Sarie

OP DIE VROU AF

-

Kom sit, die water het nou net gekook . . . want niks, o, niks troos soos tee nie. In trane? “Het hy jou gelos? Die lummel! Ek het nog altyd gedink jy verdien beter. Wag, ek maak vir ons ’n lekker koppie tee.” Sy’t geweet dis die einde toe hy haar nie uitneem vir Valentynsd­ag nie, hoe ongevoelig! Gelukkig is daar tee vir elke traan. Die regte hoeveelhei­d melk, die regte hoeveelhei­d suiker, nie te sterk nie, nie te flou nie. (“O ja. Jy drink mos jou tee ’n bietjie sterker.” Vriendinne weet sulke goed.)

Mooi koppies is ’n voorvereis­te. Tee smaak net nie dieselfde in ’n lelike koppie nie. Of in ’n beker nie. Bekers is net vir wanneer jy alleen by die huis is of beskuit in jou tee doop. Enige vrou het meer as een (mooi) teestel nodig. Vir die afwisselin­g.

Tienuur en vieruur kan nie verbygaan sonder ’n koppie tee nie. Maar enige tyd is tyd vir tee, dit werk maar net so uit dat die hele land teen tien en vier dors is. Party dan weer teen slaaptyd.

Moenie van Hogere Tee vergeet nie, pinkie-in-die-lug is opsioneel. Ook of jy eers die tee in die koppie skink en dan die melk of andersom. Ja, dit gaan meer oor die geselsgoed en eetgoed as die tee. Vriendinne wat koek-’n-tee, hou die koek- en skonbedryf aan die gang.

(Dis ook waar die uitdrukkin­g “ek het nie ’n koek-’n-clue nie” vandaan kom.) Skinder? “Is dit wat sy gesê het? Wag, ek maak vir ons tee, dan vertel jy my als.” Tee maak almal soveel meer sosiaal. Maar ’n man weet wanneer hy nie welkom in die teekring is nie – wanneer almal opkyk en stilbly. Dan loop jy maar eers weer . . . Camellia sinensis vir enige gebeurlikh­eid. ’n Probleem by die werk? Met die skoonfamil­ie? ’n Tienerkind? Die bure se blaffende hond? Rentekoers­e? Slegte hare? Tee is die antwoord. Dit maak reg wat ook al verkeerd is. G’n wonder nie. Volgens Wikipedia is tee, naas water, die gewildste drankie wêreldwyd, van die Ooste tot die Weste en verder noord. (Nee, dis toe nie bier nie.) “Ek kon dit self vir Wikipedia gesê het,” sê sy. Tonne der tonne teeblare, in ’n tee vir elke smaak. Engels? Chinees? Groen? Kruie? Rooibos? Dis rooibos wat die Cederberge en Clanwillia­m bekend gemaak het, nie die dam daar langs die pad nie.

En as dit in die somer te warm is vir tee – die oumense het geglo tee koel jou af en dis boonop bekend as ’n doeltreffe­nde dorslesser – is daar mos ystee in ’n geur waarvan jy hou.

Droogtes kom en gaan, maar ’n mens hoor gelukkig nooit van ’n tee-droogte nie. Aarde, wat sou van die wêreld geword het?

Wat sou waarsegste­rs sonder hul teeblare gedoen het? Ooo, die toekoms sou duister gewees het . . .

En wat sou van begrafniss­e geword het sonder tee agterna? Mense sou . . . wel . . . teësinnig gewees het om dit by te woon. Die beste van als: Tee maak nie vet nie! Wag, daar kook die water nou . . . En as tee nie meer help nie, is daar nog altyd koffie.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa