Emily sjarmant én vurig
Emily Hobhouse: Geliefde Verraaier, Emily Hobhouse het veel meer gedoen as om haar oor die lot van vroue en kinders in die konsentrasiekampe te ontferm, skryf Elsabé Brits in ’n nuwe boek. Sy is selfs met ’n tweede besoek aan SA deur haar eie mense in heg
Syis geskok en gewalg oor haar inhegtenisneming, boonop deur haar eie landgenote. Sy is geleer om wette te gehoorsaam en enige onwettigheid is vir haar ’n skande. “The shock was to find oneself – a lawabiding, free Englishwoman – arrested and imprisoned.”
Daardie nag maak sy nie ’n oog toe nie. “All night I lay awake, shuddering from head to foot with the effects of the shock, for oddly enough it was a shock and unexpected in that form. Then I began to see my way and brace myself to the battle. I shall be very polite, very dignified, but in every way I possibly can a thorn in the flesh to them,” skryf sy aan haar broer, Leonard.
Onmiddellik ná haar inhegtenisneming vra Emily dat ’n wag haar oppas want sy weet hoe soldate dit haat om vroue op te pas.
Sy skryf ’n stortvloed briewe aan die owerhede – aan Cooper, Kitchener, Milner, die Kaapse goewerneur HelyHutchinson – waarop hulle verplig is om te antwoord. Lingham moet dit aflewer. (Kitchener, terloops, was deeglik bewus van Emily se teenwoordigheid. Uit Pretoria stuur hy ’n telegram aan genl. Arthur Wynne, bevelvoerder van die Kaapkolonie: “High Commissioner and I are agreed that Miss Hobhouse should not be allowed to land.”
Maandag 28 Oktober 1901 is ’n lang dag vir Emily, haar eerste in hegtenis terwyl die ander passasiers aan wal gaan. Boonop steek die suidoostewind op en sy kry nie gelees nie, so skommel die skip. (. . .) Gevoelens van woede en vernedering kry gereeld die oorhand. Intussen raak haar familie en vriende in Engeland al meer bekommerd oor haar want hulle weet nie waar sy is nie en kry geen taal of tyding oor haar nie.
Emily pleit by die owerhede dat ’n wasvrou gestuur word om te help met haar wasgoed. “Of is vuilheid ook deel van die regime waaronder ek gebuk moet gaan?” Maar niks kom van dié versoek nie.
Uiteindelik kan die skip die Woensdagmiddag vasmeer
nadat die suidooster begin bedaar het. Kort daarna kom Cooper aan boord. “Ek is jammer om u onder sulke omstandighede te ontmoet.” “Ek ook,” antwoord Emily, waarop ’n ongemaklike stilte volg. Cooper lig haar in dat dit die beste sal wees as sy dieselfde middag met die Carisbrooke Castle terug na Engeland vertrek. Emily weier. Sy voel siek en moeg; sy wag nog op antwoorde van Milner en Kitchener ná haar briewe aan hulle, en sy wil eerder op land in ’n tronk aangehou word.
Onverrigtersake is Cooper daar weg. Later die aand stuur hy Lingham na Emily om te vra of sy ’n onderneming sal gee (“parool” genoem) dat sy nie sal ontsnap nie.
“Giving me parole not to escape was tantamount to keeping myself in prison, and why should I do that? I was detained at their wish, not at my own.” Boonop wil die owerhede nie haar woord op land vertrou nie, hoekom sal hulle dit ter see doen?
“Toemaar,” troos Emily die arme Lingham wat staan en rondtrap, “jy is net die mondstuk van ’n tirannie en ongeregtigheid wat groter is as jy.” Sy sal nie ontsnap nie, onderneem sy, altans nie voordat Milner en Kitchener op haar briewe geantwoord het nie. (. . .) Emily se Kaapse vriende weet sy is aan boord van die Avondale Castle; hulle het verwag dat sy lankal sou opdaag, maar “uit vrees vir moeilikheid in die huidige atmosfeer” besluit hulle om met niemand daaroor te praat nie. Hulle is doodbekommerd oor haar. Van ene mej. Steedman, wat aan boord met Emily bevriend geraak het, verneem hulle dat sy aangehou word.
Caroline Murray slaag daarin om saam met ’n paar vriendinne aan boord van die skip te gaan en blomme en vrugte vir Emily te neem, al is daar opdrag gegee dat Emily geen besoekers mag ontvang nie. Hulle is geskok om te sien hoe maer en moeg Emily is.
Betty Molteno kry die volgende dag in die Kasteel toestemming – Caroline se soortgelyke versoek word geweier – om Emily weer te besoek. Om twaalfuur stap sy aan boord en tref Emily in ’n dekstoel aan waarin sy lê. Haar oë is toe en sy lyk uitgeput. Sy skrik toe Betty saggies aan haar arm vat.
Op haar skoot lê ’n groot amptelike koevert. Emily lig haar traag in oor die inhoud: ’n bevel van die militêre owerhede dat sy daardie einste middag met die Roslin Castle na Engeland moet vertrek. Die res van die dag bly Betty aan Emily se sy, meestal in stilte. Die volgende oomblik is Lingham daar, met die opdrag dat Elizabeth (Emily se verpleegster) hul bagasie moet pak vir die vaart wat oor ’n paar uur begin.
Emily wil daarvan niks weet nie en verbied Elizabeth om enige iets in te pak. Maar Lingham, met die gesag van die staat aan sy kant, roep ’n vroulike skeepswaardin nader om die trommels te pak. Emily hou vol sy is te siek vir die weke lange vaart na Engeland. Boonop is die Roslin Castle ’n troepeskip met honderde mans aan boord.
“Why not take me on shore and hang me? Why torment me so?” wil sy van Lingham weet wat besluit dat ’n dokter ingeroep moet word.
Lt.kol. J.F. Williamson van die Royal Army Medical Corps daag op om Emily te ondersoek. Eers skop sy teë en dring aan op haar eie dokter, maar stem oplaas in toe dit geweier word. In die skip se rookkamer ondersoek Williamson haar. Betty is by toe hy na Emily se hart luister, haar tong bekyk en haar temperatuur neem. Daar is niks met haar hart verkeerd nie, bevind hy, sy moet net ’n stimulant soos sjampanje of brandewyn inkry.
“I never supposed I had a diseased heart. What did he expect to find? It was my nerves and the exhaustion and the shock I had that I am suffering from.”
Teen dié tyd is Emily se bagasie en fiets al afgelaai en wag om op die perdekar na die Roslin geneem te word. “Hulle kan my bagasie neem, maar nie vir my nie,” skop sy teë.
Williamson vermaan haar dat sy gedwing sal word om te gaan indien sy dit nie vrywillig doen nie. Sy hoop steeds dat so iets benede die waardigheid is wat sy van ’n opgevoede Engelsman verwag. “I can’t believe that any English gentleman would carry out such an order.”
Dit raak ’n uitgerekte woordestryd tussen Emily en die militêre owerhede van haar geliefde Engeland waartydens sy eers met redelike versoeke, dan vrugtelose dreigemente en ten einde laaste met ’n beroep op hoër waardes en menswaardigheid die offisiere en soldate van die onregverdigheid en onmenslikheid van hul optrede probeer oortuig.
Die ure tik verby. Die Roslin Castle moet binnekort vertrek. Williamson se geduld raak op. “Madam, do you wish to be taken like a lunatic?” “Sir, the lunacy is on your side and with those whose commands you obey. If you have any manhood in you, you will go and leave me alone.” (. . .) “You are disgracing your uniforms by obeying such an order. A Higher Law forbids you. The laws of God and humanity forbid you.
“Colonel Williamson, you will rue this till your dying day. You will all rue this,” roep Emily uit.
Maar dis alles tevergeefs. Die mag van die staat seëvier oor Emily se verset, hoe edel haar motiewe ook al is.
Williamson draai Emily se tjalie styf om haar skouers vas. Die mans tel haar op en maak haar “soos ’n baba” met ’n swart band op ’n draagbaar vas. Hulle dra haar van die skip na die perdekar.
Emily draai om en roep: “Goodbye Captain! Goodbye officers! Goodbye stewards! Thank you all for your kindness.”
Betty hardloop na die perdekar, met ’n mandjie vrugte vir Emily. By die Roslin Castle word sy opgedra tot binne-in ’n kajuit, omdat sy weier om te loop.
’n Hele ruk later merk Williamson na aanleiding van die petalje op die skip teenoor Caroline Murray op dat Emily “’n baie sjarmante vrou” is wat hy nie anders kan as om te bewonder nie. “(She) had the face of a Madonna, but she fights like the devil.” Lees op SARIE.COM die onderhoud met Elsabé Brits, die skrywer van Emily Hobhouse: Geliefde Verraaier. WEN die boek & Emily-wyn: sien bl. 70. Vir meer oor die wyn: blaai na bl. 111.
deur Adri Burger (Pharos Woordeboeke, R285) wen.
Hierdie derde, hersiene uitgawe van die gewilde naslaanbron vir liefhebbers van Afrikaanse blokraaisels bevat sowat 300 bladsye meer as die vorige een. Dit is volledig herbewerk, en nuwe subkategorieë is ingesluit. Oplossings vir duisende internasionale en plaaslike feite is alfabeties volgens agt temas gerangskik: Bybelkennis, geografie, die kunste, politiek, sport, skoonhede, van alles en nog wat en wetenswaardige feite.
Die gids is groter gedruk en gebruikersvriendelik, wat daartoe bydra om maklik daardie ontwykende antwoorde op die leidrade in jou Afrikaanse blokraaisel te vind.
Nog 5 gelukkige SARIElesers kan elk die boek
deur Albert Blake (Tafelberg, R240) wen.
Die boek kyk na hoe verraad die befaamde bittereinder-generaal Christiaan de Wet en sy joinerbroer, Piet, uitmekaar gedryf het. Blake klim as’t ware in die twee broers se koppe: hy kyk na hul godsdienstige oortuigings, karaktertrekke, die invloed van hul vroue en die rol van oorlogtrauma. Teenoor die vurige en waaghalsige Christiaan staan sy temperamentele, andersdenkende jonger broer, Piet. Die een ’n spreekwoordelike valk, die ander ’n duif.
Piet gee hom oor aan die Britse magte en stig later selfs ’n joiner-eenheid. Sy broer vergewe hom nooit hiervoor nie. Ná die 1914-Rebellie, wat deur o.a. Christiaan gelei is, versprei hul konflik selfs na die NG Kerk wanneer Piet alle rebelle onder sensuur probeer plaas.