Twee animasie-‘oscars’ vir SA!
SA se animasierolprent Stick Man het die topprys in die Tv-kategorie by die “Oscars” vir animasierolprente by die Annecy-fees in Frankryk gewen. Die Kaapse ateljees Triggerfish Animation het al talle internasionale pryse hiervoor ontvang, maar die gesogte Le Cristal-prys is die een wat almal najaag. Die ander “Oscar” was vir Naomi van Niekerk se ’n Gewone blou Maandagoggend, wat die Jean-luc Xiberras-prys (vir ’n eerste fliek) in die kortprent-kategorie gewen het. Beeld)
Die tekens was altyd daar . . .
Dit is byna halftwee in die oggend en ek kan nie weer aan die slaap raak nie. Ek lees SARIE aanlyn en ek sien artikels onderaan die bladsy oor bipolêre gedrag – hoe weet ek my tiener is bipolêr en joernalis Elsabé Brits se storie.
Ek lees elk van bogenoemde artikels om ander se menings daaroor te kry, want my man is met bipolêre depressie gediagnoseer. Ek moes dit seker geweet het, want die tekens was altyd daar – neerslagtigheid, depressie en die aggressiwiteit wanneer hy nie sy sin kry nie. Hy sê altyd “net jy kan my kalmeer, jy weet hoe om my gelukkig te maak”. Wat hy nie verstaan nie, is dat dit die energie uit my dreineer.
Hulle sê ’n mens kán gelukkig saam wees as jou metgesel bipolêr is, maar my selfbeeld is aan flarde weens al sy uitbarstings. Ek is moeg, sielsmoeg. Ek kan nie so voortgaan nie . . . Is dit só verkeerd van my om net weer geluk te wil hê? ’n Bietjie vryheid? Is ek die monster wat nie sý monster wil verstaan nie?
ANONIEM, KAAPSTAD