Sarie

Die dag toe ’n droom gesterf het

Hennah Larkins het net 10 minute van haar biologiese ma gevra om ná al die jare van wonder en soek die ware prentjie te kry van die vrou wat haar in die lewe gebring het. Toe kom die ongenaakba­re antwoord . . .

-

Virmy was sy naamloos, hoewel haar doopname in die register van haar kerk aangeteken is. Sy het ook nie ’n titel nie, hoewel biologiese prosesse haar vir die eretitel ‘Ma’ sou kon laat kwalifisee­r. Benewens die gefabrisee­rde prentjie in my verbeeldin­g, het sy nie eens ’n fisieke voorkoms of gelaatstre­kke gehad nie. Sy was gesigloos. Tog bestaan sy reeds dekades as ’n mens van vlees en bloed, nie net in my gedagtes nie, maar in ’n gemeenskap waar sy as ’n bekende en gewaardeer­de lid geag word.

Dit was nooit vir my ’n probleem om as ‘aangenome kind’ geklassifi­seer te wees nie – trouens, dit was my eretitel, want die twee mense vir wie my bestaan hul lewe was, het my spesiaal laat voel. Ná die dood van hierdie liewe mense, vir wie ’n eie kindjie nooit beskore was nie, maar wat met waardighei­d en gesag die naam Ma en Pa werd was, het die prentjie in my gedagtes die begeerte laat ontstaan om ’n mens van vlees en bloed, my vlees en bloed, te leer ken – al was dit slegs om die vrou in wie ek nege maande gegroei het, te sien.

Die soektog was uitmergele­nd, maar suksesvol – sy het skielik ’n naam gehad, en ’n woonplek baie ver van my tuiste af. Dit het nie saak gemaak nie, want die telefoon en briewe sou die band kon smee waarna ek so gesmag het. Sy was baie geskok dat iemand van haar buite-egtelike baba geweet het, maar het ingestem dat ek vir haar kon skryf. Twee briewe van haar. Saaklik. Gereservee­rd. Slegs die allernodig­ste inligting. Sy het nooit getrou nie. Geen ander kinders gehad nie. Niemand behalwe sy en haar ouers, wat lank reeds oorlede is, het van my bestaan geweet nie. Van my kant af die belofte dat ek haar goed bewaarde geheim vertroulik sal hanteer. Twee telefoonge­sprekke het gevolg. Goed gemoduleer­d. Afgerond maar sonder warmte. En veral sonder die een brokkie inligting waarna my hele wese gesmag het: ‘Ek het nooit opgehou om aan jou te dink en te wonder waar jy is en of jy gelukkig is nie.’ Die teendeel: ‘Daar het soveel gras oor gegroei, ek het al vergeet dat dit ooit gebeur het.’

Die lewe het voortgegaa­n – twaalf jaar sedert die blye dag toe haar bestaan vir my bevestig is. Nog een of twee telefoonop­roepe (altyd van my kant af) het gevolg, miskien in die hoop om ’n titseltjie warmte in haar stem te beleef. Tevergeefs. Die gesprekke was klinies, koud: presies soos die mediese milieu waarin sy die grootste deel van haar lewe gearbei het, in diens van haar naaste!

Met die aanbreek van elke nuwe jaar was die eerste inskrywing onder my nuwejaarsv­oornemens: skep geleenthei­d vir ’n besoek aan haar tuisdorp. Sy sou mos bly wees om haar eie vlees en bloed te sien! Maar die jare het gekom en gegaan. Die wete dat sy bejaard is en dat die tyd verbytik, het my laat wroeg. Moes ek die kans waag om sommer die reis aan te pak, my persoonlik­e pelgrimsre­is wat gestalte aan die prentjie in my kop moet gee? Deel van my wroeging was die afstand wat ek vrou alleen sou moes aflê. Die koste. Verblyf.

En toe skielik het die geleenthei­d hom voorgedoen. Ek sou tot op ’n punt saam met ’n vriendin kon ry,’n motor huur en die reis na die kusdorpie kon aflê. Ek het die nodige huiswerk gedoen: sy was nog gesond, op en wakker . . .

Alles het skielik vir die eerste keer in plek geval. Ek sou die mens wat aan my die lewe geskenk het van aangesig tot aangesig sien. My enigste kommer was die moontlikhe­id dat sy nie tuis sou wees nie, weg vir die langnaweek. Ook die kommer dat sy ’n bejaarde is vir wie die oomblik dalk te oorweldige­nd sou wees. Ek sou haar moes voorberei. Met versigtige opgewonden­heid het ek haar geskakel. Gevra of dit geleë is om te praat. Verduideli­k dat ek vir die eerste keer, die enigste keer en die laaste keer die geleenthei­d het om haar te besoek en dat ek haar net graag vir tien minute wou sien. Dat ek nie oor die verlede wil praat nie, maar net die prentjie in my kop gestalte wil gee . . .

Hoe lank duur dit vir ’n mens om te sterf? Binne hoeveel minute sterf ’n droom? Op hierdie oomblik het alles in my gesterf. Sy ook. Want sy was net ’n droom,’n visioen wat nooit die eretitel ‘Ma’ sal dra nie. Sy is van my af weggeneem. Nie deur die Dood nie. Dit sou genadiger wees. Deur haarself. Deur die ongenaakba­re woordjie ‘Nee’.

Soms is die lewe wreder as die dood.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa