Sarie

Michélle sê...

-

Vir sestien dae in Augustus het Brasilië en die wêreld se beste atlete ons geïnspiree­r.

Het ons saam met biljoene ander op die planeet gedeel in die emosies van wen en verloor, van ongekende vreugde en diepe teleurstel­ling. Van euforie en pyn.

Kon daar ’n beeldskone­r agtergrond gewees het vir 2016 se Olimpiese Spele as Rio? ’n Stad sinoniem met die sensuele samba en lang, lui strande soos Copacabana en Ipanema. Ook van rykdom, en uiterste armoede. Daar waar die Christus-beeld 38 meter hoog en met arms wyd uitgestrek dag en nag wag hou.

Kortom,’n stad “volmaak in sy onvolmaakt­heid”, om die woorde van ’n Bbc-video te herhaal.

Het die “wonderlike stad” ( Cidade maravilhos­a) – hoeka Rio se temalied – ’n wonderlike sukses van dié 31ste Olimpiese “karnaval” gemaak? Ondanks die land se politieke chaos en sukkelende finansies, die gevare van die Zika-virus, besoedelde water en misdaad, slegte kaartjieve­rkope en baie Brasiliane wat glo dat die Spele op die ou end ’n finansiële fiasko vir hul land sal wees.

Hier’s die waarheid: die mensdom se wil om te kompeteer is onblusbaar. In Rio het 27 wêreldreko­rds gespat – waaronder een deur ons eie Wayde van Niekerk wat ’n 17 jaar oue rekord in die 400 m verbeter het. En die planeet se vinnigste manne nóg op grond en in die water, Usain Bolt en Michael Phelps, se Olimpiese prestasies sal nie sommer weer gesien word nie. Ons sal eendag kan sê: ons was daar in gees, ons het die heel grotes, Bolt en Phelps, vir oulaas in Rio in aksie gesien.

Vinniger, sterker, hoër, verder. Daardie wil om onsself fisiek en geestelik tot die uiterste te dryf, die wil om te wen – teen ander en vir onsself – lê diep in ons DNS. Maar is die mikpunt áltyd die goud? Goud tot elke prys?

Die gees van die Olimpiese Spele sê iets anders: “Dit gaan nie oor die wen nie, maar oor die deelneem”; “Dis nie die oorwinning nie, maar die stryd wat saakmaak”. Vir seker is dit die manjifieke vertonings wat die wêreld laat asem ophou en die stadions stilmaak, maar die onthou-oomblikke is die stryd, die deelneem, die storie.

Dit ís die trane van blydskap van die atleet wat sy wedloop voltooi, of brons wen, en nie goud of silwer nie. Dit is Bolt wat ’n Tv-onderhoud onderbreek om Wayde geluk te wens, die 35-jarige swemmer wat ná 16 jaar weer goud losswem ná sy herstel van ernstige depressie,’n 37-jarige ma wat die jonges uitstof en die hoogspring wen, langafstan­datleet Mo Farah wat val, opstaan en eerste oor die wenstreep hardloop. Caster Semenya wat oorwin ondanks wrede wêreldkrit­iek en Chad le Clos wat wéér probeer en silwer huis toe bring nadat hy in sy sterkste nommer tot almal se skok geen medalje inoes nie. Ook die twee vroue-atlete wat struikel, mekaar ophelp en laaste, maar saam, oor die wenstreep hardloop. Dít is hoe ons Rio uiteindeli­k sal onthou.

Die wêreld laat ons glo dit gaan altyd oor wen. Maar ons weet van beter – dit ís die reis en die deelneem wat ons sterker en ryker maak. Van óns sterre maak. Tot ons weer gesels wanneer ons November-uitgawe vanaf 10 Oktober op straat is. Dis ’n reis van ’n heel ander, maar heel stylvolle, aard!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa