Aktief wees verander ons lewe – dis nooit te laat
Draf, bergklim, joga, Pilates . . . daar is ’n sportsoort vir elke smaak. As jy die een vir jou ontdek, kan dit jou lewe verander
Dalk voel jy oor oefening soos baie mense oor Brusselse spruite . . . jy weet dis goed vir jou, maar jy vermy dit.
Maar oefenverslaafdes sê die kruks is om die regte oefening vir jou te ontdek – dan sal daar geen keer aan jou wees nie . . . Kyk net na die oudste driekampatleet ter wêreld, die Amerikaanse non Madonna Buder (87), wat selfs die sportreus Nike geïnspireer het om ’n advertensie oor haar te maak.
“Dis nooit te laat om te begin oefen en die voordele daarvan te ervaar nie. Die liggaam is ’n wonderlike samestelling van elastiese weefsel en biochemie met die vermoë om homself op te bou,” verduidelik Nelia Greeff, ’n biokinetikus van Kaapstad.
As jy nog nie oortuig is nie, kyk net na al die plusse: stap, hardloop, swem en fietsry verlaag jou kans op hartsiektes. Weerstandsoefening, waar jy bv. swaar gewigte optel, help met beendigtheid, spiersoepelheid en dat jou senuweestelsel meer doeltreffend werk. Sport het ook sielkundige voordele, soos die goedvoelhormone wat tydens oefening vrygestel word. Dít hou die brein jonk en gesond en beperk die risiko vir demensie en Alzheimers, volgens Nelia.
Keramiekkunstenaar en opgeleide psigiatriese verpleegster Martine Hulley, dieetkundige Andrea du Plessis en skrywer Riette Rust vertel wat oefening in hul lewe beteken.
‘As ek in die natuur stap, voel ek ek leef’ Martine Hulley, keramiekkunstenaar van Kaapstad
As iemand twaalf jaar gelede vir Martine (54) sou sê sy gaan die vyf dae lange Tsitsikamma-wandelpad aan die Tuinroete of die Walvis-roete naby Bredasdorp aanpak, sou sy lag.
Vroeër het sy ’n bietjie gedraf, die gimnasium besoek en joga gedoen. “Maar toe ek met osteo-artritis gediagnoseer is, moes ek my leefstyl verander.” Sy het ander soorte oefening begin doen, en ’n dieetkundige het raad gegee oor kossoorte wat inflammasie in gewrigte kan veroorsaak.
“My rumatoloog het onlangs ná ’n deeglike ondersoek bevind my vingers kan nie meer doen wat hulle vroeër gedoen het nie. Gelukkig word dit nie vererger deur my keramiekkuns nie, dit help eerder.”
Vandag doen Martine twee keer per week Pilates-oefeninge in ’n intieme klas van sewe. “Ek wil so aktief as moontlik bly en het gevind my soepelheid en krag het reeds merkwaardig verbeter.”
Die afgelope twee jaar het sy ook begin stap. Die lekkerte van staptogte (en Pilates) is jy kan dit op enige ouderdom doen. “Sluit net by ’n groep aan by wie jy kan byhou. In een van my Pilates-klasse is ’n 78-jarige vrou wat dit al jare lank beoefen. Sy is soepel en so sterk soos vroue wat dertig jaar jonger as sy is.”
Martine is verlig dat sy nou die regte dinge doen om die simptome van haar artritis beter te hanteer. “Hoewel ek moeg is wanneer ek klaar is met ’n staptog in die berge, is die reuk van die fynbos en die uitsig iets wat my bybly.”
Die vars lug, oop ruimtes en om weg te wees uit die Kaapse gewoel maak haar rustig. “Dit laat my besef hoe nietig ons is in vergelyking met die heelal. Dit laat my voel ek leef, want al my sintuie is gestimuleer.”
Die kameraderie tussen ’n groep vriendinne in die buitelug is ook vir haar kosbaar. “Ons lag en gesels heerlik.”
Van haar moeilikste staptogte was die een na Twaalfuurkop in die Langeberge by Swellendam. “Dit is 1 420 m hoog en strek oor 17 km, opdraand al die pad en hard op die knieë, maar die fynbos langs die pad maak dit die moeite werd.”
In die Tsitsikamma het hul groep in die oggend wakker geword met sneeu op die bergtoppe. “Dit was ongelooflik koud. Een middag is ons oorval deur ’n reënbui. Sopnat, maar vol energie is ons hutte toe, waar almal se kinders reeds die vure aangesteek het.” Op die Walvisroete was daar die bonus van rotspoele om in te swem, en fantastiese uitsigte.
Martine beplan elke naweek ’n drie tot vier uur lange staptog en leer ken so stukkie vir stukkie die wandelroetes in die Kaapse omgewing. “Halfpad stop ons vir koffie en ’n croissant of ’n Paasbolletjie. Maandae weer stap ek en ’n paar vriendinne minstens twee uur lank met die honde in die Nuweland-woud.”
Oefening het haar geleer sy is sterker as wat sy gedink het, en dit is een van die beste maniere om van stres ontslae te raak.
Toe Martine nog verpleeg het, het sy dikwels pasiënte gesien wat weens erge artritis gehospitaliseer is om pyn te probeer beheer. “Ek onthou hoe hul gesig vertrek het van pyn en die depressie wat daaruit voortgespruit het. Ek wil dit nooit ervaar nie.”
Haar oefenprogram gee haar moed om aktief en gesond te bly, sê sy. >
“Sport verander jou lewe vir altyd.”
Andrea het nie op skool aan sport deelgeneem nie. “Ek spot altyd en sê ek het sepies gekyk vir sport en op universiteit ’n bietjie gestap en om die blok gedraf.”
Onlangs het sy haar grootste droom bewaarheid en die Jonkershoek-berguitdaging – ’n roete van 38 km met stewige opdraandes – voltooi. Sy het ook die derde plek in haar ouderdomsgroep in die Berg & Beach-veldloop oor 30 km op Hermanus behaal en al twee keer die Kaapstad-marathon voltooi.
“Op veertig het ek opgemerk veldwedlope se gewildheid groei. Ek was gereed vir nuwe uitdagings.” Maar ná sy ’n ruk lank geoefen het, het haar knieë so seer geword dat sy moes ophou. Die fisioterapeut het haar boudspiere behandel en die probleme het verdwyn.
Sy het al opgemerk hoe baie vroue wat in hul laat dertigs en veertigs begin draf dit oordoen omdat hulle te geesdriftig is – en ernstige beserings opdoen. Sy reken wel ouer vroue se kopspasie kan langer afstande beter hanteer.
Andrea luister na haar liggaam. Sy draf met voormalige Comradesdrawwers, soggens van vyf tot ses, minstens drie tot vier keer per week. “Dit is wonderlik om vroegoggend te weet jou oefening is gedoen.” Naweke draf sy twee tot vier uur per sessie. Sy maak ook klein aktiwiteite deel van haar daaglikse program, soos om op een been te staan op ’n balansblokkie terwyl sy haar tande borsel.
Sy is passievol oor die voordele van oefening. “My brein is superskerp. Navorsing wys hoe dit help om nuwe breinweefsel te vorm en konsentrasievermoë te verbeter. Dit is ’n vreugde om op mooi roetes in die natuur te draf. My liggaam produseer soveel goedvoelhormone, en jy oefen boonop gratis.”
Selfs wanneer sy alleen in die Jonkershoekvallei digby Stellenbosch draf, voel sy veilig. “Daar is dit altyd besaai met drawwers, stappers en bergfietsryers. Ek draf ook graag in die Banhoekvallei naby my huis, die Helderbergreservaat op Somerset- Wes, Tafelberg en Kogelberg naby Kleinmond. En soms neem ek deel aan wedlope in die Cederberg.”
Sy mik vir die grote voor sy vyftig is: die Otter-veldloop tussen Stormsrivier en Nature’s Valley aan die Tuinroete. Die staproete van 42 km wat oor vyf dae strek, wil sy in ’n dag hardloop. Al is dit net so ver soos ’n marathon, is dit veeleisender.
Dissipline is ’n reuse-uitdaging, maar dit gee haar ’n gevoel van genoegdoening om daarby te hou. “Daar is geen kortpad om fiks te word nie. Jy moet ’n gestruktureerde plan volg, wat ook eise aan my as enkelloper stel. Dit is seker nog moeiliker vir werkende ouers. Hulle kan miskien oorweeg om saam met die gesin te oefen en byvoorbeeld Park Runs te doen.”
Andrea glo jy moet verantwoordelik oefen. “As jy jouself beseer, konsulteer met ’n biokinetikus om ’n gespesialiseerde program uit te werk. Jy kan dit nie self doen nie.”
Draf verbrand hope kilojoules – soveel dat sy soms ekstra grondboontjiebotter moet eet om seker te maak sy verloor nie te veel gewig nie. “Ek kon nog nooit so baie smul aan lekker, gesonde kos nie. Neute, volroomjogurt, donkersjokolade en goeie gehalte brood is deel van my daaglikse dieet. Dit is belangrik dat jy nie te maer is en jou krag verloor nie.”
Kortom: As jy onfiks is, voel jy moeg. Hoe fikser jy is, hoe beter hanteer jy ’n stresvolle dag.
“Ek geniet my leefwyse en gesonde keuses, en ek doen dit vir myself. Dit was nie te laat om te begin met dié intense leefstylverandering nie.”
‘Op 45 is ek fikser en meer energiek as ooit’ Andrea du Plessis, dieetkundige van Banhoek naby Stellenbosch Daar is geen kortpad om fiks te word nie. Jy moet ’n plan volg Andrea
‘Ek is emosioneel veel sterker’ Riette Rust, skrywer en vryskutjoernalis van Welgemoed, Kaapstad
Riette het nog altyd oefening met ’n passie verpes. Maar op vyftig plus het ’n nuwe wêreld vir haar danksy joga oopgegaan. Boonop kan enigiemand dit doen. “Ouderdom speel geen rol nie,” sê sy.
Die Frans-indiese jogameester en skrywer Tao Porchon-lynch was 93 toe sy die Guinness-wêreldrekord as die oudste joga-instrukteur agter haar naam geskryf het, borrel Riette. “Wys jou net wat gedoen kan word.”
Riette doen ’n ding goed, en wanneer sy ’n joga-tydskrif sien, “verorber” sy alles daarin. “Ek google ook gereeld die moeilikste posisies en oefen dit.”
Die afgelope twee jaar is sy deur diep waters. Aanvanklik het sy haar man, JD, verpleeg ná sy hartoperasie en beroerte. Ná sy selfdood het sy haar hele huis restoureer om nie elke keer aan hom herinner te word nie, veral as sy in die kombuis instap, waar hy dood is.
Riette is voltyds besig met haar werk en sielkundestudies, maar “ek het joga begin doen omdat ek nog altyd wou. Die laaste keer dat ek joga beoefen het, was ek maar sewentien. Ek het ook gesien hoe my oudste, Zahn (31), se lyf al hoe mooier en sy al hoe kalmer word danksy joga.”
Vandeesmaand is dit al sewe maande sedert sy joga haar maat gemaak het. Sy doen hatha-joga, wat fokus op die sentrale senuweestelsel (die brein en ruggraat), longe en kliere wat hormone vervaardig. “Dit verbeter ook beendigtheid, verlaag jou bloeddruk en verlig angs en stres. Ek is blakend gesond en steek nie sommer aan tussen mense met verkoue nie.”
Sy doen een keer per week ’n uur lange sessie by ’n ateljee, maar wil dit binnekort tweeweekliks begin beoefen. “Ek fokus so dat ek ’n wyle nie aan my man se dood dink nie. Danksy joga is ek emosioneel sterker en hanteer die uitdagings van die lewe baie beter. Ek het meer selfvertroue en meer selfaanvaarding.”
Sy geniet die stilte en om teen haar eie pas te oefen. “Joga anker my. Ek is meer spiritueel, maar die grootste wanpersepsie is dat jy vreemde gode aanbid. Glád nie. Dit help my om JD se dood te hanteer. Ek het al deur ’n hele klas gehuil en niemand het eens vir my gekyk nie. Die instrukteur, Claire Celliers, het sonder drama ’n snesie in my hand gestop. Ek dink ook meer bewustelik oor wat ek eet en slaap beter.”
Joga het haar geleer om haar nie oor môre of gister te bekommer nie. “Dit maak my gelukkig om in die ‘nou’ te leef.” Sy klim lankal nie meer op ’n skaal nie, maar almal sê sy lyk goed. “My liggaam het ’n beter vorm as vroeër en my klere sit losser.”
Riette is soepel gebore. Sy vertel haar ouma Harriet, van wie sy haar naam kry, was al bejaard toe sy nog op ’n leer geklim en haar huis geverf het. Sy kon ook op haar kop staan.
Sy gee toe joga is soms uitdagend. “Maar hoe meer jy oefen, hoe beter kry jou liggaam dit reg om moeilike posisies in te neem sonder dat jy van spanning kreun. Jy moet net eers opwarm.”
As sy ná joga gestort het, voel sy soos Mej. Suid-afrika, sê Riette. “Jy het soveel energie dat jy die wêreld wil verower!”