Leer só om bewustelik te leef VIR JOUSELF VIR JOU KIND
Selfs net vyf minute per dag is beter as niks! Begin klein – wees teenwoordig as jy jou tande borsel – proe die tandepasta, wees bewus van die gevoel in jou mond, van jou vars asem ná die tyd.
“Groet” jouself soms deur die dag. Raak bewus van jou liggaam en die sensasies wat jy ervaar, jou gedagtes en gemoedstoestand.
Vertel vir jou kind wat jy doen wanneer jy bewustheid toepas. As jy dalk kwaad is, sê: “Ek gaan nou bewus raak.” Raak dan bewus van jou omgewing om te kalmeer, of gaan mediteer. Jou kind sal sien hoe dit jou help om te kalmeer en die positiewe effekte daarvan ervaar. Hulle sal sien hoe waardevol die gebruik is en self dan daarin begin belangstel.
Probeer jou kind eers vir kort tydjies leer, soos om vir net 30 sekondes bewus te wees van wat hy ruik, sien, hoor en voel. Rek die tydperk dan geleidelik uit.
Vra hom voor slaaptyd om ’n paar keer asem te haal en te voel hoe die lug sy longe binnestroom, hoe sy spiere beweeg. Of om te fokus op sy bene, dan sy maag, sy arms en sy kop en bewus te wees van elke liggaamsdeel en hoe dit voel.
Laat jou kind ’n sagte speelding op sy maag sit terwyl hy lê. Sê vir hom om dan diep in en uit te asem en te fokus op die beweging van die speelding.
“Groen tyd” behoort ’n onontbeerlike deel van elke kind se lewe te wees – veral dié wat sukkel om te konsentreer, soos kinders met ADHD. Sportdeelname en buite speel is belangrik, maar jy kan hulle ook dan vra om op te let na hul omgewing en later vir jou te vertel wat hulle gewaar het.
Kry ’n kosbak vir voëls in die tuin sodat hulle die voëls kan dophou terwyl hulle eet. Of kry ’n vistenk en maak tyd om gereeld saam te sit en kyk na die visse se beweging.
Laat jou kind borrels blaas buite en dan kyk hoe hulle in die lug opwaai en weer val. Hy kan hom ook verbeel hy is die borrel wat so lig deur die lug waai.
Lê buite op ’n kombers en kyk saam na die beweging van die wolke.
Later kan jy jou kind ook vra wat hy binne-in homself ervaar. Vir kleiner kinders is dit moeilik om emosies te herken, so help hom deur hom te vra om dit as diere te beskryf. Byvoorbeeld: Watter dier is die gevoel? (’n Olifant); Watter kleur is die olifant? (Rooi); Wat maak die rooi olifant? (Hy skree); Hoekom? ( Want hy is kwaad en bang); Wat is sy naam? (Ben); Kom ons help Ben. Haal diep asem en blaas dan stadig uit, en herhaal dit ’n paar keer. Fokus op Ben. Waar voel jy die bang en kwaad van Ben in jou lyf? (My kop); Haal nog ’n keer diep asem, voel die asemhaling, die sensasie in jou kop. Hoe voel Ben nou? Is daar iets wat jy nou vir Ben wil sê? Wil jy Ben graag teken?
EET SOP
In ’n opname het vrywilligers wat hul maaltye met ’n laekilojoulesop afgeskop het, 20% minder geëet, volgens die internasionale joernaal Appetite. En ook nie so gou weer honger geword nie.
DINK JOUSELF MAER
Eet bewustelik ( mindful): fokus op hoe die kos lyk en ruik, en die fisieke sensasie wanneer jy kou en sluk. As jy dan later in die versoeking kom om te eet, visualiseer bloot jou vorige maaltyd in detail. Dis dalk die verskil tussen een koekie en ’n hand vol, volgens Britse navorsing.
STOPTEKENS!
Los tekens van wat jy geëet het op jou bord: olyfpitte, pizza-kors, selfs stokkies waaraan bv. kaas was. Só stuur jy vir jou brein ’n sein dat jy klaar is, selfs al is dit onbewustelik. Dieselfde beginsel geld as jy springmielies of aartappelskyfies in ’n bakkie sit en nie sommer uit die pakkie eet nie. ’n Leë bakkie = klaar!
REËNBOOG VAN KLEUR
Hoe groter die kontras tussen jou kos en jou bord se kleur, hoe minder gaan jy waarskynlik eet, volgens Amerikaanse navorsing. In ’n studie het mense wat pasta met tamatiesous op ’n wit bord moes skep, minder geneem.
DIT RUIK SO LEKKER
Ons eet nie net met ons oë en maag nie, maar ook met ons neus. Vrywilligers wat nagereg met ’n sterk, welriekende geur gekry het, het 5 – 10% minder geëet teenoor dié wie s’n minder geurig was, volgens navorsing in die aanlyn joernaal Flavour. Adem die reuk dus diep in voor jy wegval. Geur jou kos met aromatiese kruie soos gemmer, basilie, kaneel of roosmaryn.