Sarie

‘Ek het besluit ek sál opstaan’

Samantha van Zyl

- Samantha van Zyl

Toe Samantha (28) haar man ontmoet het, het hulle halsoorkop verlief geraak en hulle was binne ’n paar maande getroud. Maar vier jaar later het die verliefdhe­id verdwyn en hulle is uitmekaar. “Ons het albei gedink die ander mens is iemand wat hulle nie is nie, soos jy maar doen as jy verlief is. Dinge was nooit sleg tussen ons nie, maar ons het uitmekaar gegroei en gou-gou verby mekaar begin leef. Later het ons daaroor gesels en saam besluit ons het te vinnig in die ding gespring en dat te veel intussen verander het.”

Dit was maar in die begin van 2016, maar danksy terapie het Samantha reeds weer op haar voete gekom. “Ek het al voor die egskeiding met terapie begin omdat ek so ongelukkig was. Dit het my gehelp om te erken dat ons huwelik nie gaan werk nie, want jy klou daaraan vas – jy trou tog nie om te skei nie.

“Die terapiepro­ses het my geleer om realisties aan die situasie te dink. Daar het tog goeie dinge uit die huwelik gekom, al is ons uitmekaar. Ons het ’n pragtige dogter, Micaela (3), en my eks is ’n goeie pa. Al het ons ons verskille, is ons nie kwaad vir mekaar nie. Ek het nou vrede dat dit die regte besluit was. Nou sal ek my dogter kan leer wat ware liefde is – en dis nie ’n ma en pa wat eintlik aparte lewens lei nie. Jy sal nie altyd verlief wees nie, maar jy moet tog voel daar is liefde in die huis.”

Selfs met haar positiewe houding, was dit ’n moeilike pad. “Dis ’n baie stresvolle lewensvera­ndering. Al was dit jou besluit, voel dit asof jy nie in beheer van jou lewe is nie. Jy rou, maar terwyl jy dit doen, moet jy ’n nuwe blyplek soek, jy’s skielik ’n enkelouer en jy’s bekommerd oor jou finansies. Boonop is die hofproses en al die logistieke dinge oorweldige­nd. Vir die eerste twee maande was ek die hele tyd huilerig. Ek het soos ’n mislukking gevoel, alleen, en as jy só voel, wonder jy tog of dit die regte besluit was. Vir ’n ruk het ek ook gewonder wat ek verkeerd gedoen het.

“Maar uiteindeli­k bedaar daardie gevoelens. Jy kry ’n nuwe roetine. En jy besef dat hoewel alles nie binne jou beheer is nie, is dit jóú keuse om aan te gaan of te gaan lê. Ek het besluit ek sál opstaan.” Daarna het dinge beter begin gaan. “Deesdae voel ek nie meer soos ’n mislukking nie, maar eerder trots op hoe ek dit hanteer het. Ek het besluit om die beste daarvan te maak, en só het dit ook beter gewórd. Ek het gefokus op die positiewe: Meer alleentyd saam met my dogter, meer tyd vir myself, en die geleenthei­d om nuwe dinge te probeer. Ek het ook ingeskryf vir ’n kursus in digitale bemarking om my loopbaanmo­ontlikhede uit te brei en ek het musiekless­e by ’n vriend begin neem.”

Samantha gaan nou meer uit en woon musiekkons­erte by, wat sy baie geniet en waar sy al nuwe mense ontmoet het. “As jy dit reg aanpak, is dit eintlik ’n lekker tyd om jouself weer te ontdek, want jy verloor ’n bietjie van jouself in ’n huwelik soos jy saam met iemand anders probeer groei.”

Wanneer jy dié houding inneem, maak ’n nuwe wêreld vol geleenthed­e vir jou oop, sê sy. “Dis ’n kans om van voor af te begin en dinge dié slag beter te doen. Moenie dink aan dít wat jy misloop nie, maar eerder aan maniere om goeie dinge in jou lewe te laat gebeur. Ontdek die nuwe jy en vind uit wat dié mens in die toekoms wil hê.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa