UIT PROVENCE
Wanneer hierdie woorde in SARIE verskyn, sal David Bowie al omtrent drie maande dood wees. Vanoggend, vars ná die nuus dat hy die verhoog vir oulaas verlaat het, is dit voorwaar ’n vreemde gedagte dat die menslike verkleurmannetjie ons nooit weer sal verras nie.
Die frustrasie van ’n maandelikse rubriek is dat jy nie in die hitte van die stryd kan reageer op onverwagte gebeure wat jou raak nie. Terselfdertyd is dit seker ook ’n redding. Die kans is kleiner dat jy jou naam krater kan maak met ’n oorhaastige opinie – soos helaas al hoe meer op Twitter en ander sosiale netwerke gesien word. Jy word tyd gegun om te besin. Sal dit wat jy wil sê, steeds geldig wees oor ’n maand of drie?
In hierdie geval wil ek ’n uitsondering maak, want alles omtrent die kunstenaar David Bowie was uitsonderlik. Van die dag dat hy as David Robert Jones met oë van twee verskillende kleure gebore is, was hy, wel, anders. En deur al sy gedaantewisselinge, al sy verskillende haarstyle en haarkleure, tot sy laaste stryd teen kanker wat hy tot die dag van sy dood geheim gehou het, het hy anders gebly.
In hierdie selfverheerlikende selfie- era waarin selfs die onbenulligste mense alles omtrent hul lewe op die internet uitblaker, het dit buitengewoon geword om enige vorm van lyding privaat te hou. Vir ’n wêreldberoemde ster het dit bykans onmoontlik geword. En tog het Bowie dit reggekry.
Dis vir hierdie immer verrassende andersgeit wat ek hom vandag wil eer. Ek was ’n tiener in die vroeë jare sewentig toe hy in die verstommende gedaante van Ziggy Stardust op die toneel verskyn het. ’n Androgiene kreatuur wat sy hare helder oranje kleur en sy ooglede potblou verf en liedjies oor die lewe op Mars sing! Hy moes mos sweerlik van ’n ander planeet af gekom het!
Dis moeilik om vir vandag se tieners te verduidelik hoe ongelooflik bevrydend sy verskyning veertig jaar gelede was. Deesdae het Madonna se aanhoudende metamorfoses en Lady Gaga se bisarre verhooguitrustings lankal ou nuus geword, en niemand lig meer ’n wenkbrou as ’n manlike musikant flambojante vroueklere of grimering dra nie. Maar in die jare sewentig was Ziggy Stardust ’n openbaring vir almal van ons wat soms alleen en anders gevoel het, vervreemd en uit pas met ons plattelandse dorpies en ons vervelige voorstede.
Vir my was dit liefde met die eerste oogopslag. Soos die veelkleurige weerligstraal wat oor sy gesig geverf was op die omslag van Aladdin Sane, só het die bewondering my getref. Selfs voordat ek na sy musiek en sy slim lirieke begin luister het.
Die boodskap wat hy gebring het, soos water in ’n woestyn van eenvormigheid, was dat dit OK is om nie soos almal om jou te lyk of te klink of te dink nie. Daarvoor alleen sou ek hom vir die res van my lewe dankbaar bly. Oor die volgende vier dekades het hy my geleer dat jy nooit moet vasval in ’n gemaksone nie, dat jy altyd nuwe uitdagings moet soek, dat jy moet aanhou om jouself en ander te verras. Onlangs was dit my tienerdogter wat my verras het deur te begin luister na dieselfde Ziggy Stardust-liedjies waarna ek so aanmekaar op haar ouderdom geluister het.
Die aand ná sy dood kon ons sáám na “Space Oddity” luister. Ek het die lirieke van Ground Control geneurie, want ’n ma bly mos die Ground Control vir haar kind se verste vlugte, en sy het Major Tom se rol gesing, die ruimtevaarder wat die veilige moederskip moet verlaat . . . Dís toe ek besef hoe min kunstenaars die musikale generasiegaping tussen ’n middeljarige ma en haar tienerdogter kan oorbrug. Net nóg iets waarvoor ek vir David Bowie behoort dankie te sê.