Love being in your shoes
Dit blyk dat ons in die begin en aan die einde van aardse bestaan leef van uitsien tot uitsien, geleentheid tot geleentheid, baken tot baken. Vir ’n jong kind, voltyds besig om sy eerste herinneringe te skep en te stoor, is daar buiten roomys geen beter ding as afwagting nie, opgewondenheid, nuuskierigheid, skoenlappers in die gestel, wakker lê en die ure omwens, só word daar gereik na die groot oomblikke. Tydens my kleintyd het ’n jaar net uit vier geleenthede bestaan, verjaardae (my eie sowel as dié in die dorpshuise waar daar groot gebak is), Kersfees, kerkbasaar en kuier by my Ouma. Die res van die tyd is omgewens. Somtyds was die wag só groot en uitputtend dat dit geleentheid heeltemal oorskadu het, ek het só uitgesien na Kersfees dat Oukersaand of Kersdag ’n volkome wasige gebeurtenis was, ek het soos ’n dol hondjie met ’n uitsteektong van hoek na hoek gehardloop en niks beleef nie, die oomblik was te groot. Ek was nog nie op skool nie, toe het ek al sakgeld en optelgeld begin spaar om vir elke wese wat ek kon onthou ’n geskenk te koop, bog uit plastiek is toegedraai en beskilder en bestrik, die wegsteek en geheimhouding was só opwindend, daar was nie tyd vir maatjies en hul lawwighede nie.
Later het skool en grootword verskyn en weer is daar geleef van geleentheid tot geleentheid, toetse, eksamens, atletiekdag (dis nog steeds hoe ek myself die hel voorstel), redenaarskompetisies, nog toetse, nog eksamens. Uitsien het skaars geword en bekommernis was die nuwe leefstyl. Wat gaan ek doen ná skool? Waar kry ek ’n beurs? Hoe gaan ek ’n woonstel bekostig? (Koshuis?? Is jy mal?) Hoe kom ek oor die weg? Is daar geld vir ’n motor? Treinry? Met my outfits? (Ek was toe al aktief met vreemd aantrek.)
Niemand besef dit betyds nie, niemand beplan dit nie, maar die kultuur van toekoms word by ons ingedril vanaf die eerste dag. Op só ’n ouderdom loop trou jy, op hierdie ouderdom koop jy eiendom, op daardie ouderdom is daar ’n baba. Spaar jy genoeg? Het jy al aandele? Steek jy geld weg oorsee? Daar is goeters op pad, oudag, oorlog, siekte, is jy gereed? Is jou begrafnispolis in orde?
Intussen word uitsien al hoe minder, daar is nie tyd vir groot verjaardae nie, ons is te moeg vir ’n groot Kersfees, ’n groot kuier is óf te veel moeite óf te veel drank, ons beplan nie meer ons eie dinge nie, daar is reeds te veel op die skool-, kerk-, of besigheidskalender. En dan moet ons elke dag oefen, anders word ons lywe oud, ons moet gesond eet, dis afgryslik, maar ons wil nie siek word nie, ons moet alle diëte volg, anders gaan ons dood, ons moet knyp dat dit bars, want ons het aftreeplekke met vlak baddens en geen trappe nodig, ons wil nie ouetehuis toe nie. En dan, BOEM!, word ons ingehaal, ons lywe word oud, ons word siek, ons gaan dood of ouetehuis toe. En ons het niks beleef nie, ons het net uitgesien, beplan, bekommer, beplan, wakker gelê, gewonder en beplan. Elke verjaardag of Kersfees is wasig.
Ek is amper honderd jaar oud en voel gereeld twee honderd, maar ek leer nou eers die moeilike, feitlik onmoontlike kuns van belewenis. Daar is T-hemde, uitdrukkings en slagspreuke, FOR THE MOMENT, IN THE MOMENT, VAN DAG TOT DAG, VERGEET VAN MÔRE, LEEF NOU, ensovoorts, tot dusver leë sêgoed, daar is nie tyd nie.
Nóú, in hierdie wêreld waar daar geen waarborg is nie – jong, gesonde mense val om, families verloor ’n leeftyd se spaargeld in ’n oomblik, duisende vlug uit hul geboorteland, ’n bus ry oor ’n rooi lig – leer ek eers dat die wêreld maar mag stilstaan vir ’n heerlike ete, vir ’n lang gesprek, vir ’n middag van wegkruip, vir ontspoor met ’n sny koek, môre kan wag, die hele aarde kan.