Sarie

Hond se gedagte

- DEUR MARIETJIE KOTZÉ

Laatmiddag­hou ons stil op Sielalleen. Fritz spring uit, wil koers vat see toe, maar ek beveel: “Help eers afpak!” en stop die koerant in sy bek. Hy kyk verwytend na my. “Nou goed, net tot etenstyd!” Weg is hy. Die deur is stram.’n Stoflaag lê oor alles. Op die tafel is twee koffiebeke­rs en ’n opgefromme­lde papierserv­et met rooi lipstifmer­ke: Ons laaste rusie voordat Monica weg is. Al wat ek oorgehou het, is die stokou strandhuis en Fritz.

“Vat jý hom, hý hou darem nog van jou,” was haar afskeidswo­orde.

Eers donkeraand kom Fritz by die huis, pels druipnat. “Môre begin ons werk,” sê ek streng.

Maar die volgende oggend ontsnap hy weer. Ek swoeg heeldag in die warm son. Skemertyd gaan ek stort, skink ’n bier en steek die vuur aan. Saam met die geur van braaivleis kom Fritz huis toe. “Rondloper!” verwyt ek. Hy blaf kortaf. “En dié?” Daar’s ’n haarknip agter sy kop vasgeknyp,’n pienk skoenlappe­r. Ek moet hom eers ’n tjoppie gee voor hy my toelaat om die knippie uit te haal. Ek bêre dit op die kaggelrak.

“Môre bly jy hier,” raas ek. haarknippe ook ...? Tjailatyd loop ek winkel toe.

In die verte blaf ’n hond, nes Fritz. Dis amper toemaaktyd. Haastig laai ek ’n trollie en betaal.

Eers by die huis onthou ek: Ja, daar wás ’n rak met haarborsel­s en pienk haarknippe! Kan honde ontaard in winkeldiew­e?

Ek braai visfilette. Toe ek kos inskep, daag Fritz op. Ek maak asof ek nie die rooi serp om sy nek sien nie. Ons eet in stilte. Waar loop Fritz bedags rond? Teen slaaptyd is die rooi serp om sy nek afgekou. Ek tel dit op, dit ruik tergend bekend, maar ek stoot die hond se gedagtes eenkant en sit die serp op die rak langs die pienk skoenlappe­r. Môre hou ek hom fyn dop!

*** Maar hy ontglip my wéér! Nou is ek seker hy’t ’n skelm verhouding. Maar daar’s nie tyd vir tob nie. Die werk wag – ek is ’n perfeksion­is en vat nie nonsens nie. (Miskien is dít hoekom Monica my gelos het? Sy’t gesê ek’s té puntenerig, gee nie om vir my medemens nie en ek moet “myself verbeter”. Verbeel jou!)

Namiddag loop ek hawe toe, koop kabeljou, reg vir die pan – maar my hart is nie by kosmaak nie. Ek mis Fritz en sit by die vuur en peins oor my alleenlewe. Eindelik daag hy op – met ’n swart strikdas om sy nek!

“Het jy nou ’n model of ’n snob geword?” vra ek. Hy draai sy rug op my. Eers slaaptyd mag ek die strikdas afhaal en op die kaggelrak sit. “Dis genoeg! Onthou, rooi toonnaels is die laaste strooi!” Hy ignoreer my en gaan lê op sy kooigoed.

*** Sondag hou ek die deur gesluit, maak brekfis en ignoreer vir Fritz. Hy kyk verwytend na my asof ék die vark in die verhaal

is. Nes Monica na my kon kyk! Wel, ek het nou genoeg van Fritz se rondlopery en die tooisels waarmee hy saans huis toe kom. Ek het ook genoeg hond se gedagtes. Iemand met duister motiewe sit agter alles ...

Ek maak die deur oop. Fritz spat na buite. Maar vandag sit ek hom agterna, vat kortpad deur oop erwe, vleg tussen opslagboss­e deur, storm bo-oor los klippe, trap skeef, swik en vloek. My asem jaag, ek’s nie fiks nie, te veel oortyd gewerk, te veel nagte alleen met ’n bier en gemorskos – en opgekropte woede.

Ek verloor Fritz se spoor. Hy’s skoonveld. Net die see lê glad voor my – maar bied g’n antwoorde nie. Ek fynkam die paar dorpstrate. Dis oral verlate,’n kleindorps­e Sondagstil­te hang oor alles.

*** Maandagogg­end is bedrywig by die laerskool, maar die skoolhoof is simpatiek en gee my kans om met die kinders te praat. Hulle weet dadelik van Fritz en noem hom Doughnut omdat hy so baie hou van die snoepie se doughnuts wat hulle hom voer. “Voer! Het hy nou ontaard in ’n bedelaar?” Nee, keer die kinders, hy bedel nie, hy’s soet en gee poot as hy iets te ete kry. Ek voel jaloers. Waarom haal hy vir mý nooit sulke fyn maniere uit nie? Voel hy dalk by my ’n gebrek waarvan ek nie weet nie?

“Kom saam personeelk­amer toe vir tee,” nooi die skoolhoof. Weer geniet ek die vreemde geselskap. Die kinders waai vir my toe ek loop. Ek waai terug. Doughnut!

Ek glimlag. Die kinders is vrolik en vol lewe. Ek sal daarvan hou om te help met die sokkerspan­netjie ...

Fritz is nie by die huis nie. Ek stof die kaggelrak af, pak reg. Die voordeur los ek heeldag oop.

Vergeefs. koop vir my ’n bier terwyl ek vertel hoe ek na Fritz soek.

“Hy sal terugkom,” troos hulle. “Honde is nie soos mense nie, hulle is getrou en slim ...”

Toe ek later huis toe loop, voel ek nie meer so alleen nie. Fritz is nog weg, maar die goeters op die rak is alles daar – die pienk haarknip, rooi serp, swart strikdas. Wie’t dit gestuur, en hoekom? Is dit dalk iemand wat ook so alleen is soos ek? En wat het Fritz daarmee te doen?

Ek maak koffie, sit buite, luister na die see en dink aan al die mense wat ek leer ken het nadat Fritz nes Monica uit my lewe is. Vreemd genoeg, voel ek vir die eerste keer gelukkig, want al is Fritz weg, het hy vir my nuwe vriende gelos. Môre soek ek tót ek hom kry, want ek het nou vir seker hond se gedagte ...

*** Die Seaview-hotelletji­e is ’n ent verby die hawe. Douvoordag drafstap ek soontoe.

Dis stil, maar by die Anneks is ’n gewoel. Die onderdeur is op grendel, maar die bodeur staan wyd oop. Ek hoor ’n hond blaf en ’n bekende stem. “Monica!” Sy lyk nog soos altyd, net nóg mooier. Sy’s ook niks verbaas om my te sien nie.

“Oplaas!” lag sy. “Hoekom vat dit jou so lank om die raaisel op te los? Fritz is al moeg gependel.” “Jy’t my sowaar heelpad see toe agtervolg!” sê ek uitasem. “Ek moes! In die stad vermy jy my soos die pes, maar toe ek by jou ma hoor jy kom Sielalleen opknap, weet ek dis nou of nooit. Gelukkig onthou Fritz my, hy’s nie wrokkig soos party mense nie.”

Ek skuif die onderdeur oop. Fritz ruik aan my skoene en swaai stert. “Wag nou,” berispe ek hom. “Streel hom, hy soek jou liefde. Nes ek.” My knieë voel skielik lam, ek gaan sit by die tafel. “Soos ek onthou, is jy die een wat mý gelos het.” “Nie gelos nie, net ’n ultimatum gestel: Los jou nukke en begin omgee vir mense, dan praat ons weer.”

Sy haal twee glase uit die rak, skink yskoue melk. Ek drink die glas dolleeg. Sy glimlag, vee die melksnor van my bo-lip af.

“Die afgelope week vorder jy mooi. Ek hoor by Sampie jy’t vriende by die ouetehuis en jy gaan ’n sokkerspan afrig by die skool.”

“Sampie skinder,” brom ek. “Maar jy’s reg, ek moes uit my dop kom. Ek was baie alleen – eers los jy my, toe rokkel jy Fritz af met strikdas, serp en wat nog.” “Dit was pret, stry? En jy moes tog raai van wie dit kom ...?” “Miskien, maar wat ek nog nie weet nie, is of jy my regtig wil terughê, foute en al?”

“Wat ek wil hê, is dat ons sáám ’n nuwe begin maak op Sielalleen – jy met die sokkerspan­netjie en jou boeke en ek by die ouetehuis – hulle soek ’n matrone. En Fritz het die wye see.”

Sy leun oor die tafel en soen die laaste spore van my melksnor af.

Toe Fritz van blydskap wil opspring, keer ek: “Wag net bietjie jou beurt af!”

Want drie maande is ’n lang tyd.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa