Die misterie van dinge
“Mensese beheptheid met celebs irriteer my só,” sê die vrou met die lang vaal hare. Sy smyt die tydskrif op die tafeltjie langs die haarkapperstoel neer. Antoinette glimlag. Dieselfde vrou wat vyf minute gelede aangedring het dat Carol, die haarkapper, haar hare presies in Taylor Swift se jongste styl moet sny. Ja, en kleur dit ook nes Taylor s’n, toe Carol die foto bekyk en opmerk die styl en die kleur sal die vrou met die vaal hare mooi pas.
“Die media onderskat ’n mens se intelligensie,” sê Antoinette droogweg.
Die vrou trek ’n gesig in die spieël. Die papperige kleurmengsel wat teen haar voorkop afdrup, lyk soos pampoenmoes waarby wortelpuree ingeklits is.
“My man het eenkeer die boerewors gekoop wat Toppie, die oud-springbokvoorryman, op TV adverteer,” sê die na-aper van Taylor Swift. “Die pêlle was nog ordentlik met die proesessie om die vuur, maar teen loopdop-tyd het almal saamgestem Toppie moet hom eerder by sy tweedehandskarbesigheid hou.”
Carol lag, beduie die na-aper moet oorstap droër toe, die kleur moet hitte kry om te ontwikkel.
Antoinette wonder wat Carol sal sê as sy hoor sy wat Antoinette is, het ook vanoggend ’n foto in haar handsak – ’n voosgevatte een van die aktrise Julianne Moore. Antoinette se rooi hare, wat soggens soos ’n kraaines om haar kop staan, smeek om getem te word. Dis hoog tyd.
Op die foto is Julianne se hare glad geblaas, met ’n paadjie aan die linkerkant, die blink poniestert stylvol oor haar linkerskouer gedrapeer. Sy lyk kalm en in beheer van sake.
Antoinette het ’n behoefte aan kalmte. Gistermiddag het sy gehoor sy het haar werk verloor. Koelweg op die Vrydagmiddag is sy “oortollig” verklaar. Oorbodig en onnodig, maar moenie worrie nie, jy ontvang ’n ruim skeidingspakket. Jammer, jou portefeulje beantwoord nie meer werklik aan die kernprestasieareas van die maatskappy nie. Ons het besluit om ’n finansiële firma van buite aan te stel, het die direkteur, Frik de Wet, kamma simpatiek gesê, duidelik verlig om die aankondiging teen dageinde te kon doen. Gretig om soos gewoonlik op ’n Vrydagmiddag gholfklub toe te ry en sy frustrasies op ’n wit balletjie uit te moker.
Die nuus het nog nie behoorlik ingesink nie, en hier sit Antoinette: Op soek na kalmte. Oor enkele ure ’n gasspreker by haar ou universiteitskoshuis se damesoggend met die tema: Die belang van begrotings in doeltreffende koshuisbestuur. In ’n vleiende somersrok uitgevat, die praatjie voorberei, stiptelik in die stoel vir haar vroegoggendafspraak by die haarkapper.
Dis ’n baie belangrike oggend vir ons, het die primaria van die koshuis in haar e-pos geskryf. Ons het nog twee bekendes genooi, mense wat vinnig opgang in hul professie maak en bande met die universiteit en die koshuis behou. Linda Cronjé, die sepiester; Bertus Grobler, die joernalis; en natuurlik jy, die finansiële analis, met jou deeglike kennis van die aandelemark, boonop ’n oud-primaria.
“Ons sien geweldig uit na jou praatjie, ons eie celeb! Almal het jou op TV gesien. Jy weet mos als van die ekonomie. Kan jy so ’n halfuur voor die tyd kom, dan kyk jy sommer vinnig na ons begroting?”
Met die haas van ’n gekwelde, het Antoinette gedink, en inskiklik reageer op die jonger vrou se pogings om haar oor die foon in te katrol. Celeb, nogal. Werklose celeb, dink Antoinette. “Hoekom probeer jy nie bietjie iets nuuts nie?” stel Carol voor. “Soos wat?” Carol beduie na haar manskliënt – wat vir Antoinette vaagweg bekend lyk – in die stoel langsaan. “Dalk iets korters?” “Sjoe, ek weet darem nie.” “Hoe lank loop jy al met dié lang hare?” “Wel, ek het dit nog nooit kort gesny sedert graad twaalf nie, dis nou al amper tien jaar.” Seker omdat Gerhard nooit wou hê sy moet haar hare sny nie.
Ek is mal oor girls met lang hare, het hy graag gesê. Dit het Antoinette eers werklik besef toe sy haar verloofde een middag met sy neus in die blonde haredos van sy sekretaresse, sy hand laag op haar agterstewe, betrap.
“Jy sal stunning lyk met ’n korter styl. Jy het die wangbene en die lang nek daarvoor.” “Nee, ek weet darem nie.” “Wag, ek bring my ipad, dan google ons die jongste style.” Die haarkapper vra of haar manskliënt ’n koppie koffie wil hê: “Ek’s nou by jou.”
“Jammer ek’s laat,” mompel die ou half verskonend in haar en Antoinette se rigting. “Kon nie parkeerplek kry nie.”
“Blaai solank deur ’n tydskrif,” sê Carol. “Daar’s ’n Wegrits die rakkie langs die stoel.”
Antoinette bekyk die man vlugtig. Sy herken hom. Bertus Grobler: Sr-voorsitter in haar derde jaar. Heethoof. Deesdae ondersoekende joernalis, medespreker by die damesoggend. Eenmaal saam met haar op ’n besprekingspaneel van ’n aktualiteitsprogram op TV. Die haarsalon is skaars ’n kilometer van die kampus. Dit maak sin dat sy hier in hom sal vasloop. Sy dink aan Bertus se jongste onthulling in ’n Sondagkoerant. ’n SA bank is in die moeilikheid, sy uitleenkoerse is net te aantreklik vir sy sukkelende leners gemaak. ’n Prominente politikus het nie sy belange in die bank verklaar nie. Daar is gedreig om Bertus te muilband, die politikus wil die koerant hof toe sleep.
“Wat dink jy so diep?” vra Carol. “Kyk net hoe sexy lyk hierdie retro bob van Natalie Portman.”
Die onderwerp van Antoinette se gedagtes verskyn meteens langs haar. “Antoinette?” “Hallo, Bertus.” Hy skud haar hand geesdriftig. “Hardloop jy nog so vinnig?” “Wat bedoel jy?” “Die aand ná die Tv-program, in die ateljee, jy kon nie gou genoeg daar weg nie.”
Die dag van haar en Gerhard se breekslag. Toe sy net by haar gerestoureerde huis in Hatfield wou kom om haar wonde te lek, om haar teleurgestelde hart met rooiwyn te laaf.
“Skeer dit borselkop,” vra Bertus, terug in sy stoel. “Ek het gister bedank. Daar’s nie regtig iets soos verantwoordbare joernalistiek in die bedryf nie. Die waarheid sneuwel maklik. Ek’s lus vir ’n nuwe uitdaging.” “Wat gaan jy nou doen?” vra die haarkapster benoud. “’n Boek oor die geskiedenis van die bankwese in Suid- Afrika skryf, en ’n plattelandse dorpie wil hê ek moet die plaaslike koerant kom oorneem. Die vorige redakteur het afgetree. Suid-kaap, mooiste plek op aarde.”
Antoinette besef dis nie net sy wat nuwe uitdagings in die gesig moet staar nie.
“Klink vir my bra vervelig,” sê Carol terwyl sy die knipper soos ’n grassnyer deur Bertus se dik bos hare stoot.
Bertus glimlag. “Jy sal nie die eerste persoon wees wat die plattelandse lewe onderskat nie, Carol.”
Hy beur sy kop vir ’n oomblik uit Carol se greep. “Is jy nog by De Jager en Elliot?”
Antoinette besluit om haar werkloosheidstatus te bely. Dit kan netsowel teenoor haar haarkapster en Bertus Grobler wees. Wie kan ’n gesoute joernalis soos Bertus bluf? Klink vir haar of hy in dieselfde bootjie is: “Was nog tot gister.” “Het jy bedank?” “Afgelê.” “Haai, shame, wat gaan jy nou doen?” vra Carol. “Hulle kan mos nie iemand soos jy laat loop nie. Hel, jy’s famous!” Bekend of nie bekend nie. Sy sit sonder werk. “Dalk beter,” mymer Bertus. “Jy weet Frik de Wet is by die bankskandaal betrokke?”
“Ag, nee. Jy’s laf,” stry Antoinette. “Frik is ’n uitgeslape belegger, hy sal nie by duister transaksies betrokke raak nie.”
“Wel, dié keer het slim sy baas gevang,” sê Bertus beslis. “Jy moet maar môre jou koerant lees. My swanesang in Die Spieël, altans dit wat ek toegelaat is om te skryf.”
Carol vryf oor Bertus se borselkop. “Die styl pas jou goed. Dit laat jou oë nog blouer lyk,” las sy dromerig by.
Ja, sy glimlag lyk helderder, sy skouers breër, dink Antoinette. Of is dit net die vooruitsig op ’n nuwe uitdaging wat dit aan ’n mens doen? ’n Wegbreek van die gejaag en harwar van die stadsbestaan. ’n Lowerryke plattelandse dorpie en geskiedkundige huisies lyk opeens vir Antoinette alte aantreklik.
Bertus staan op om te gaan betaal. Hy draai na Antoinette: “Ek sien jou later by die damestee? Die platteland sal ideaal wees vir jou. ’n Finansiële analis kan mos van enige plek in die wêreld af werk. Opdragte is net ’n e-pos ver.”
Antoinette knik halfhartig. Sy wonder of Bertus boonop gedagtes kan lees. Sy oorweeg lankal die moontlikheid om na die landboumark uit te brei. Beleggingsraad en sakeplanne vir boere. Werkskeppingsprojekte.
“Wat sê jy nou van die kort bob?” onderbreek Carol haar. Die vaalhaarvrou loop uit, haar hare minder vaal.
Antoinette haal die foto uit haar handsak. “Sny dit net so ’n rapsie korter, asseblief. Blaas dit droog met ’n paadjie aan die regterkant, en die poniestert oor die skouer. Amper soos Julianne Moore s’n, hier, op die foto.” Carol loer na die foto. “Mmm, ja. Dit laat haar misterieus lyk.” Als hoef nie te verander nie, dink Antoinette. Sy voel veilig agter haar dik rooi haargordyn. Sy het die misterie van dinge nodig, ’n bedaarde gemoed, wanneer sy haar later vanoggend aan Bertus se planne, aan sy uitdagende blou oë, gaan blootstel.
*Celesté se roman Verlorenkop verskyn. Prys: R240.
a.y.k 083 256 7890 Accessorize 021 447 7718 www.accessorize.co.za American Swiss 021 938 1966 www.americanswiss.co.za