Sarie

EK WORD NIE MOEG EN HONGER NIE EN SELDE KWAAD

- Elsabé

< Elke haar op sy plek, die drade van haar lewe klaarblykl­ik stewig in die hand, sit sy op die diep rusbank in haar huis op Stellenbos­ch. ’n Huis met baie prentjies en baie stories.

Haar familielyn is vol sterk vroue en die band tussen hulle nou geweef. Elsabé, as enigste dogter, bewaarder van hulle wat heengaan se aardse kleinode, hul energie wat nog daaraan kleef. Met haar sterk visuele geheue kan sy die fynste detail met byna rekenaarpr­esisie herroep. Klik: Haar ma se moeë voete op die stoeltjie wat Elsabé met ’n treffende Gustav Klimt-tapisserie laat oortrek het. Klik: ’n Bejaarde, Joodse egpaar neem op ’n markie afskeid van die antieke groen kristalgla­se waaruit ons drink. Klik: Ouma Bettie se klavier, die kappie wat sy vir die son opsit, stylvol geraam. Klik, klik, klik . . .

Só put sy uit die verlede, met haar oë terselfder­tyd op die toekoms gefokus. In die voorportaa­l hang ’n skildery wat sy in Frankryk gekoop het. ’n Hond so in dolle vaart, hy word in ’n perd getransfor­meer. ’n Meisietjie klou om lewe en dood aan sy nek, die momentum maak haar swaartekra­gvry en sy vlieg deur die lug. Maar saam, dié gaan sy. Die lig tegemoet, wat van vooraf stroom. “My vriendin het gesê: ‘Koop dit, anders koop ek dit vir jou.’ Want in ’n groot mate voel dit na waar ek nou in my lewe is.”

Baie van ons het jou jare gelede as Tv-aanbieder leer ken. Maar jy was aktrise voor dit, soos nou weer?

Skaars kniehoogte, het ek die gediggie “Poppie se rokkie” by ’n eisteddfod voorgedra. Die hoogtepunt was die einde, toe ek my wit rokkie aan die kante bymekaarma­ak en buig. Babs Laker, die veteraan-aktrise en toneelafri­gter, was beoordelaa­r en het gesê my ma moet my na haar stuur. Op 15 het ek radiowerk begin doen onder leiding van die veteraan-regisseur Suzanne van Wyk. Ek het dus ’n lang verweefdhe­id met die kunste, uitsaai, teater.

In 2005 is jy ná sowat 25 jaar terug verhoog toe. Het jy vooraf

daaroor gewroeg?

Nee, wat. Ons het Kaap toe getrek en ek is ’n rol aangebied. Met drie kinders was Tv-aanbieding en -oorklankin­g voorheen baie gerieflik. Want as jy dink ek’s lief vir Nala, kan jy jou indink hoe ek oor my kinders voel. [Nala het inderdaad haar eie stoel aan tafel, want sy wil haar nooi altyd in die oë kyk.] Daar is seisoene in jou lewe, verskillen­de tye dat jy dinge doen. En elkeen maak daai keuse uit sy eie verwysings­raamwerk.

Jy sê op jou grafsteen kan net staan: Ma.

Klein kinders fassineer my, bring weer die kind in my uit. Daar was altyd maatjies by my kinders. Hulle sou oor die werf streep met my klere en skoene aan, wat hulle alte graag gedra het. Een middag kom ek by die huis en die gangmuur is met die mooiste tekeninge versier. Ek het gesê dis pragtig. Maar in die toekoms moet julle dit dalk op papier doen, dan kan ons dit saamvat as ons die dag trek.

Verhoogvre­es is skynbaar nie iets wat jy ken nie?

Néé. Dis wonderlik om op die verhoog te staan en te voel die gehoor is met elke asemteug saam met jou. Roeline [haar aktrise-dogter] sê altyd: “Ma, jy’s vir niks bang nie en niks is ooit te veel of te erg nie.” Maar ek hou nie van spinnekopp­e nie, daar is net te veel oë! Nee regtig . . . In ’n Harry Potter- fliek was daar mos eenkeer so ’n grote. Toe daai ding met ’n diep stem begin praat, wou ek net daar onder my stoel inklim. Sodat die agt rooi oë my kan miskyk!

Waarvoor herken mense op straat jou meestal?

Ná die ikoniese klap wat ek Gita in 7de Laan gegee het, keer kykers my dikwels voor: “Ma’ djy moes haar harder geklap het, man!” Dit verteenwoo­rdig dalk ’n klap wat baie vroue ’n ander een sou wou gee. Jongmense wat kleintyd saam met hul ouers na Tv-programme soos Potpourri gekyk het, onthou my uit daardie tyd.

Het jy haar regtig geklap?

Ja! Ons het vooraf met ’n stuntman repeteer sodat ek dit kamma kon doen. Maar Jo da Silva sê net voor die opname: “Klap my lekker hard. Dis een klap wat reg moet wees.” En ek klap haar so hard dat ons albei daarna verskrik na mekaar staar. Terwyl my vier vingers op haar wang vorm aanneem.

Die verhouding tussen jou en Roeline is uitstekend . . .

My ouma Bettie het ses dogters en twee seuns gehad. Ek ken tantes, ’n clan van vroue. My ma, Roeline, se verhouding met haar ma was net so sterk. Oud en blind het ouma Bettie by ons in ons drieslaapk­amer-woonstel in Tamboerskl­oof gewoon. Ek en sy het die hoofslaapk­amer gedeel. Pa Jan het die vertrek met ’n groen gordyn afgeskort. Haar plekkie agter dit, die lig het haar oë gepla. Ek aan die stoepdeur en berg se kant. So het ons drie jaar gebly, tot haar dood op 86. Dis dalk waar ek geleer het om mense te versorg, te nurture.

Soos jou ma, wat Alzheimers­iekte gehad het?

Sy het aanmekaar gehuil. Op haar

sterfbed gesels ek saggies met haar: “Ma, jy moet nou gaan, so baie mense wag vir jou, jy gaan weer jonk en sonder pyn wees.” Die twee tannies, saam met haar in die kamer by die aftreeoord, se koppe was ook maar deurmekaar. Die een skree: “Oe, dit klink mooi, ek wil saamgaan!” En ek: “Dis reg, tannie, ons vat jou saam!” As ek vir my ma sing, begelei die ander een ons soos ’n walvis: “Hooooooooo­eeeee!”

Jy moes al telkemale familie oor daardie finale drempel help. Is dit nie baie traumaties nie?

Dis uiteindeli­k net ’n oorgang. As jy in ’n posisie is om iemand oor daardie grens te help is dit kosbaar. My ma . . . ek het haar kop vasgehou, gesê sy het ’n wonderlike lewe gehad. Sy was rustig, die huilery het opgehou. Die tannies was doodstil, asof hulle weet wat gebeur. Ek het vyf minute ná haar dood net daar gesit. Die son het by die vertrek ingeval en daar was onbeskryfl­ike vrede.

Hoe het dit jou persepsie van die lewe verander?

Die lewe is heilig, kosbaar en jy moet dit ten volle benut . . . lééf. Ek is byvoorbeel­d mal oor reis. In Junie gaan ek en ’n vriendin Boedapest en Krakow toe. In Julie wag ’n 4x4-tog saam met vriendinne na die Kunene in Namibië. Ek hou nie van op die grond slaap en sand in my skoene nie. Maar jy moet ongewone dinge doen. Dus sit ek my hoed op, vat my muskiet-stokkies en ek is reg!

Jy is klein, 1,6 m lank, en hou van hoë hakke. Wat is dit met kort vroue en hoë skoene?

Vir radiowerk moes ek op twee volumes geelbladsy­e staan vir liefdeston­ele tussen my en die lange Lourens Swanepoel! Want ons stemme moet op dieselfde vlak wees. Daardie hoë hakke – dit het ook met gesag te doen. Ek bied gereeld slypskole in kommunikas­ie- en projeksiev­aardighede aan, ook vir studente. Ek weet nie wat hulle deesdae eet nie, maar hulle is lank, hoor. Om voor ’n klas te staan en jy is so klein en petite, dis vir my ’n bietjie silly. Maar ek belowe jou, wanneer ek oorsee is, trek ek my gemaklike Green Cross-plakkies aan, want ek loop ver en vinnig. Jou kommunikas­ie-slypskole is vir van studente en akademici tot sakemanne en politici. Wat is een ding wat jy aan kursusgang­ers wil oordra?

Die grootste ding wat jyself oor kommunikas­ie geleer het?

Ek en ’n vriendin was jare gelede op pad iewers heen. Met my jongste, Xander, in sy babastoelt­jie op die agterste sitplek. Om hom besig te hou sê ek so nou en dan tussen die geselsery deur: “Xannie, wat is 1 plus 1?” “Twee,” seg hy. So gaan ons aan. Toe weer: “Xannie, wat is 2 plus 2?” “Groen,” sê my kind. Jinne, sê ek, die kind het my wiskunde-kop gekry. Jare lank stuur ek hom vir ekstra lesse. Eendag, hy was al groot, vra ek: “Maar wat het jy daai dag bedóél?” “Ma, die verkeersli­g was groen en ek wou hê jy moet ry. Julle het so baie gepraat.” Ek het toe besef: Moet nooit sommer aanneem jy weet wat iemand bedoel nie.

Jy is ’n jaar en ’n half gelede geskei. Hoe sien jy jou lewe nou?

My lewe is ’n tapisserie. Vol kleur, goud, silwer. My familie word net groter en lekkerder. My twee seuns is in vaste verhouding­s, Roeline trou op 7 Mei met Werner Lotz, ’n argitek. (Ek klim die sesde van die Sinfonia af. “Ma, jy moet nou nie dat die boot sink en ek sonder jou moet trou nie,” grap Roeline.) Ek het twee wonderlike broers, Jannie en Eben [Grobbelaar], en hul gesinne. Tel gereeld drade op met jare lange vriendinne, en daar is altyd plek vir nuwes. Ek is deeglik bewus van die sterk en liefdevoll­e mense wat langs my marsjeer, die wind onder my vlerke. Jy kan nie een tapisserie­draad uittorring nie, dis deel van die geheel. Die hele storie gaan dan uitrafel . . . letterlik.

Is jy so georganise­erd en in beheer soos jy lyk?

Die filosoof Friedrich Nietzsche sê jy moet ’n bietjie chaos in jou lewe hê om geboorte aan ’n dansende ster te gee. Ek glo aan wye grense. Maar ook ’n stewige basis om die oopheid, wydheid te hanteer. Anders is jy soos ’n gypsy wat in die wind rondwaai. Ek kan nie in totale chaos funksionee­r nie. Gee my ’n vaste verhoog, wat my kan dra. Dán dans ek.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa