‘Ek’tgeleerom dielewe tevier’
Ná ’n moeilike egskeiding en die besef dat sy onvrugbaar is, was die gevoel van verlies vir skrywer Carina Diedericks-hugo soms verlammend. Nou het sy afsluiting gekry, met ’n nuwe liefde in haar lewe en ’n wyn wat hy spesiaal vir haar geskep het . . . CA
Dié twee werk nou saam aan ’n projek – “’n eerste tussen ’n skrywer en ’n wynmaker” – wat aanstaande jaar openbaar gemaak word . . .
Carina is diep geroer deur Bertus se “ongelooflike liefdesgebaar” – ’n nuwe wyn, sy ode aan ’n kind wat nooit was nie, om haar so te help vrede maak met die dogtertjie waaroor sy nog altyd gedroom het, maar haar nie beskore was nie. Sy sou haar graag Katelijne (die Vlaams vir Catharina) wou doop. “Hy wou verlies omswaai in iets wat lewe, soos wyn.”
Katelijne is ’n gehoute sauvignon blanc, raar en moeilik om te maak. Dit is in September vanjaar bekend gestel. “Bertus het vanjaar agtien verskillende vate wyn gemaak en dít is regtig die beste,” sê sy opgewonde.
Ook Bertus verstaan verlies. Sy vrou, die kunstenaar Selma Albasini, is sowat drie jaar gelede skielik oorlede. En sy pa slegs drie maande voor sy vrou. Ook hý moes ’n lang pad stap tot waar hy nou is. “En ons liefde vir mekaar beteken nie dat ek en hy nie ook diep lief was vir ons lewensmaats nie,” voeg sy gou by.
Hoewel Carina nou op ’n goeie plek in haar lewe is, was die pad na heling nie maklik nie. “Verlies takel jou op alle vlakke af. Myne het boonop twee bene gehad. Die diepe pyn van onvrugbaarheid en die gevoel van mislukking ná my egskeiding van die skrywer en digter Daniel Hugo.” Sy het Daniel, 22 jaar ouer as sy, as student aan die Universiteit
< Stellenbosch ontmoet en hul liefde is dikwels in die pers as “verslawend” beskryf. Hulle is in 2012 geskei.
“Terugskouend was daar ook baie lekker tye tussen my en Daniel en ek het baie by hom geleer, maar daardie soort liefde moes uitbrand. Dit is té intens. Tog is dit moeilik om oor iemand te rou as daar nie ’n grafsteen is nie. Mense is baie ondersteunend as jy treur oor iemand wat dood is, maar as jy vier jaar later nog rou ná ’n egskeiding, is hulle geneig om te sê jy moet jouself regruk.
“Daniel het ook, toe ons na Stellenbosch getrek en in ’n groot huis met ’n lekker speeltuin vir kinders ingetrek het, gehunker na ’n kleintjie. Hy het wel reeds ’n pragtige seun van 33. Ek het alles moontlik gedoen om in topkondisie, soos ’n renperd, te wees sodat ek swanger kon word. Ook vrugbaarheidsbehandelings probeer. Ek het my hele salaris spandeer op avokado en salm, vitamiene, elke dieet onder die son gevolg, tot ’n persoonlike fiksheidsafrigter gekry. En om dán nie swanger te word nie . . .”
Dis toe dat sy aspris word en die lewe troef. “As bergies met ’n papsak kan swanger word, hoekom nie ek nie,” het sy gewonder. Sy het fatalisties begin leef, min geslaap, té hard gewerk, té lank gekuier op die stoep. “Jy voel jy het niks om te verloor nie.
“Ek het soos ’n mislukking as vrou gevoel. Skielik het ek net babas om my gesien, baie van my vriendinne het swanger geraak. Ek het Daniel begin verwyt. Onvrugbaarheid erodeer ’n verhouding . . .” Dit het die finale wig tussen hulle ingedryf.
Sy besef sy moes baie meer liefdevol met haarself omgegaan het ná haar egskeiding . . . “Jy kan nie ure in die bed lê en chips eet en na die televisiereeks Friends kyk nie . . .” Sy was nie lus om romkoms te kyk nie, want dit was nie vir haar snaaks nie. Dit was vir haar erg om saam met paartjies uit te gaan, want die verlies aan ’n geliefde was te groot. “Ek het met die verkeerde vriende begin kuier. Mense wat destruktief leef. Ek was soos ’n stout tiener. Gelukkig was daar ook fantastiese mense wat om my laer getrek en my ’n goeie twee jaar lank beskerm het.”
Haar katte, Langenhoven, Jannie Hofmeyr en Gabriël (soos die engel!), het haar gedra deur daardie swaar tye. “Dikwels het dit gevoel daar is geen rede om op te staan nie, maar dan was daar een kat in elke arm en een by my voete, en ek het weer moed gehad om aan te gaan.”
Toe sy van haar beste vriendinne gevra het hoekom hulle nie ingegryp het nie, het hulle gesê sy het dan nooit erken dit gaan sleg nie. “Ek besef nou ek was bang ek raak die temende een en ek wou sterk wees. Dit is nie nodig nie, jy moet sê hoe jy voel.”
Haar groot heling het in die begin van 2013 gekom, toe sy en ’n paar vriende besluit het 2012, “die ergste jaar ooit”, moet besweer word met ’n reis na Griekeland. “Op die eiland Mykonos, my gunstelingplek naas Berlyn, ontmoet ek ’n Griek, baie ouer as ek, met wie ek ’n jaar lank ’n langafstandverhouding gehad het. Hy het my kairos, die Griekse beginsel van ‘ leef in die nou’, geleer. Kyk na die see, hou iemand se hand vas, nou-nou gaan in elk geval gebeur, sou hy sê. Dit was nie ’n groot liefde nie, maar hy het my lewenslus weer aan die brand gesteek. Daarvoor is ek hom baie dankbaar.”
Sy het ook ’n nuwe lewe vir haarself geskep deur praktiese oplossings. “Ná my egskeiding het ek doelbewus dinge anders gedoen. Ek het weggebly van mense wat met my én Daniel vriende wou bly, want ek wou nie hoor hoe dit met hom gaan of bang wees dat hulle oor my by hom gaan praat nie . . .”
Haar sterk enkelma, Alta, wat op 71 nog skoolhou in Kaapstad, het haar ook begeester omdat sy haar en haar twee broers van jongs af geleer het: jy hou jou kop hoog, werk hard en gaan net aan, kom wat wil.
Sy glo Bertus speel ’n reuse-rol in haar “gesond word”. Hy het in 2014 deur gemeenskaplike vriende in haar lewe gekom. Ná ’n afspraak in Augustus 2014 by ’n Italiaanse eetplek op Stellenbosch, het hulle kort daarna in Oktober verloof geraak. “Ek het nie gedink ek gaan ooit weer ’n groot liefde vind nie, maar ek en Bertus kan ure aaneen praat. Ons leef in ons eie droomwêreld, deel ’n liefde vir stories . . . hy is só intelligent.”
Nadat hulle oor hul nuutgevonde liefde in ’n gesinstydskrif gepraat het, is hulle deur allerlei mense lastig geval en kort voor lank het hulle besluit om die verlowing te verbreek. “Maar ons het mekaar in die vyf maande wat ons ‘ uit’ was, steeds hordes kere per dag gebel en gewhatsapp. En sedert Junie vanjaar is ons weer saam. Vir goed.”
Sy vra nie meer “Hoekom kan ek nie kinders kry?” of “Hoekom het mý huwelik nie uitgewerk nie?”. Of “Hoekom