wat ’n gestremde seun onder haar vlerk neem. Dié rolprent het onder meer ’n Kanna-toekenning by die Kknk-rolprentfees in 2007 gewen. Quinne is ook vir dié rol benoem as beste ondersteunende aktrise by die 2007 South African Film and Television Awards (SAFTA’S). Sy was in Amerika in ’n rits onafhanklike kortfilms, soos The Jeffersons (2007), Drug of Choice (2008), Lifeless (2009) en This is Charlotte King (2010). In 2010 het sy ’n kameerol gehad in Nominated, ’n vollengterolprent oor ’n kinderster wat die pad byster raak en dan ’n Oscar wen. En in San Francisco het sy individuele drama-afrigting by Shari Carlson gekry.
Hoewel sy uitsien na haar nuwe lewe in Suid-afrika, is daar ’n deel van haar wat moeilik gaan afskeid neem. “Soms kyk ek na die wêreld waar ons nou bly – dis veilig, hier is ongelooflike strande, ’n kinderparadys . . . Maar ek het deur die jare geleer niks is vir ewig nie. Dit ís nou Suid-afrika se beurt.”
Sy besef ook: “Wanneer ek in Amerika is, hunker ek na Afrika. Terug in my moederland het my siel weer die behoefte om ander dele te verken.”
Van die grootste “lesse” wat sy wel uit Amerika terugbring, is dat dit reg is om in jou goeie punte te glo. Jy hoef nie te beskroomd te wees nie. “Trouens, die enigste mense wat iewers kom, is dié wat hulself goed bemark.” Sy besef voorts die gemiddelde Amerikaner is baie fluks. “En ja, dit is vir seker so dat als daar groter en beter is. Maar jy weet, op die ou einde is ons almal maar net mense. Waar ons ook al woon. Ons soek geborgenheid.”