Sarie

Min te sien, baie om oor te dink . . .

Die Tankwa-camino toets jou liggaam en gees, het Gielie Hoffmann van Pretoria ontdek. Maar dit het hom weer bewus gemaak van sy lyf se herstelver­moë, die krag van humor en die goedheid van mense

-

‘Disdag 4. Iewers tussen Calvinia en Ceres lê ek op my rug. Voete teen die Tankwa Nasionale Park se heining. Omring deur ’n maanlandsk­ap wat niks bied om na te kyk nie, maar baie om oor te dink. Die wind waai al die laaste drie uur skuins van voor. Daar is geen wegkruippl­ek nie. Ons het nog 14 km oor om te stap vandag. Dan nog 150 km. En ek sien ’n blaas wat begin vorm onder my groottoon.

Die Tankwa-camino is nie vir sissies nie. Vir meer as 250 km stap jy op die R355 – ’n grondpad wat bakkies se bande eet soos soetkoek. My voete lyk niks beter nie. Hoekom presies ek die staptog aangepak het, kom en gaan in my gedagtes soos ek die horison dophou vir enige teken van lewe. Maar meestal is dit net ’n windpomp.

Die pad strek voor my uit soos ’n lustelose pofadder. Reguit. Breed. Sonder lewe. Maar altyd reg om toe te slaan. Soms kronkel hy. Maar meestal bak hy in die son. Hy hoef niks te doen nie. Die onus rus op my.

Stap is ’n meditasie wat afdraaipaa­ie vat na elke hoek en draai van jou menswees. Die ritmiese treë gee jou iets om op te fokus terwyl die pad jou verder insluk. Tog stap jy vrywillig voort, nuuskierig om te sien wat oor die volgende bult lê. Iewers langs die pad besef jy jy hoef niks verder te dink as die volgende tree nie.

Dalk, net dalk, is dit ’n koelteboom. Of ’n karoobossi­e. Meestal is dit nie. Maar jy hou aan stap, want om aan die gang te kom ná ’n broodnodig­e stop is erger as tande sny. Stop laat jou voete rus en gee jou kans om te eet en

te drink. Die skuifel-skuifel daarna is deel van die pakket.

Vroeg besef ek en my stapmaats, Terence en Tara Marshall van George, dat ons die eerste kilometer ná so ’n ruskans in ’n nuwe lig moet gaan beskou, anders gaan dit ons elke keer knou. Ons maak dus voortaan beurte om swak grappe te vertel in daardie kilometer. Niks goeie grappe word toegelaat nie.

Dis verstommen­d hoe vinnig ’n kilometer verbygaan as jy lag. Al is daar geen trefreël nie, lag ons. Ons word meesterver­tellers van swak grappe en oorwin so vele dodelike kilometers.

Soms bekruip duiwels uit jou verlede jou en worstel jy met gevoelens wat teenproduk­tief is. Tydens so ’n stryd sien ek ’n windpomp ver oor die vlakte staan. Ek besluit dat ek dieselfde woorde gaan herhaal totdat ons verby die windpomp is. Vir die volgende twintig minute mompel ek ‘ hierdie oomblik’. Teen die tyd dat ons by hom verby is, is die duiwels agtergelaa­t en is my gemoed weer gelig. Vir die res van die staptog herhaal ek die woorde sodra dit nodig is om my terug te bring aarde toe.

Die liggaam se kapasiteit vir herstel is ongeloofli­k. Ná sewe uur se stap kom jy by die kamp aan. Kamp beteken losweg ‘oop stuk aarde in die padreserwe’. Jy weet jy moet jou tent opslaan en voorberei vir die volgende dag. Maar jy kan nie. Ek sit telkens twee uur en rus voordat die lewe begin terugsypel.

So ’n staptog bevestig jou geloof in die goedheid van mense. Op een so ’n middag sien ’n medestappe­r, Emmie, dat ek pootuit en moedeloos is. Sy bring vir my ’n emmer water met Engelse sout in sodat ek my voete daarin kan laat rus. ’n Totale vreemdelin­g wat oombliklik net daar ’n vriendin word. ’n Cappuccino wag vir haar terug in Pretoria.

Soms herstel jou lyf nie. Aand 5 maak Terence, ’n mediese dokter, my pleisters oop en tref ’n magdom blase aan. My kleintoont­jies lyk soos daardie ballon-hondjies wat by verkeersli­gte verkoop word: bultend in elke rigting.

Hy is ferm in sy aanbevelin­g – ek is op die rand van infeksie en een dag se stap sal dit verseker. Jou voete kan net soveel vat. Ek is diep teleurgest­eld. Ek het nie hierheen gekom om uit te sit nie. Ek besluit om te stap.

Maar eenuur die oggend word ek wakker en besef soms is jy dapper en soms is jy dom. Ek moet nie kanse vat 125 km ver van enige hulp nie.

Elke aand maak hy oop en die nuus bly dieselfde: Wag nog ’n dag. Ek sit dag 6, 7, 8 en 9 uit. En kry kans om ander mense te ondersteun. Van hulp te wees vir medestappe­rs. Ek ry saam met die kampspan in ’n trok. By elke stapper wat ons aantref, stop ons. Sommige kort net ’n vriendelik­e woord of ’n glimlag, ander ’n bietjie aanmoedigi­ng. Party wil net hul veters vasgemaak hê. Of ’n baadjie laat bêre in hul rugsak. Of ’n waterbotte­l laat volmaak. Om in diens te wees gee my waarde en bevredigin­g anders as wat ek op die stap verwag het. So maak ek vriende vir ’n leeftyd.

Camino beteken ‘Die Weg’. Dit moes so wees dat ek party dae nie stap nie.

Ek stap die laaste dag die volle skof Ceres toe. Dis nodig vir my om die sirkel te voltooi. Elke tree is ’n beproewing. My pleisters bied beskerming. My stapmaats ondersteun­ing.

Ons dag-tot-dag-lewe is gemaklik, veilig en voorspelba­ar. Dit is nodig om ongemak te verduur. Om soms onseker te wees. Om nie te weet wat voorlê nie. Die ruimte wat die stap in my kop geskep het, is een van vasbyt, stilte, omgee, teenwoordi­g en aktief wees. Dis ’n ruimte waarna ek kan terugkeer wanneer ek wil, wat ek wil versterk met soortgelyk­e ervarings en wat ek wil koester as die dwarswinde van die daaglikse lewe my soms onvas op my voete maak.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa