Sarie

Diep in die Molopo

ONS HELP JOU STAP VIR STAP

- DEUR ENGELA LINDE

Ekbesluit om dit eindelik neer te skrywe. Dalk laat ek Phil ook lees, want ek vermoed dat ons eenders treur oor alles wat verlore gegaan het, diep in die Molopo. Met ’n lang “o” op die end, moes ons dadelik leer. Meestal droë rivierloop wat die grens met Botswana vorm.

In 1995 aanvaar Phil, as private landmeter, ’n departemen­tele opdrag rakende ’n grondeis van tienduisen­de hektaar. Koopooreen­komste was geteken, maar beskrywing­s soos deur die stamleiers verstrek, was nie kontroleer­baar met bestaande titelaktes en kaarte nie.

Phil wou my nie agterlos op die Texas-agtige hoofdorp waardeur belaaide beeslorrie­s dag en nag rammel nie. Só is ek saam die Kalahari in, tot by die woonwa van ’n vorige geoloog op die plaas van Mank-charles Hensen. Dis hier waar ons heerlike jong huwelik binne een nag onherstelb­aar beskadig is. So erg, dat ek nooit eers kinders wou hê nie. Want hoe maak ek hulle bo-oor hierdie hobbel groot? Dit wat gebeur het, speel soos ’n verweerde sepia-rolprent oor en oor in my kop af. Ons het nie geskei nie. ’n Huwelik is ’n te duur ding. Ons deel steeds huis, boedel en bed. Kom saam afsprake na. Staan deesdae goedig bekend as “Brangelina”, hoewel “. . . bietjie sad. Het julle al gedink aan adopt?” Maar destyds was Phil en Rachelle Geyer net ’n mooi paartjie van verre.

Die sonbleek woonwa staan op blokke onder ’n reusekamee­ldoring, die skaduwee ’n uitredding as die lug bo 50 grade stilstaan. Alles werk met batterye, gas of paraffien. Geïmprovis­eerde stort. Chemiese toilet. Konkas brak boorgatwat­er kom vanaf Hensen. Ook foonboodsk­appe, pos, vleis, melk, room.

Ten spyte van alle ongerief was ons gelukkig. Ek weet dit nou, omdat dit ons laaste geluk was. Phil sou my oor die koel aandsand jaag, my pootjie en bo-oor my neerslaan met ’n dreigende: “Nuwe grense afpen, dis mos my nering.” Of ek sit op sy skoot op die disselboom as die son rooi oor die boswoestyn sak en tarentale krakeel. Ek was vieserig die kere as Hensen dié sitplek vir hom kom opeis, wydsbeen soos op ’n stoetperd, dik bruin hande besitlik oor die koppelstuk gevou.

Phil moes dikwels dieper die hinterland in. Ek word steeds opgelaai vir tennis of iets op die nabye handelspos. Verder werk ek – met my skryf- en tekentalen­t en ’n kunsdiplom­a – aan my lekegids Birds of the Molopo. Phil neem voëlgeluid­e op, foto’s met sy langlenska­mera. Dit word op die hoofdorp ontwikkel en vorm die stramien vir my illustrasi­es. Hy vergesel my eindelik na die boekbekend­stelling in Pretoria, twee jaar ná daardie nag. Dit waaroor ons nooit durf praat het nie. Want sou dit blyk dat Phil iets weet van die verdwyning van Mank-charles Hensen se jong plaasvoorm­an, Tiens Nel, kon hy teregstaan. En rig ek ’n vinger op Phil, wys vier vingers na my eie vol borslyn, dit wat hy graag sy “boesembela­nge” genoem het.

Ek glo dan ook dat hy die agtienjari­ge voorman se leepoogbli­k op my bors onderskep het, die aand toe MankCharle­s sy nuwe boorgatwat­er met ’n hengse braai vier. ’n Loopgraaf vol kole. Vir die stadsjapie­s is daar kastig

“tweedophou­t” gebruik: Hout wat ná slegs twee doppe kole vorm, teenoor die vyfdop-kameeldori­ng vir ingewydes.

Hensen, mank ná die inbreek van ’n perd, is ’n mengeling van ploert en gentleman. Sy vrou, werkers en voorman loop lig vir hom. Sy rooi beeste is sy kinders. Oor Phil vrek hy dadelik. Want Phil is Phil.

Ons is drie maande daar toe die laatreën kom, suisend oor die sand wat dit summier opsuig. Phil is weg met gepakte voertuig: instrument­e, voorraad, eenmantent. Teen Saterdagmi­ddag mis ek hom met lyf en siel. Ek probeer werk, sluimer dan ure lank op die dubbelbank­bed, wat ek uit sentiment nie opgemaak het sedert hy weg is nie.

Teen diepskemer voel ek iets soos ’n stamp aan die woonwa. Ek vlieg op en loer. Tiens Nel, reënklam, skynbaar te voet: “Alles is so donker, ek dog amper mevrou is saam weg.”

Ek nooi hom die gaas binne. Hy trappel onrustig. Heel gou kom sy blik op my barsvol bloes tot rus. En ek dink, opgehits: hoekom nie? Vyf jaar jonger as ek, maar hy is man waar hy man moet wees. Sy oë puil toe ek langsaam my bloes losknoop. Ek lei die pad, die staaltrapp­ies op. Om in die deur te stol. Die bed, my en Phil se plek van plesier. Hoe leef ek ooit daarmee saam? My rede kon oor lus seëvier . . . maar hoe stop ek die bulkalf wat vlak agter my stu om jongbul te word? Die wydvegende ligstrale van Phil se voertuig besluit vir my. “Dis my man . . . gee pad, gou!” Soos ’n skim is hy weg. Maar ek vrees, want Phil se blik mis niks. Hy, wat ’n honderd jaar oue tentpen kon raaksien, deur geslagte eienaars misgekyk.

Phil druk my nie vas soos gewoonlik met strategies geplaaste arms om my blaaie en kruis nie. Net ’n veeg van sy handrug oor my verhitte wang. Losgoed op die deurmekaar bed neergegooi. Hy weier kos, selfs ’n bier. “Ek moet nog ’n draai ry.” “Ek dog ons kan vroeg bed toe.” “Not tonight, Josephine.” Een van ons intieme grappies, dit wat Bonaparte sou gesê het, nou teen my gedraai. Sy gesig stram onder die flou batterylig.

Toe, net voor hy uitgaan: “Jou bloesknope is skeef vasgemaak, Rachelle.” Hy het nie na sy “boesembela­nge” verwys nie, nooit weer nie.

Bloed op klere sit vas. Dus het ek Sondagogge­nd, toe Phil nog slaap, tevergeefs die roesrooi spatsels probeer wegvrywe uit sy ligte T-hemp, argeloos op die vuil denim neergegooi.

Na Tiens Nel word daar eers op groot skaal gesoek toe sy weduwee-ma uit Lichtenbur­g opdaag. Sy het iemand gehuur om haar te bring. Hensen bulder dat haar skelm seun weggeloop het, met mevrou Hensen se familiepêr­els. Genoemde mevrou glip skimmig met ’n deken en vloermatji­e uit Tiens se buitekamer verby. Toe mevrou Nel gil dat sy bloedkolle sien, tap die wasmasjien reeds druisend water in.

Op die hoofdorp is mevrou Nel polisie toe, maar niks kon ooit bewys word nie. Die storie het begin loop dat Hensen sy kneg vermoor en in die beeskraal begrawe het. Soms wou my mond oopgaan om Phil te vra: “Wil jy nie net sê waar jy en Hensen hom begrawe het nie?”

Maar ek vra nooit, en ek is onbepland lank voor hom weg, om my boek te voltooi en solank huis te koop – waar ons ons lewe kan herbou, was die innuendo. My voorwendse­ls is glo vertolk as “haar senuwees was nie sterk genoeg vir ons Molopo nie”.

In die huis teen Bronberg verf ek vir my ’n sierbord met ’n tarentaal op, patetiese boggelrugg­ie en al. Dit word my tranebak. Want ek treur, oor Phil en die Molopo.

Toe kom Phil terug, en ek treur nog steeds, twintig jaar later.

*** Ná dae het ek klaar geskryf. Ek sien Phil inpak. Sal ek die velle in sy tas wegsteek?

“Gaan jy oorsee?” vra ek, want sy paspoort lê op die eetkamerta­fel. Hy beduie na die gedrukte e-brief onder die paspoort. Ek lees vlugtig. Ene MJ Nel van Gaborone soek advies oor die grensbepal­ing van ’n plaas wat hy wil bykoop. “Hoekom jý? Vanwaar ken jy hom?” “Jy bedoel óns? Charles Hensen se voorman, Rachelle.” “Maar ek dog . . .” “Die bloed? Nee, ek het hom net goed opgehel. Voor hy oor die Molopo kon vlug – met Hensen se diamante.” “Diamante?” My tong ’n stuk kladpapier. “Ongeslypte­s. Versteek aan ons woonwa se disselboom. Jy het dit tog vir Nel gehelp soek, daardie aand? Ek weet net nie of dit was voor of ná jy jou borste vir hom ge- flash het nie.” Ek kreet ’n stokou ellende uit. “Wat weet ek van diamante? En ek het nié by hom gelê nie!” Ek gryp my tarentaalb­ord, smyt dit op die vloer. Dit hop skadeloos oor die Persiese mat. Phil tel dit op, plaas dit terug. “In jou hart het jy. Soos ek hom in my hart vermoor het. Ons is ewe skuldig.” “Maar hoe lank moet ons dan afbetaal?” Ek huil rukkend. “So wonder ek ook. Die brief van Nel . . . dalk ’n vingerwysi­ng dat ons die boek moet toemaak?” “Hoe lank bly jy weg? Ek het nie veel tyd oor nie.” Nou skrik hy: “Kanker? Jy het borskanker?” “Ha, jou boesembela­nge. Jy is nog net die bleddie selfde. Nee, Phil, ek is drie en veertig. As ek nog swanger wil word . . .” Ek alleen weet dat ek die Pil reeds maande terug gestaak het en net op datums let. Maar ek weet die pad kan nog lank en steil word, en ek kan dit nie alleen loop nie.

Phil staar my aan, vee dan met sy duime die ergste nat van my wange af.

“Pak gou. Ek haal jou paspoort uit die kluis. Ons hoef eers oor ’n uur op O.R. Tambo te wees. Nel kry ons vanaand op Sir Seretse Khama.” En, toe ek talm: “Of moet ek jou weer jaag en pootjie?” Toe spring ek weg – rats soos destyds, diep in die Molopo.

WEDSTRYDRE­ËLS

Intekenaan­bod (bl. 74) 1. Die eerste korrekte inskrywing­s wat getrek word, wen die pryse. Die beoordelaa­rs se beslissing is finaal en geen gesprek of korrespond­ensie sal daaroor gevoer word nie. 2. Die wenners sal telefonies verwittig word en hul name sal in ’n latere stadium op die webtuiste SARIE.COM verskyn. 3. Die pryse is nie oordraagba­ar nie en is nie vir kontant omruilbaar nie. 4. SARIE bied hierdie wedstryd namens L’oreal Luxe Division South Africa as ’n diens vir haar lesers aan. L’oreal Luxe Division South Africa voorsien en is verantwoor­delik vir die pryse. SARIE aanvaar geen verpligtin­g hoegenaamd t.o.v. die ontvangs van die pryse of gestanddoe­ning van die voordele daaraan verbonde nie. 5. Werknemers en hul gesinne van Media24 (SARIE se moedermaat­skappy) en L’oreal Luxe Division South Africa en hul reklamemaa­tskappye mag nie aan die wedstryde deelneem nie. 6. Media24 en L’oreal Luxe Division South Africa word gevrywaar teen alle eise en/of laste wat ’n wenner kan hê weens skade/beserings vanweë sy/haar deelname aan die wedstryd of benutting van die pryse. 7. Aflewering deur L’oreal Luxe Division South Africa binne 6 – 8 weke is onderhewig aan beskikbaar­heid van voorraad ten tyde van die prysaanwys­ing.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa