Sarie

UIT PROVENCE

-

Ek is ’n stapper. Nie noodwendig soos in sportief stap vir oefening nie. Dikwels stap ek sommer net om oopoog te droom, om na die sonbesies of die gesuis van wind deur hoë bome te luister, om te kyk hoe die wingerdbla­re in die herfs verkleur. Of om te besin, kalmte te herwin wanneer huis en haard my onderkry, te besluit wat om volgende te doen.

Wanneer ek aan ’n boek werk, stap ek meer as ooit. Elke keer as ek nie weet wáárheen nou met ’n toneel of ’n karakter in die storie nie, word dit staptyd. Nietzsche het immers gesê alle groot gedagtes word uit stap gebore en wie is ek nou om met hóm te stry?

Maar die laaste maande het ’n onverwagte ding my getref. Ek stap (ook) vir oefening, soos in amper drafstap tot jy sweterig en uitasem raak. En ek doen dit saam met my dogter. Want as jou tienerdogt­er jou vra om enigiets sáám met haar te doen (behalwe om klerewinke­ls toe te gaan sodat sy jou geld kan uitgee), gryp jy die kans aan.

Myne was van kleins af mal oor stap. Miskien omdat sy vóór haar geboorte, terwyl ek haar verwag het, al lang ente saam met my afgelê het. As baba het ek haar byna daagliks in haar stootwaent­jie gelaai om die bult agter die dorp saam met my aan te durf. As kleuter het sy op stomp beentjies saamgepiek­el en my by elke blom of insek langs die pad laat stilstaan om haar vrae te beantwoord.

Ek moes op ’n nuwe manier na stap begin kyk. As jy teen so ’n slakkepas saam met ’n klein kindjie stap, kry jy nie juis oefening nie, maar jy sien alledaagse wonderwerk­e raak wat jy op jou haastige eie heeltemal sou mis. En jy kan maar vergeet van “groot gedagtes” terwyl jy wandel. Die aanhoudend­e vrae en die opgewonde gebabbel gee jou nie tyd om te dínk nie.

Soms, as ek desperaat geraak het om in stilte te stap, het ek skelm uit die huis gesluip. Soms het sy agterna gehardloop en gesmeek om te kan saamstap. Ek het vergeefs probeer verduideli­k – Mamma wil dink, Mamma kan nie nou vrae oor blomme en bye beantwoord nie – en dan het sy plegtig belowe sy sal tjoepstil wees. (Die stilte het nooit langer as so tien tree van die huis af gehou nie.)

En toe is sy op ’n dag skielik ’n tiener en sy besluit dis nie meer cool om saam met haar ma te stap nie. Sy het op haar eie begin draf – en ek kon oplaas weer in salige stilte wandel en “groot gedagtes” dink. Ek moet erken, aanvanklik het ek gesukkel om aan enigiets te dink – behalwe dat ek die klein babbelbek langs my mis.

Die verstommen­de versoek het kort voor haar sestiende verjaardag gekom. Sy raak moeg van so alleen deur die wingerde draf, bieg sy op ’n dag, en sy hóú boonop nie rêrig van draf nie. So sy wonder of ek en sy nie saam kan stap nie? Maar vinnig stap, Ma, waarsku sy. Stap vir oefening.

Nou stap ons ons boeglam, so twee of drie keer ’n week, maar ek geniet dit so, ek kom skaars agter ek kry oefening. Sy vra my natuurlik nie meer uit oor blomme en bye nie (sy weet lankal alles), maar ons gesels lang stukke oor skool en “die probleem met seuns” en wat sy eendag wil doen en eintlik enigiets waarvoor ons nie by die huis tyd kry nie. En soms, net soms, wanneer ek vra of sy wil saamstap, sug sy en sê sy ja, maar sy het vandag stilte nodig. Want sy wil dink.

Dan steek ek my glimlag weg en belowe plegtig ek sal tjoepstil wees.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa