Flitsverhaal: My 3D Valentyn deur Sanet Taljaard
Dietydsberekening van die hele besigheid is verkeerd.
Dit was juis in die tyd toe Sarita haar houthuisie aan die kus Nirwana gedoop het. Die saligheid om vriendelike geselskap vir jouself te wees gebeur nie oornag nie.
Sarita is 49 en nege jaar geskei. Aanvanklik het sy haar tuin obsessief vol petunias geplant. Dit was ’n poging om haar eks se verbale mishandeling te smoor. Net ná die egskeidingsbevel kom gil hy ’n paar keer oor die heining terwyl sy onverstoord persblou petunias plant.
Dis die ding met Julius wat so onverwags was. Sy het hom ’n jaar gelede by een van Marnus se eiesoortige braaie ontmoet. Julius se fokus was toe net op sy kitaar. Hy hanteer die instrument soos ’n vrou en streel lieflike klassieke klanke uit haar uit.
“Julius Potgieter, alias Caesar, oorwin die seë,” lig Marnus sy kuiergaste in. “Hy’s ’n It-ingenieur en was pas drie maande op ’n skip. Nou rus hy weer vir drie maande. Gelukkige blikskottel!”
Julius se stories en wanderlust lê blykbaar die hele oseaan vol en word vertel deur ’n hele paar skoonhede wat halfpad om die wêreld vaar, onder wie die Oceania Marina, Sapphire Princess en Island Princess.
Soos altyd kry Marnus ’n manier om sy gaste se aandag op sy skilderye te vestig. Hy pluk die swart doek dramaties van die nuutste onvoltooide een af. Ou laai. Hy’s mal oor die reaksie. Julius hou op kitaar speel. Sy bewondering is opreg. “Marnus, hierdie ene móét jy klaarmaak.” Almal weet Marnus se surrealistiese skilderye bly meesterstukke in wording. Daarom is die alleenloper-kunstenaar met sy welige baard brandarm, want hy vrees sukses meer as mislukking. Sarita het al vermoed Marnus wou haar soen. Maar sukses in ’n verhouding sou hom angsbevange maak.
Julius se desperaatheid het haar gevlei. Eers nooi hy haar uit as ’n vriend op Facebook. Toe volg die teksboodskappe:
Hallo Sarita, gaan sommer met die deur in die huis val. Ek wil jou uitvra vir fliek. Weet dis uit die bloute. Maar ek het nog altyd van jou gehou en dink dis die moeite werd om ten minste te vra? Groete Julius
Sy reageer nie op Julius se boodskap nie. Hy is immers 33 jaar oud, net ’n paar jaar ouer as haar seun. Toe volg die volgende boodskap:
Hi Sarita, het vroeër ’n boodskap gestuur maar is nie seker of jy dit ontvang het nie. Ek stuur weer.
Die eerste boodskap volg weer. Viér keer in haar inboks en viér keer op Whatsapp. Wanneer laas het iemand agter haar aangehol? Wanneer laas was sy op ’n regte date?
Die lewe gebeur in slow motion. Sy lê in die bad en word ’n tiener. Sy gil saam met Alice Cooper. You’re poison runnin’ through my veins You’re poison, I don’t wanna break these chains . . . Haar gunsteling-tannie, tannie Maggie, praat in haar kop terwyl sy make-up aansit: “Isn’t it wonderful what a little bit of make-up can do?”
Dan antwoord sy: “Auntie Maggie, beauty is but the spirit breaking through the flesh.”
Om verruklik te lyk moet jy sexy voel. Sy gooi al haar onderklere op die bed op soek na die kantbra en satynbroekie.
“Ma lyk vir my die beste in daai skinny jeans en wit bloes met die gate op die skouers,” sê haar dogter altyd. Dit vergemaklik haar keuse voor die hangkas. Danksy banting lyk haar lyf goed. Haar hande bewe toe sy die leerstewels aantrek.
Sy voel soos ’n maagd voor die eerste huweliksnag. Maak die feit dat sy nog nie weer saam met enige man was sedert haar egskeiding haar nie onskuldig nie?
Sy gryp haar selfoon en stuur ’n boodskap aan ’n wellustige vriendin wat nie maklik sal oordeel nie.
Hi! Ek’s in die moeilikheid. Het ’n fliek-date met ’n man 16 jaar jonger as ek??
Die wulpse vriendin se spoedige reaksie is ’n foto. Dis ’n agterskoot van drie kaal mans met ferm boudjies. Hulle het net tekkies aan. Onderaan staan geskryf: Kyk die mooi tekkies.
Julius se tweedeur-sportmotortjie hou stil voor haar huis, die dak afgeslaan. Sy gryp ’n vlamkleurige serp om haar hare weg te bind en sit ’n groot sonbril op. Hy groet opgewek en die oeroue ritueel begin: ’n Bos wit rose kom van agter sy rug te voorskyn. Dis te goed om waar te wees.
Maar sy slurp die aandag op soos ’n blommetjie wat lanklaas water gekry het. Hy kyk na haar met bewondering.
“Dankie dat jy my ’n kans gee. Ek’t nie gedink jy sou nie. Jis, jy’s mooi.”
Hy glimlag wyd en ongeveins. ’n Nuanse olyfkleur gee die bruinheid van sy oë ’n katgevoel. Met sy effense plomp bou straal hy die hartlikheid uit van mense wat daarvan hou om te eet. Sarita lag. “Ek’s ’n óú fliekvlooi. Wat gaan ons kyk?” “Ek hoop jy gaan daarvan hou. The Jungle Book. Dis ’n 3D-fliek. Die resensies was . . .”
Die gevoel dat sy saam met een van haar seun se pelle gaan fliek, verdwyn genadiglik. Die Toyota MR2 dreun. Met die wind deur haar hare en die eighties- musiek wat hy speel, raak alle besware nietig.
Hy hou stil by Die Smulpaap, ’n eetplek langs die see, bekend vir sy watertand-mosselpot en varsgebak. Julius smeer ’n sny bakkersbrood van hoek tot kant met regte botter. Hy rond dit af met ’n hopie appelkooskonfyt en gee vir haar aan.
Wanneer laas het iemand vir haar ’n broodjie gesmeer? Hy kyk hoe sy die brood geniet en begin vertel.
“Die lekkerste croissant wat ek in my lewe geniet het, was in Parys.” Hy skink vir haar wyn. “In ’n jeugherberg maak ek pelle met die mense van Parys. Ná ’n wilde gekuier tot vieruur die oggend in die nagklubs en kroeë stap ek langs die Seine af. Het jy geweet die bakkerye in Parys begin al vieruur bak? Op pad na die jeugherberg maak die geure uit die bakkersoonde my honger. Ek ruik vars koffie. Daai hap aan ’n varsgebakte croissant en die eerste sluk koffie! Dis ’n orgasmiese ervaring. ’Skuus dat ek nou so praat.”
Hy vertel van sy eerste oorsese reis na Israel waar hy as visserman op die See van Galilea gewerk het.
Soos hy praat, word sy deel van die ritueel op die dorpsplein in Saint-rémy-de-provence. Sy het ’n piekniekmandjie met brood en wyn en gaan sit saam met die mense op ’n lappieskombers vir die Vrydagaandfilm wat teen die dorpsmuur vertoon word.
Hulle verdwaal in ’n labirint van vreemde sprokies in verre lande en moet jaag om betyds by The Jungle Book uit te kom.
“Kom ons sit hier heel agter,” beduie hy en hou ’n groot boks springmielies tussen hulle.
Sy sit haar fliekbril op om driedimensioneel te sien en voel Julius se hand om haar enkel. Hoe het haar stewel uitgekom?
Terwyl sy hand voel-voel oor haar kuit, fluister hy: “Ek is seker daai Michelangelo moes só aan ’n vrou gevat het voor hy daardie beelde kon skep.”
Sy feite is deurmekaar. Michelangelo het meer belang by die fisieke bou van ’n man as ’n vrou gehad. Sy sien prentjies van ’n paar sensuele manlike engele en die kaal Dawid-beeld. Il divino, The divine one. Julius se hande is divine. Haar vel juig oor die aanraking. ’n Calvinistiese opvoeding pootjie mens soms wanneer jy dit die minste verwag. Dalk het die waninterpretasie van Julius oor Michelangelo se beelde die ongemak veroorsaak. Of die feit dat sy altyd die rol van Maria vertolk in die plaaslike Passiespel. Michelangelo se klassieke Pietà, die beeld van Moeder Maria met Jesus op haar skoot, laat haar besef sy speel met vuur.
Die probleem is dat haar lyf nie heeltemal seker is hoe om die vlam geblus te kry nie. Dis immers haar keuse om kliphard saam te vry op die agtersitplek van die fliek. Springmielies lê die hele wêreld vol. Haar een stewel het sy reeds verloor en sy weet nie wat van die 3D-bril op haar kop geword het nie. Sy weet nie watse fliek hulle kom kyk het nie. Julius praat in haar oor: “Jy is, jy is . . . so, so . . . dis die moeilikheid.”
Die eerste flikkersoentjie het lankal ’n koorsagtige vuur geword. Niks maak meer saak nie. Die ligte gaan aan en die fliek is verby.
Was dit Marnus se gesig of Julius se woorde wat haar soos ’n emmer water tref? Nie sy of Julius het Marnus in die fliek opgemerk nie. Hy staan skielik reg langs hulle in die fliekpaadjie. Sarita duik onder die sitplek in om haar stewel te soek en stamp haar kop teen die sitplek toe Julius sê: “My magtig, Marnus! Ek’t jou gesê dis ’n sexy tannie dié.” Sarita vlieg onder die sitplek uit. “Tannie?” Julius kyk haar verskrik aan. “Vrou. Ek bedoel sexy vrou.” Sy vat die houer springmielies raak en keer dit uit op Julius se kop. Marnus storm by die fliek uit.
Sy gelag laat die hele gebou se mure kraak.