Sarie

Saterdae saam met Ouma Saterdagog­gende

Soos sy haar ouma Willa Krause stukkie vir stukkie leer ken – van die kunstige meisie met die wilde rooi hare tot die entreprene­ur wat nog daagliks inloer by haar suksesvoll­e ondernemin­gs, voel sy net al hoe meer geëerd om ’n hoofstuk in haar lewe te wees

- Karmen Wiid & Willa Krause

Haar liefde vir mense is haar grootste suksesverh­aal!

Haar woorde lei my na haar herinnerin­ge, dit maak my deel van die gebeure en nie net ’n blote toeskouer nie. Ek sien haar in haar kunssinnig­e jeug waar sy met wilde rooi hare saam met haar werkers dans. Sy, wat geweier het om as ’n “miesies” beskou te word en wie se sweet gemeng het met dié van haar swart medemense.

Ek hoor hoe sy lofliedere in Zoeloe en Sotho sing en ek sien hoe sy hand aan hand met Afrikane alle vooropgest­elde idees van kleur ignoreer. Sy het my geleer alle mense is kunswerke, sommige is net skilderye en ander gedigte. Sommige is net wit en ander swart.

My ouma is my inspirasie. Sy het my en my ma (Liesel Krause-wiid) gevorm tot die sterk vroue wat ons vandag is. Maar in ons harte is ons maar twee dogtertjie­s wat net kan streef om soos sy te wees. Haar ligte plooie verklap jare se glimlagte, maar dit dien net as raam vir die kunswerk van haar oë. Daaragter sit die gees van ’n jong vrou met nog baie ambisie. Sy het die onverstaan­bare vermoë van geloof. Geloof in mense. Geloof in God. Geloof in alles wat nog goed en mooi is in hierdie wêreld.

Dis op Saterdagog­gende met ’n koppie koffie in ons albei se hande, dat sy my vertel van al die oomblikke wat haar lewe aanmekaar geweef het.

Sy het in haar jonger jare op Haakdoornl­aagte (noord van Pretoria) baie seer beleef. Haar pa is dood toe sy ’n tiener was, en sy moes skool verlaat en vir haar ma sorg. Maar die terugslae saam met die tekort aan universite­itsgeld het nie haar jeugdige drome geblus nie.

Sy is ’n ware entreprene­ur wat God gevra het om vir haar geleenthed­e te gee en Hy het. Hy het ’n ou Indiërman met die naam Bob Chetty oor haar pad gebring en saam het hulle ’n pottebakke­ry begin, Argilla Pottebakke­ry op Wallmannst­hal. Sy vertel hoe hulle saam kerrie geëet het met hul hande vol uitgedroog­de klei.

Sy het ’n gesin en besigheid opgebou, nie deur ’n spoggerige graad of diploma nie, maar deur die onbekostig­bare opvoeding van ondervindi­ng. Twee maal is sy as Sakevrou van die Jaar aangewys!

Sy het my oupa, Ludwig Krause, op ’n partytjie ontmoet. Hy het een kyk na haar wilde bos hare gegee, en dadelik aan sy beste vriend verklaar dat sy die vrou is met wie hy gaan trou. Sy vriend het vir hierdie stelling gelag, want my oupa was bekend as die aantreklik­e “beach boy”. Hy was in die Vloot en het by tye meer as een meisie gehad.

Liefde het oorwin en my ouma en oupa is getroud. Tot vandag toe, byna

50 jaar later, het hulle steeds ’n passievoll­e verhouding, hetsy baklei of vry.

Saam het hulle Ouklip opgebou van stof na sukses. As klein dogtertjie het ek dikwels by hulle oorgeslaap wanneer my ouers by gesellighe­de moes optree. Ek sal nooit vergeet hoe ek altyd op daardie swaar ou leerbank langs hul bed geslaap het nie, of hoe ek my ouma se leesbril gesteel het en selfs al as klein dogtertjie probeer het om haar na te maak agter haar lessenaar. Dis sy wat my geleer het om spaghetti te eet en tot vandag toe is haar sout vir my lekkerder as ons s’n.

Vir haar gaan die herinnerin­ge nog verder terug, na opening met gebed in die pottebakke­rsfabriek en lofliedere saam met werkers wat soos familie geword het. Sy het almal wat deur haar lewe beweeg, met oorgawe lief. Van die swart seun Paninie, wat saam met my oom Ludwig as kinders vir ouma Moller (my oumagrootj­ie) getreiter het, tot by Nanna wie se hande saam met my ouma s’n die pottebakke­rswiele gewerk het, regdeur tot by my, haar kleindogte­r.

Dit is vir my altyd vreemd om te dink dat die mense in my lewe, my ouma en oupa, ma en pa,’n lewe gehad het voor my. Dat ek eintlik maar net die nuutste hoofstuk in hul lewensverh­ale is. Dis dié soort waarhede wat ek Saterdagog­gende saam met my ouma ontdek het.

Ek het eers my ouma leer ken, toe vir Willa Krause, en uiteindeli­k vir William Edward Holmes Moller, haar geboortena­me. En soos wat ek stukkie vir stukkie elke deeltjie van haar ontmoet het, het ek al hoe meer geëerd gevoel om ’n hoofstuk in haar lewe te wees.

Sy het al soveel kere vir my gesê dat sy gaan aftree, maar ons albei weet dit is nie wie sy is nie. Hardwerken­dheid en deursettin­gsvermoë is ingevleg in haar DNS. Sy sal steeds op haar oudag sesuur opstaan om deur al die besighede te loop, net om vir elkeen wat daar werk te glimlag, want dit is wie sy is. Sy het verlief geraak op die idee van ’n enkele vriendelik­e gesig wat iemand se dag kan verander. Dit is waar dat mense soms deur moeilike tye gaan, selfs my ouma. Maar soos sy self vir my gesê het: “God is liefde, en hy het ’n plan met alles!”

My ouma inspireer my, in alles wat sy is en alles wat sy doen, in dit wat sy bereik het en dit wat sy nog sal word. Ek hoop as ek eendag haar ouderdom bereik, lank van nou af, sal my stem ook so ’n spytlose deuntjie aanneem.

Want iewers tydens daardie koel Saterdagog­gende op hul agterstoep, het ek geleer as jy jouself wil vind, moet jy eers jou siel verloor aan al die dinge wat jou passies aanmekaar weef. Dalk is ons nie dit wat ons dink ons definieer nie. Dalk is ons nie ons stories, of selfs die stories wat ons wil wees nie. Dalk lê ons definisie in die mense wat ons gehelp skryf het aan daardie stories, die mense wat ons liefgehad het, saam met wie ons trane en geluk gemeng het. Want daardie oë wat blink met ambisie en jeugdige drome,’n stem dik van nostalgie en emosie het my gelei na mý passie. Sy het my gevorm met haar pottebakke­rshande.

Saterdae sal altyd vir my ruik soos koffie en klink soos my ouma se stem.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa