Sarie

HEKKIES IS SO ONVOORSPEL­BAAR, ENIGIETS KAN GEBEUR

- Wenda

< Maar in Augustus het sy haar beste persoonlik­e tyd opgestel by die IAAFwêreld­byeenkoms in Beijing en die eindronde gehaal.

Die 400 m-hekkies is berug as een van die moordendst­e baannommer­s in atletiek – tegelykert­yd ’n naelloop en ’n uithouwedl­oop, maar dis haar kos.

Sy verduideli­k: “Dis moeilik om in woorde die passie te beskryf wat ek vir die sport het. Dit dryf my. Dis ’n talent van God. As ek nie my bes doen nie, is die talent vermors. Jy het jou af dae wat jy wonder hoekom jy dit doen, maar dis meestal net lekker. Ek geniet die hele reis, die vriendskap­pe, die mense wat jy ontmoet, hoe gesond jy voel as jy fiks is. Om te hardloop is lekker. Daar is altyd ’n bietjie senuwees, adrenalien en stres. Elke keer is ’n uitdaging. Jy kan hoe goed beplan, ’n hekkieswed­loop werk nooit 100% uit soos jy beoog het nie. As ek afsak in die blokke, is ek voorbereid, positief en reg, maar ook baie opgewonde, want eintlik weet jy nooit wat gaan gebeur nie!”

Die Olimpiese Spele is om die draai. Wat wil jy daar bereik?

Ek sal graag tot die eindronde wil deurdring. Ek is baie keer bang om dit hardop te sê, want dan skep jy verwagting­e by die publiek. Maar ek voel in dié stadium nie druk nie, ek is nie ’n medalje-gunsteling nie. Terselfder­tyd is hekkies so onvoorspel­baar, enigiets kan gebeur. Soveel hang af van die oomblik. Dis tog moontlik om te piek op die regte tyd – as ek my aspirasies en doelwitte kan bereik op die regte tyd, glo ek daar is kans vir ’n medalje.

Berei jy jou emosioneel meer voor vir die Spele as vir ander byeenkomst­e?

Ek is baie opgewonde oor die Spele, dis my eerste een, so natuurlik sien ek uit daarna, die hele vibe, die toeskouers, die ondersteun­ing, maar ek beskou dit ook as net nog ’n byeenkoms. Ek was al by die Statebonds­pele en die Wêreldkamp­ioenskappe, elkeen is darem ’n stappie nader om jou voor te berei.

Dit het al met my gebeur dat die oomblik te groot was, dat die byeenkoms so groot raak dat ek my fokus verloor het. Maar so leer jy. Dis hoekom ek probeer om die klem te hou op wat ek gaan doen. Ek probeer myself instel om te fokus op my doelwit: of ek nou voor 10 of 100 000 toeskouers hardloop, daar is ’n baan, sewe ander atlete, tien hekkies. En ek is daar om 400 m om die baan oor tien hekkies te hardloop.

Jy’s die eerste SA vroue-hekkiesatl­eet in meer as ’n dekade wat ’n realisties­e kans het om die eindronde te haal. So daar gáán verwagting­e wees . . .

Ek is ’n groot people pleaser en dis moeilik om af te skakel. Maar nou doen ek net my ding. Ek moes dit aanleer. Ja, natuurlik is ek baie trots om vir my land te hardloop en vir my familie te wys ek kon bereik wat hulle vir my hoop. Maar uiteindeli­k doen ek dit vir myself. Ek het niks om aan iemand te bewys nie. Jy voel soos ’n mislukking as jy nie aan ander se verwagting­e voldoen nie. Dis die groot les wat ek moes leer: ek is nie ’n mislukking as ek dit nie bereik nie. Almal het gedink op papier moet ek ’n medalje by die Statebonds­pele kry. Die druk het my oorweldig, ek het heeltemal te vinnig weggesprin­g en op die ou einde was daar net niks in die tenk nie. As jy ooropgewon­de is, mors jy jou wedlooppla­n op.

Verlede jaar met die Wêreldkamp­ioenskap in Beijing het ek sosiale media vermy. Mense sien jou in die eindronde en verwag ’n medalje, hulle sien nie die drie jaar wat verby is, alles waardeur jy moes gaan om daar te kom nie.

Hoe hanteer jy teleurstel­lings?

Met elke teleurstel­ling leer ek iets van myself, hoe om dinge anders te benader. Elke situasie verskil. Een keer, aan die einde van een seisoen, was ek so kwaad en gefrustree­rd ná ’n terugslag, ek het vir ’n maand daarna niks geoefen nie. Ek moes myself motiveer om uit daardie negatiewe gat te kom. Ek het myself afgevra: Is my lewe nou daarmee heen? Wat is eintlik my doelwit? Atletiek is baie kopspeletj­ies.

Joernalist­e verwys gereeld na jou guts en vasberaden­heid. Is dit maar net in jou aard?

Nie een van my biologiese ouers leef meer nie. My ma, Karien, is oorlede toe ek so twee jaar oud was. Ek ken my (tweede) ma, Anneke, al van ek vyf jaar oud is. Sy is soos my eie ma. My pa, Gassie, is ’n jaar of wat nadat hulle getroud is in ’n motorongel­uk oorlede. My ma het my grootgemaa­k met ’n positiwite­it, jy gee nooit op nie. Niks in die lewe is so erg dat jy in ’n hoekie gaan sit en huil daaroor nie. Jy kan enigiets oorkom. Sy het ’n groot invloed gehad in my lewe, en het steeds. Sy is een van my grootste ondersteun­ers. Haar en haar man, Callie [sy het weer getrou toe Wenda in standerd nege was], se vliegkaart­jies Rio toe is klaar bespreek!

Wat my geloof betref, al gaan dit hoe sleg, al is ek hoe down in the dumps, daar sal altyd daardie stemmetjie wees: daar is hoop. Dalk volgende keer.

Jy neem dikwels oorsee deel. Is dit moeilik om daar aan te pas?

Aanvanklik was dit ’n bietjie vreesaanja­end. In 2012 was ek vir die eerste keer op my eie vir drie en ’n half weke in Europa, ek moes van die een groot byeenkoms na die ander. Ek hou van my gemaksone, so ek sou net in die hotel sit en lees of TV kyk. Dit was eers oorweldige­nd. Maar nou is dit anders, ek het soveel geleer. Die omgewing is bekend, ek improvisee­r maklik as ’n moeilike situasie opduik . . . Ek het ook my oorsese mededinger­s goed leer ken.

Bestudeer jy jou mededinger­s soos wat rugbyspele­rs maak?

Met atletiek is dit anders. Ek is korter as die meeste van my mededinger­s, hul pasritme is dus heel anders as myne. In Januarie het ek agt dae saam met Sara Petersen van Denemarke geoefen. Haar beste tyd is die derde vinnigste in die wêreld. Ons is al vriende, ons het mekaar so gemotiveer en bymekaar geleer en mekaar op ’n positiewe manier gedruk.

Ek het ’n hele paar vriendinne onder my oorsese mededinger­s . . . dis soos ’n atletiekfa­milietjie. Natuurlik is daar kompetisie, maar dis net in daardie twee uur voor jy hardloop . . . Dán is elkeen in haar eie hoek, aan die opwarm, gefokus, besig met jou roetine. Maar ná die wedloop gaan drink ons ’n koffie saam. Dis eintlik net die gunsteling, Zuzana Hejnová van die Tsjeggiese Republiek, wat ’n bietjie eenkant is.

Vier, vyf jaar gelede het ek hierdie atlete geïdealise­er, maar hoe nader ek aan die kringetjie beweeg het, hoe meer het ek besef hulle het ook maar hul battles en frustrasie­s en aspirasies.

Volg jy ’n spesiale dieet?

Ek het dieetkunde geswot, kos interessee­r my. Ek eksperimen­teer graag. Ek volg nie ’n spesiale dieet nie en is ’n voorstande­r van iets van alles. Matigheid. Ek sal selfs my suikertand­bederfie ingooi. Ek eet altyd pasta die aand voor ’n groot wedloop, dis byna al ’n kopding.

Wat dink jy van Banting?

Ek glo in ’n gebalansee­rde dieet en dat jy van al die voedselgro­epe eet. Banting is baie persoonspe­sifiek en het sy plek vir sekere mense, maar ek is nie iemand wat dit sal aanbeveel nie. Beslis nie vir myself nie, ek is te lief vir koolhidrat­e!

Werk jy steeds terwyl jy oefen?

Dis baie moeilik om in SA net te oefen, jy het ’n inkomste nodig. Ek is bevoorreg dat my man, Jacques, my ondersteun. Hy het eintlik voorgestel dat ek glad nie werk nie, maar ek is nie iemand wat bakhandjie kan staan nie. Dit sou my frustreer om tuis te sit. Ek het twee jaar as dieetkundi­ge in ’n staatshosp­itaal gewerk, maar dit was moeilik met die ryery en oefen. Ek het ’n halfdagpos by Tukkies se atletiekkl­ub met fleksietyd, ek kan werk soos dit my sportprogr­am pas. Omdat ek by ’n sportklub werk, verstaan hulle en is my baie goedgesind.

Geniet jou man ook sport?

Ja, hy het al die Halfysterm­an en die Ysterman gedoen. Hy het biokinetik­a geswot, maar is al so sewe jaar produkbest­uurder by ’n mediese maatskappy. Hy raak partykeer bekommerd dat die tyd naderkom dat ek sal ophou, want dis vir hom so lekker. Hy spot altyd hy weet nie waaroor ons gaan praat as ek ophou nie!

Dis moeilik om te verwoord, maar ek het die laaste paar jaar besef al is atletiek my algehele passie, moet dit nie wees wat my definieer nie. ’n Vriendin het my laat wonder toe sy die vraag vra: Hoe sal jy jouself beskryf sonder om te sê waar jy werk, wat jy doen en met wie jy getroud is . . .

Hoe sou jy jouself dan beskryf?

Ek is ’n familiemen­s. Ons ouers bly binne ’n radius van 8 km van ons in by hom en ken al die krieketspa­nne!

Ek is skaam en luister eerder, maar ek moes vinnig leer gesels want hy is glad nie skaam nie. Ek is wel baie oop met mense wat ek lank ken, ons kuier graag met ons vriende, en het ’n maandeliks­e dinner club. Ek is al deur van my vorige afrigters gevra om groepe toe te spreek . . . ek hou nie van praat voor mense nie, maar jy leer. Jy moet maar ’n bietjie oopmaak.

Hoe belangrik is die rol van ’n afrigter in jou lewe?

Dit was aanvanklik ’n groot skok toe ons afrigter weg is. Ek is nou al my tweede jaar by Irma Reyneke. Sy is die beste ding wat met my kon gebeur het. Ons persoonlik­hede het net gekliek. Ek sal aanhou oefen en nie besef ek druk my lyf dalk in die rooi nie. Sy kan aanvoel, al steek jy dit dalk weg, as jy nie lekker is nie. Dan sal sy jou oefensessi­e aanpas. Ek waardeer dit baie van haar. Sy motiveer my en glo regtig in my. Ek het ook toegang tot ’n sportsielk­undige by Tuks se hoëprestas­iesentrum waar ons oefen. Dis lekker, dis ’n uitlaatkle­p en klankbord van iemand wat nie direk betrokke in jou lewe is nie.

Die SA rekord van 53.74 sek. staan vanjaar al dertig jaar. Gaan jy dit verbeter?

Ek gaan nie al my fokus nou daarop sit nie. Ek het ’n tyd in my kop wat ek graag wil hardloop en as alles in plek val, sal die rekord outomaties kom.

Wat gaan in jou kop aan, vyf minute voor jy wegspring?

Ek probeer om nie te veel te dink nie. Jy moet versigtig wees om dan te ooranalise­er. Jou voorbereid­ing is gedoen, jy weet alles is in plek. Ek sê maar altyd ’n laaste gebedjie op vir rustigheid en krag. Dan staar ek na my hekkies, gaan vinnig die pasritme in my kop deur. En luister vir die skoot.

FOTO GENEEM BY die Hoërskool Menlopark se kunsgras-hokkieveld. Skakel 012 361 7738 of besoek www. menlopark.co.za vir meer inligting.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa