Sarie

Skoonheids­baas se oorwinning ’n Tweede keer op die HOOGSTE PIEK

Bedags bestuur sy een van die grootste skoonheids­huise in Afrika, maar in haar vrye tyd klim Lynne Hanna berge. Sy het pas die piek van Everest die tweede keer bereik, in ’n jaar waarin sewe mense reeds hul lewe daar verloor het

- DEUR DELIA DU TOIT

Soossy die piek van Everest in Mei vanjaar genader het, het sy ’n vriend se lyk op die berg sien lê. Gesig ondertoe, nes hy gesterf het, lê Marko Lihteneker (van Slowenië) al sedert 2005 daar. En sy moes verbystap. Want kom jy in die moeilikhei­d op dié genadelose berg, kan niemand jou help nie – of jou lyk verwyder nie.

“Jy het eenvoudig nie die krag nie en dis iets wat elke klimmer verstaan,” sê Lynne Hanna, uitvoerend­e hoof van die skoonheids­huis Clarins in Afrika suid van die Sahara, terug in haar kantoor in Johannesbu­rg nadat sy op 21 Mei op die hoogste punt van die aarde gestaan het.

“Jy het skaars genoeg krag om jou een voet voor die ander te sit. Dis nie dat jy nie ander mense wíl help nie, dis dat jy fisiek nie kán nie.”

Dis al die tweede keer dat sy dié berg van 8 848 m uitklim.

Die eerste keer was in 2009, toe sy die piek vanaf die suidekant bereik het (vanaf Nepal), en dié keer het sy die noordekant uitgeklim (vanaf Tibet).

Dit maak Lynne, ’n Ier wat al 4½ jaar in SA woon, die enigste Britse vrou wat die bergpiek al van albei kante bereik het. Sy en haar man, Noel, saam met wie sy elke keer geklim het, is ook die enigste getroude paartjie wat dít nog kon doen.

Dr. Marisa Strydom (34), die SuidAfrika­ans gebore Australiër wat ook saam met haar man, Robert Gropel, geklim het, is op 20 Mei op die berg dood – ’n dag voor Lynne die piek bereik het. (Sien storie op bl. 50.) Lynne sou eers dae later daarvan hoor. “Mense verstaan nie regtig hoe ver die noorde- en suidekant van mekaar is nie. Dis kilometers van mekaar af, jy het geen kontak met mekaar nie.”

Die noordekant, vertel sy, is moeiliker omdat dit ’n meer tegniese klim is. Maar sewe mense is reeds vanjaar aan die suidekant dood, wat die dodetal op die berg nagenoeg 280 maak. Verlede jaar was al die roetes vir die eerste keer in 41 jaar gesluit ná ’n dodelike aardbewing en sneeustort­ing wat die lewens van 8 000 mense in Nepal geëis het, onder wie ook berggidse (sherpas).

“Elke klimmer voel vir daardie mense, want dit kon maklik jy gewees het. Voor my vertrek het ek my testament gereed gekry, briewe vir my familie geskryf en al die foto’s uit my >

< kantoor verwyder sodat niemand dit hoef te doen as ek iets sou oorkom nie,” vertel sy, haar stem saaklik.

Dis moeilik om jou in te dink dat Lynne (54), met haar bos krulhare, grimering en modieuse grys rokkie, pas vir twee maande die wind en sneeu aangedurf het.

Maar jy kom gou agter sy’s ’n tawwe een. Vol #woema! Jy weet sy is iemand in beheer, van haar stewige handdruk tot hoe sy jou geskokte uitdrukkin­g oor haar stories aflag.

“Ek is nie die soort mens wat opgee nie. Die aantrekkin­gskrag van Everest gaan juis daaroor om iets moeiliks te oorwin. Maar jy’s met tye bang, beslis. Daar is een deel wat ek spesifiek kan onthou . . .” Sy sit haar vingers teen haar slape en maak haar oë toe: “Dis donker, daar is so ’n nou stukkie ysige rots waaroor jy loop, en jy hou aan die berg vas. Toe dit lig word en ek terugkyk, was daar ’n reguit rotswand vir kilometers ondertoe. Toe dink ek net hoe bly ek is dat ek dit nie kon sien terwyl ek daar moes oor nie!”

Maar sy het ook ’n sagte kant. Toe sy die piek bereik, het sy nie soos die ander mense gejuig nie. Sy en Noel het eenkant, stilletjie­s, hul geliefde Duitse herdershon­d Babu se as gestrooi, wat hulle al die pad saamgedra het.

“Ons het in Desember verlede jaar lank gewik en geweeg oor hoe ons Babu gaan laat versorg terwyl ons weg is, want hy was al oud. En toe is hy skielik ’n week later dood. Ons harte was gebreek. Ons het in Maart van sy as in Ierland gaan strooi, en die res op Everest. Ons het soos babas gehuil op die berg, maar nou voel ons hy is tot rus gelê.”

Hulle het Babu in 2005 gekry, ná hul eerste poging om Everest uit te klim. Hulle het toe ook die noordekant geklim en het beplan om op die berg te trou, maar die geluk was nie aan hul kant nie. “Ons het ’n spesiale troulisens­ie gekry om enige plek op die berg te kan trou en ’n Tibettaans­e monnik sou die papiere vir ons teken. Dit was hierdie groot, romantiese reis!”

Maar op 7 000 m het Noel se oë inwendig begin bloei en hy het blind geword. Dit was moontlik weens ’n kombinasie van die lugdruk en weersomsta­ndighede. Die paartjie moes terugdraai.

“Ons was natuurlik baie teleurgest­eld. Geen piek, geen troue. Vir drie maande kon Noel nie eens bestuur of die rekenaar gebruik nie, terwyl sy liggaam die bloed weer herabsorbe­er het en sy sig teruggekom het. En toe kry ons Babu om hom geselskap te hou. Hy en Noel was van dag een af onafskeidb­aar.”

Noel, wat eers ’n polisieman was, het intussen voltyds by ’n Russiese avontuurma­atskappy begin werk. Vanjaar was die agtste keer dat hy die piek bereik het – een van vyf mense wat dít al gedoen het – en hy was ook hul ekspedisie­leier. Twee weke ná hul terugkoms in Suid-afrika het hy vertrek om K2, die wêreld se naashoogst­e piek, ook in die Himalajas, te gaan uitklim.

“Ek bekommer my oor hom terwyl hy weg is, ja, maar ek weet ook niemand se lewe is gewaarborg nie. As hy iets op ’n berg sou oorkom, sal dit ten minste wees terwyl hy op sy gelukkigst­e is, want hy doen waarvoor hy lief is,” sê Lynne.

Saam het dié twee al verskeie ongeloofli­ke avonture gehad. “Toe ons ontmoet het, het ons gekliek omdat ons albei mal was oor avontuur-wedlope. Ons het al die Comrades gehardloop, maar verkies groter uitdagings soos die Sahara-marathon [Marathon des Sables], waar jy 251 km oor ses dae hardloop. Dis hoekom ons berge begin uitklim het – as jy al die moeilikste wedlope voltooi het, wat anders is daar?”

Lynne en Noel het al saam die pieke van verskeie berge in Suid-amerika, Afrika en Rusland bereik. Om Everest uit te klim is eintlik ’n jare lange proses, sê sy. “Al jou ander klimtogte dien as voorbereid­ing. Enigiets bo 8 000 m word die doodsone genoem. Hulle sê jou liggaam begin dan tegnies ‘sterf ’ omdat jy te min suurstof kry. Jy bly so kort as moontlik daar, want die gevaar om daar breinedeem op te doen (waar jou brein swel weens hoë lugdruk), is ook groot.”

Lank voor dié gevaarlike deel begin jou liggaam egter reeds minder belangrike funksies staak om jou aan die lewe te hou. Dit begin al by die basiskamp op 5 150 m: Jou naels groei nie, jy’t minder hare op jou bene en vroue menstrueer nie, sê Lynne.

As jy iemand direk van seevlak na 8 500 m sou neem, sal hulle binne drie minute hul bewussyn verloor. Daarom bring jy twee maande op die berg deur om jou liggaam genoeg tyd te gee om gewoond te raak aan die min suurstof en die veranderin­g in lugdruk. Om die piek te bereik neem net drie dae. “Die res van die tyd klim jy op en af, op en af, elke keer ’n bietjie hoër. Die eerste keer dat ons van die basiskamp na die volgende kamp geklim het, het dit ons sewe uur geneem. Die derde keer vier uur, want jou lyf word sterker.”

Steeds het sy 7 kg op die berg verloor. “Ek het vooraf my bolyf hard geoefen ter voorbereid­ing, maar daardie spiere het gekwyn. Jy verbrand meer kilojoules, want jou hart klop gemiddeld 30 slae vinniger per minuut. Ek is nie gewoond daaraan om so maer te wees nie!” lag sy.

Maar niks kan jou voorberei op die “ondraaglik­e pyn” wanneer jy jou handskoen vir ’n paar sekondes naby die piek afhaal en daardie ysige winde jou vel tref nie. Of die feit dat jou gesig opswel “van pure stres” nie. Of die eensaamhei­d van daardie laaste paar uur nie, sê Lynne. “Niemand praat dan meer nie, jy fokus net daarop om een voet voor die ander te sit. Jy kan in elk geval nie jou suurstofma­sker naby die piek afhaal nie, want die kondensasi­e van jou asemhaling vries binne 30 sekondes en dan sal jou masker nie weer behoorlik werk nie. Jy’s bang, want die meeste mense gaan kort voor die piek dood. Dis makliker om daar foute te maak, maar soms is dit blote uitputting – ons het drie lyke in die laaste paar uur gesien.

“En as jy eers daar was, klim jy so vinnig en ver moontlik voor jy weer rus, want dis gevaarlik om daar te wees. Jy stap en klim vir byna 24 uur, sonder slaap, op die dag wat jy die piek bereik. Ons het die aand elfuur ons laaste kamp verlaat, net voor seweuur die oggend die piek bereik, en ná agt daardie volgende aand eers weer tent opgeslaan. Jy kan nie slaap nie, want jy is die ene adrenalien.”

Daar het haar foon nie meer gewerk nie, want dit het gevries, vertel sy. Maar by die basiskamp sou sy in tye soos dié na musiek luister om te ontspan. “Dit help nie jy lê en stres of dink jouself bang nie.”

Musiek het ook die eentonighe­id verlig. “Die grys en grouheid kry jou soms onder, dis net klip en sneeu. Everest is nie mooi nie, sy prag lê eerder in die gevoel van oorweldigi­ng. Jy voel so weerloos en onbelangri­k op hierdie magtige berg met kilometers níks oral om jou.

“Al wat jy op die berg doen, is slaap, klim en eet. Dis bevrydend om net daarop te fokus, byna soos meditasie. Dit voed jou siel. Soms raak jy tog verveeld. My klein plesiertji­e was dan om myself in my Louis Vuitton-kwilt toe te vou, die enigste interessan­theid in my tent. Ek het ook kaartjies van my familie en vriende gelees. Of my halwe naelvyltji­e en klein botteltjie parfuum uitgekry om weer soos ’n vrou te voel.”

Sy weet nie hoekom net minder as 500 van die meer as 4 000 mense wat al Everest uitgeklim het, vroue was nie. “Ek was die enigste vrou in ons geselskap en soms kon die klomp mans my so irriteer. Ek dink mans praat maklik groot, terwyl vroue net doen. Ons het uithouverm­oë, ons is bestendig.”

Daarom wil sy dit duidelik maak, aan vroue veral: “As jy ’n droom het, enige droom, dóén dit. Met passie is enigiets moontlik. Everest is beslis nie maklik nie, maar dis doenbaar. Ek is net ’n gewone mens, maar ek het hard gewerk daarvoor, ek is passievol daaroor, ek het op my doelwit gefokus en ek het dit reggekry. Enigiets in die lewe werk so.”

Niks kan jou voorberei op die eensaamhei­d van daardie laaste paar uur nie Lynne Hanna

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ?? DEUR LYDIA VAN DER MERWE lydia.vdmerwe@sarie.com ??
DEUR LYDIA VAN DER MERWE lydia.vdmerwe@sarie.com

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa