Sarie

UIT PROVENCE

Dis koue kos, skat,

- * Die rolprent

Ek het pas, vir die eerste keer in jare, ’n luilekker langnaweek op my eie by die huis deurgebrin­g. Met die klem ewe veel op lui en op lekker.

Ek weet daar is derduisend­e mense vir wie alleenheid nie ’n keuse is nie, maar ’n pynlike permanente toestand. Ek wil nie onsensitie­f wees en eensaamhei­d verheerlik nie. Maar ek weet ook nou weer, uit eie ervaring, dat drie dae van sorgelose selfsug die beste moontlike verjonging­skuur is vir ’n moeë ma wat pal die vereistes van ’n beroep en die behoeftes van ’n gesin teen haar eie begeertes moet opweeg.

Ek het vergeet hoe bevrydend dit is om te eet wat ek wil. Wanneer ek wil! Waar en hoe ek wil! Die eerste dag het ek vars aspersies en aarbeie vir middagete geniet – niemand wat vra waarom is daar nie vleis op die tafel nie, Ma – met ’n plak donkersjok­olade as nagereg. Teen aandete was ek te lui vir enige moeite, toe meng ek sommer ’n pakkie poeiersop in ’n koppie kookwater – my gesin háát poeiersop – met nog ’n plak sjokolade en heelwat wyn.

Die tweede dag het ek ’n ou gesegde onthou – Die lewe is kort, eet jou poeding eerste – en veiligheid­shalwe my ete met die sjokolade begin. Nooit by enigiets anders uitgekom nie. Net nog meer sjokolade geëet en nog ’n glas wyn geskink toe ek ’n uur of wat later weer honger raak. O, en die saligheid van gaan slaap wanneer en waar en hoe jy wil! Die eerste nag het ek voor die TV aan die slaap geraak nadat ek tot die vroeë oggendure ’n Amerikaans­e Tv-reeks op Netflix gekyk het. ( Orange is the New Black, toetentaal verslawend, dis my enigste verskoning.) En eers tienuur die volgende oggend wakker geword – moontlik die eerste keer vandat ek ’n kwarteeu gelede ma geword het dat ek só laat slaap.

Die tweede nag het ek nóg later na dieselfde Tv-reeks gekyk. En elfuur die oggend eers opgestaan. Ook maar goed my mense het die derde dag teruggekee­r, want as ek hierdie kurwe moes bly volg . . .

Ek het nie bed opgemaak of skottelgoe­d gewas of selfs die vullisdrom leeggemaak nie. Ek het in ’n pajamabroe­k rondgeslof en ’n paar digbundels van voor tot agter gelees, stadig, proe-proe, in stilte, soos ek selde die kans kry om gedigte te lees. En daarna ’n CD van Laurinda Hofmeyr dawerend hard gespeel en soos gewoonlik bewoë geraak oor haar toonsettin­g van Sheila Cussons se gedig “Blou”: Ek het jou lief, my land, ek het jou lief om jou blou . . . Gewoonlik moet ek my trane wegknip, netnou dink die kinders Ma word al weer weird, maar dié keer kon ek na hartelus tjank. Nóg ’n bevryding.

Ek het vir die eerste keer in jare lus gekry om te brei en oorskietwo­l uit ’n kas gaan grawe en ’n lappieskom­bers begin brei. Teen die einde van die naweek was al die wol in die huis opgebrei, al die sjokolade opgeëet, die meeste van die wyn opgedrink, byna twee seisoene van Orange is the New Black klaar gekyk, en ek so uitgerus en ongestres soos laas toe ek nog ’n alleenlope­r was.

’n Paar uur voor my mense sou terugkeer, het ek gou die bed opgemaak, die skottelgoe­d gewas, die oorvol vullisdrom buitentoe gedra, en hulle met skoon hare en vars klere ingewag. Skynheilig? Ja, natuurlik, maar ek sukkel al soveel jare om ’n goeie voorbeeld van selfdissip­line vir die hele gesin te wees, ek kon mos nie dat hulle sien hoe ek in ’n enkele naweek kan uitrafel nie.

Gelukkig lees hulle nie SARIE nie. Hulle hoef nooit te weet hoe salig selfsugtig die drie dae op my eie was nie. Dis iets wat net ander moeë ma’s sal verstaan.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa